hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 21 Die Boodskap (DB)

Koning Manasse van Juda

1. Manasse was twaalf toe hy koning geword het en hy het 55 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Gefsiba.

2. Die Here was glad nie tevrede met wat Manasse gedoen het nie. Hy het weer die verskriklike dinge gedoen wat die mense wat voor die Israeliete in die land gewoon het, altyd gedoen het.

3. Hy het:die heidense heiligdomme wat sy pa Hiskia verwoes het, weer gebou;altare vir die god Baäl gebou;Asjerastompe gemaak, net soos Agab, Israel se koning, voorheen gedoen het;die hemelgode vereer;

4. selfs binne-in die Here se tempel altare vir afgode gebou, in Jerusalem (dit is die plek waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: “Ek vestig my Naam in Jerusalem”);

5. in albei portale van die tempel altare vir die hemelgode gebou;

6. sy seun in die vuur geoffer;goëlery, waarsêery en towerkunsies beoefen; die toekoms voorspel deur geeste op te roep.Hy het verskriklike dinge gedoen wat die Here baie kwaad gemaak het.

7. Een van die dinge is dat hy die Asjerastomp wat hy laat maak het, binne-in die Here se tempel laat opsit het. Dit is die plek waarvan die Here jare tevore al vir Dawid en Salomo gesê het: “Ek kom woon vir altyd hier in Jerusalem en in dié tempel. Ek het dié plek uitgesoek tussen al die plekke waar daar Israeliete woon. Ek bly daar vir altyd.

8. As die Israeliete alles doen wat Ek vra en optree volgens die wet wat hulle by Moses, my boodskapper, geleer het, sal Ek hulle vir altyd hier in die land laat woon wat Ek vroeër al vir hulle oupas en oumas gegee het.”

9. Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle mislei om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat vir die Israeliete plek moes maak toe hulle in die land kom woon het.

10. Die Here het toe deur die profete wat vir Hom gewerk het, gesê:

11. “Koning Manasse van Juda het verskriklike dinge gedoen. Hy is selfs slegter as die Amoriete wat voor die Israeliete in die land gewoon het. Hy het sy mense geleer om goed te vereer wat nie gode is nie.

12. Daarom het die Here besluit:Ek gaan sulke verskriklike dinge met Jerusalem en Juda laat gebeur dat mense wat dit hoor, nie sal kan glo wat hulle hoor nie;

13. Ek sal met Jerusalem doen wat Ek met Samaria en met die koningshuis van Agab gedoen het;Ek sal Jerusalem uitvee soos ’n mens met ’n vuil skottel maak en hom omkeer;

14. Ek sal die paar mense wat van my volk oorbly, aan hulle vyande oorgee om besteel en uitgeroei te word,

15. omdat hulle aangehou het om verkeerde dinge te doen. Hulle het My bly uitdaag sedert hulle oupas en oumas uit Egipte weg is en hulle doen dit vandag nog steeds.”

16. Manasse het bo en behalwe die verkeerde dinge wat hy Juda laat doen het en waaroor die Here so kwaad was, ook nog onskuldige mense laat vermoor. In Jerusalem het die bloed vrylik gevloei.

17. Die res van Manasse se geskiedenis en die sonde wat hy gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

18. Ná sy dood is hy in die tuin van Ussa, ’n deel van die paleistuin, begrawe. Sy seun Amon het in sy plek koning geword.

Koning Amon van Juda

19. Amon was 22 toe hy koning geword het en hy het twee jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Mesullemet, ’n dogter van Garus uit Jotba.

20. Die Here was nie tevrede met wat Amon gedoen het nie, net soos die Here nie tevrede was met sy pa, Manasse, se optrede nie.

21. Hy het sy pa se voorbeeld in alle opsigte gevolg en ook die afgode vereer.

22. Hy het hom glad nie aan die Here gesteur nie en niks gedoen wat die Here van hom verwag het nie.

23. ’n Paar van sy amptenare het toe teen hom saamgesweer en hom in die paleis vermoor.

24. Die mense van die land het egter die moordenaars gevang en tereggestel. Hulle het toe Amon se seun Josia in sy plek koning gemaak.

25. Die res van Amon se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

26. Ná sy dood is hy in die tuin van Ussa begrawe. Sy seun Josia het in sy plek koning geword.