hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 13 Die Boodskap (DB)

Koning Joahas van Israel

1. In die 23ste jaar wat koning Joas in Juda regeer het, het Joahas, die seun van Jehu, koning in Israel geword. Hy het sewentien jaar lank in Samaria regeer.

2. Die Here was nie tevrede met Joahas se optrede nie. Hy het aangehou met die sonde wat Jerobeam Israel laat doen het.

3. Daarom het die Here se woede Israel getref, want Hy het toegelaat dat Gasael, die koning van Aram, en sy seun Ben-Hadad Israel gereeld verslaan.

4. Joahas het by die Here gepleit om hulp. Die Here het sy gebed verhoor, want Hy kon sien hoe erg die Arameërs Israel verdruk.

5. Die Here het vir Israel ’n redder gegee wat hulle van die Aramese onderdrukking kon verlos. Daarna kon hulle weer soos vroeër in vrede lewe.

6. Hulle het egter aangehou met die sonde wat by Jerobeam begin het. Hulle het selfs die Asjerabeeld in Samaria laat bly staan.

7. Uiteindelik het Israel se leër gekrimp tot ’n skamele 50 ruiters, tien strydwaens en 10 000 voetsoldate. Die Arameërs het die ander doodgemaak en die leër van Israel soos stof vertrap.

8. Die res van Joahas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

9. Na sy dood is hy in Samaria begrawe en sy seun Joas het hom opgevolg.

Koning Joas van Israel

10. In die 37ste jaar van koning Joas van Juda se regering het Joas, die seun van Joahas, koning in Israel geword. Hy het sestien jaar lank in Samaria regeer.

11. Die Here was nie tevrede met Joas se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam Israel laat doen het.

12. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

13. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe en Jerobeam II het hom opgevolg.

Elisa se laaste profesie en sy dood

14. Toe Elisa dodelik siek aan sy laaste siekte gelê het, het koning Joas van Israel na hom toe gekom. Joas het gehuil en vir Elisa gesê: “My vader! My vader! U is vir Israel soos ’n strydwa met sy ruiters!”

15. Elisa het vir hom gesê: “Vat jou pyl en boog.” Die koning het dit gedoen

16. en toe sê Elisa: “Sit nou jou hande op die boog.” Hy het dit ook gedoen. Toe sit Elisa sy hande bo-oor die koning se hande.

17. Daarop sê Elisa: “Maak die venster na die oostekant toe oop!” Die koning het dit gedoen. Toe sê Elisa: “Skiet!” Toe hy geskiet het, sê Elisa: “Dit is die Here se pyl van oorwinning oor Aram, want jy sal die Arameërs volkome by Afek verslaan.

18. Vat nou die ander pyle en slaan hulle teen die grond.”Die koning het die pyle gevat en drie keer teen die grond geslaan.

19. Dit het Elisa kwaad gemaak en hy het vir die koning gesê: “Jy moes ten minste vyf of ses keer teen die grond geslaan het! Dan sou jy die Arameërs behoorlik verslaan het. Nou sal jy hulle net drie keer verslaan.”

20. Daarna is Elisa dood en hulle het hom begrawe.Bendes uit Moab het Israel elke lente binnegeval.

21. Eenkeer was ’n klompie Israeliete besig om ’n man te begrawe toe hulle een van die bendes opmerk. Hulle het die lyk toe sommer in Elisa se graf gegooi. Toe sy liggaam aan Elisa se bene raak, het hy lewendig geword en opgestaan!

Elisa se laaste profesie word waar

22. Koning Gasael van Aram het Israel gedurende Joahas se hele regeringstyd onderdruk.

23. Maar die Here was die Israeliete genadig sodat hulle nie heeltemal vernietig is nie. Hy het hulle ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob jammer gekry en tot nog toe nie vernietig en verwerp nie.

24. Gasael, die koning van Aram, is dood en sy seun Ben-Hadad het hom opgevolg.

25. Joas, die seun van Joahas, het die Israelitiese stede van Ben-Hadad teruggeneem wat Ben-Hadad se pa Gasael vroeër van Joahas verower het. Joas het Ben-Hadad drie keer verslaan en só die stede van Israel teruggeneem.