hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 24 Die Boodskap (DB)

1. Gedurende Jojakim se regering het Nebukadnesar Juda aangeval. Jojakim het hom drie jaar lank aan Nebukadnesar onderwerp. Daarna het hy teen Babel gerebelleer.

2. Toe het die Here bendes Babiloniërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete gestuur om Jojakim aan te val. Hy het hulle gestuur om Juda te vernietig, presies volgens die waarskuwings wat Hy deur die profete gestuur het.

3. Die Here het self besluit dat Juda moes verdwyn. Dit was as gevolg van die ontsettende sondes wat Manasse gedoen het.

4. Hy het onder meer ’n klomp mense onskuldig doodgemaak sodat die bloed vrylik in Jerusalem gevloei het. Die Here wou al dié dinge nie vergewe nie.

5. Die res van Jojakim se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

6. Ná Jojakim se dood het sy seun Jojagin in sy plek koning geword.

7. Die koning van Egipte het na dié tyd nooit weer buite Egipte opgetree nie, want die koning van Babel het die hele gebied tussen die Egiptespruit en die Eufraatrivier beset wat voorheen deur Egipte beheer is.

Koning Jojagin van Juda

8. Jojagin was agtien toe hy koning geword het en hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Negusta, ’n dogter van Elnatan uit Jerusalem.

9. Die Here was nie tevrede met wat Jojagin gedoen het nie. Hy het sy pa se swak voorbeeld gevolg.

10. In dié tyd het die leër van Nebukadnesar, die koning van Babel, Jerusalem aangeval en van die buitewêreld afgesny.

11. Toe Nebukadnesar self by die stad aankom,

12. het Jojagin oorgegee. Hy en sy ma, die koningin-moeder, en sy lyfwag, sy belangrikste amptenare en offisiere het uitgegaan en hulle is gevang. Dit was in die agtste jaar wat Nebukadnesar regeer het.

13. Net soos die Here vroeër gesê het, het die koning van Babel Jerusalem beroof. Hy het al die skatte in die tempel en die paleis bymekaargemaak. Hy het ook die goud afgehaal van die voorwerpe wat koning Salomo jare tevore reeds vir die tempel laat maak het.

14. Nebukadnesar het ook die mense van Jerusalem weggeneem. Hy het 10 000 mense gevang en as gevangenes weggevoer: die amptenare en beste soldate, maar ook die vakmanne wat hy kon gebruik. Net die armste mense het in die land agtergebly.

15. Nebukadnesar het koning Jojagin, sy ma en sy vroue en al die belangrike mense van Jerusalem na Babel toe weggeneem.

16. Hy het ook 7 000 soldate en 1  000 vakmanne saamgeneem, almal fiks en bruikbaar in sy leër.

17. Hy het toe vir Mattanja, ’n oom van Jojagin, in Jerusalem koning gemaak en sy naam verander na Sedekia.

Koning Sedekia van Juda

18. Sedekia was 21 toe hy koning geword het en hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, ’n dogter van Jeremia uit Libna.

19. Die Here was nie tevrede met wat Sedekia gedoen het nie. Hy het net dieselfde dinge as Jojakim gedoen.

20. Die Here was woedend vir Juda en Jerusalem en Hy wou hulle net voor sy oë wegvee.Sedekia het teen die koning van Babel in opstand gekom.