hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25 Die Boodskap (DB)

1. Dit was in die negende jaar wat Sedekia regeer het. Op die tiende dag van die tiende maand het Nebukadnesar met sy hele leër by Jerusalem opgedaag en die stad omsingel. Die inwoners is van die buitewêreld afgesny.

2. Hulle het die stad byna twee jaar lank so beleër.

3. Teen die negende dag van die vierde maand van die elfde jaar wat Sedekia regeer het, was daar glad nie meer kos vir die mense nie.

4. Dié nag is daar ’n gat deur die stadsmuur gebreek en die soldate het probeer vlug. Al het hulle geweet dat die Babiloniese soldate die stad omring, het hulle in die rigting van die Jordaanrivier probeer wegkom.

5. Die Babiloniese soldate het hulle egter agtervolg en die koning op die vlakte by Jerigo ingehaal en gevang.

6. Teen daardie tyd was sy hele leër al versprei soos hulle probeer vlug het. Sedekia is toe na die koning van Babel in Ribla geneem. Hulle het hom net daar verhoor.

7. Hy moes kyk hoe sy seuns doodgemaak word en toe is sy oë uitgesteek. Daarna is hy met ’n ketting vasgemaak en na Babel toe weggevat.

Jerusalem en die tempel word vernietig

8. Nebusaradan, een van Nebukadnesar se offisiere en vertrouelinge, is gestuur om Jerusalem te gaan vernietig. Dit was op die sewende dag van die vyfde maand in die negentiende jaar wat Nebukadnesar regeer het.

9. Hy het die tempel en die paleis en elke groot gebou in die stad begin afbrand.

10. Sy soldate het Jerusalem se hele stadsmuur van ’n kant af omgegooi en afgebreek.

11. Die res van die mense in Jerusalem, almal wat nog in die stad oor was en dié wat voorheen na die Babiloniërs oorgeloop het, is deur Nebusaradan na Babel toe weggevoer.

12. Net ’n paar van die armstes het in die land gebly om op die lande en in die wingerde te werk.

13. Die soldate het al die brons in die tempel bymekaargemaak. Hulle het die bronspilare, die bronswaterkarretjies en groot bronswaterbak opgebreek en die metaal Babel toe gevat.

14. Dieselfde het gebeur met die kleiner bronsvoorwerpe, soos die potte, grawe, skêre, panne en ander gereedskap wat in die tempel gebruik is.

15. Hulle het ook die vuurbakke en komme buitgemaak wat van suiwer goud en silwer gemaak is.

16. Die brons wat hulle van die tempel af weggeneem het, is vroeër deur koning Salomo vir die tempel laat maak. Dit was sóveel dat dit nie geweeg kon word nie.

17. Om ’n voorbeeld te noem: die twee pilare was elk agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was een en ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate wat bo-op die kapitele was, was net van brons gemaak.

18. Nebusaradan het nog ’n klomp mense in Jerusalem gevange geneem. Onder hulle was die hoëpriester Seraja en die priester volgende in rang, Sefanja, asook drie deurwagte van die tempel.

19. In die stad het hy ook die offisier gevang wat in bevel van die soldate was, saam met vyf vriende van die koning en die hoof van die leër se sekretaris wat soldate moes oproep, asook ’n verdere 60 burgers.

20. Hy het hulle almal as gevangenes na die koning van Babel in Ribla geneem

21. wat hulle net daar laat doodmaak het.Só is die hele Juda in ballingskap uit hulle land uit weggevoer.

Gedalja regeer as goewerneur

22. Nebukadnesar het Gedalja aangestel as goewerneur oor die mense wat hy toegelaat het om in Juda agter te bly.

23. Toe die offisiere en soldate hoor dat Gedalja aangestel is, het hulle na hom toe gegaan waar hy in die dorp Mispa was. Die betrokke leiers was Ismael, Joganan, Seraja en Jaäsanja.

24. Gedalja het hulle verseker dat hulle veilig was. Hy het gesê: “Moenie bang wees vir die amptenare uit Babel nie. Bly in die land en wees gehoorsaam aan die koning van Babel. Dan sal alles goed gaan.”

25. Ismael, wat ’n lid van die koninklike familie van Juda was, het in die sewende maand Mispa toe gegaan. Hy het tien manne by hom gehad. Hulle het Gedalja en die klompie Judese en Babiloniese amptenare by hom vermoor.

26. Daarna het al wat Judeër is, belangrik en onbelangrik, asook die leëroffisiere Egipte toe gevlug. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs met hulle sou doen.

’n Greintjie hoop

27. In koning Jojagin se 37ste jaar as gevangene in Babel het Ewil-Merodak koning van Babel geword. Op die 27ste dag van die twaalfde maand het hy Jojagin begenadig. Hy het hom uit die tronk vrygelaat,

28. vriendelik met hom gesels en hom beter behandel as die ander gevange konings.

29. Hy het vir Jojagin nuwe klere in plaas van sy tronkklere gegee en hom vir die res van sy lewe aan die koninklike tafel laat eet.

30. Hy het ook permanent ’n toelaag vir sy daaglikse behoeftes van die koning van Babel ontvang.