hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6 Die Boodskap (DB)

Elisa laat ’n byl op die water dryf

1. Die profete het eendag vir Elisa gesê: “Die bymekaarkomplek waar ons u ontmoet, is nou te klein.

2. Kan ons langs die Jordaanrivier gaan hout kap? As elkeen ’n paar balke bring, kan ons ’n nuwe plek bou waar ons bymekaar kan kom.”Elisa het vir hulle gesê: “Gaan gerus!”

3. Een van hulle het egter gesê: “Maar u moet saam met ons kom!” “Nou goed,” het hy geantwoord, “ek kom saam.”

4. Hy is toe saam met hulle rivier toe en hulle het die bome begin afkap.

5. Terwyl hulle werk, het een se byl van die steel losgeraak en in die water geval. “Ag, Meneer,” het hy gekerm, “dit was ’n geleende byl!”

6. Elisa het gevra: “Waar het die byl in die water geval?” Toe hy vir Elisa die plek wys, het Elisa ’n stok afgesny en dit daar in die water gegooi. Die byl het op die water begin dryf

7. en Elisa het vir die man gesê: “Haal dit nou maar uit.”Die man het sy hand uitgesteek en die byl uit die water gehaal.

Elisa maak vrede tussen die Arameërs en Israel

8. Die Arameërs was in ’n oorlog met Israel gewikkel. Dit het telkens gebeur dat die Aramese koning met sy bevelvoerders vergader het en dat hulle besluit het om op ’n sekere plek aan te val.

9. Dan het Elisa dadelik ’n boodskap na Israel se koning gestuur om hom te waarsku oor die betrokke plek. Hy sou vir hom laat weet: “Vermy hierdie plek, want dit is waar die Arameërs julle gaan aanval.”

10. Die koning sou dan dadelik ’n boodskap na die betrokke plek toe stuur om die mense daar te waarsku om versigtig te wees.Dit het ’n hele paar keer gebeur.

11. Die Aramese koning het al hoe onrustiger geraak omdat hulle geheime so uitgelek het. Hy het die leiersgroep byeengeroep en gesê: “Dis duidelik dat iemand uit die binnekring ons geheime aan die Israeliete verklap. Ek eis om te weet wie dit is!”

12. “Dis nie een van ons nie, o koning,” het een van die offisiere geantwoord. “Dis Elisa, die profeet van Israel, wat alles weet. Hy kan selfs vir sy koning vertel wat u in u slaapkamer sê!”

13. “Nou gaan kyk waar hy is,” het die koning gesê, “sodat ons hom kan vang.”Hulle het vir die koning laat weet dat Elisa in die dorp Dotan is.

14. Toe het die Aramese koning op ’n dag ’n klomp soldate met perde en strydwaens na Dotan toe gestuur. Hulle het in die nag daar aangekom en die dorp omsingel.

15. Die volgende oggend vroeg is Elisa se assistent uit buitentoe. Hy kon sy oë nie glo nie! Reg rondom die stad het daar Aramese soldate, strydwaens en perde reggestaan om te veg. Hy het ingestorm en bang uitgeroep: “Ag tog, Meneer! Wat gaan ons nou doen?”

16. Elisa het geantwoord: “Moenie bekommerd wees omdat hulle so baie is nie. Dié aan ons kant is baie meer as hulle soldate!”

17. Elisa bid toe: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy ook kan sien wat ek sien.” Skielik het die assistent gesien dat die heuwels rondom Elisa vol perde en strydwaens van vuur was.

18. Toe die Aramese soldate vir Elisa bestorm, het hy gebid: “Here, maak hulle asseblief blind!” En die Here het dit gedoen.

19. Elisa sê toe vir die klomp soldate: “Julle is op die verkeerde pad. Hierdie is nie die stad wat julle soek nie. Volg my, dan neem ek julle na die man toe wat julle soek.” Elisa het hulle toe reguit na Samaria toe gelei.

20. Daar aangekom, het Elisa weer gebid: “Here, laat hulle weer sien, asseblief.” Toe hulle hulle oë oopmaak, was hulle in die middel van die stad Samaria!

21. Die koning van Israel was stomverbaas en het vir Elisa gevra: “My vader, moet ek hulle almal doodmaak?”

22. “Natuurlik nie!” het Elisa geantwoord. “Jy sal tog nie krygsgevangenes wat jy gevang het, sommer doodmaak nie. Nee, gee vir hulle iets om te eet en te drink en stuur hulle terug na hulle koning toe.”

23. Die koning het toe vir hulle ’n groot ete voorberei. Toe die Aramese soldate klaar geëet het, het hy hulle na hulle koning toe laat teruggaan. Daarna het die Aramese bendes opgehou om rooftogte op Israelitiese grondgebied uit te voer.

Hongersnood in die beleërde Samaria

24. ’n Ruk later het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër opgeroep. Hulle het na Samaria toe opgetrek en die hele stad lamgelê.

25. ’n Verskriklike hongersnood het geleidelik as gevolg van die beleg ontstaan. Dit was só erg dat ’n donkiekop later byna ’n kilogram silwer en ’n skeppie duiwemis meer as 50 gram silwer gekos het.

26. Eendag het die koning van Israel op die stadsmuur gaan stap om te sien wat in die stad aangaan. ’n Vrou het hom gesien en uitgeroep: “U Majesteit, help my, asseblief!”

27. “As die Here jou nie help nie, hoe kan ek help? Ek het nie meel of wyn nie, daar is niks nie!” het hy geantwoord.

28. Maar toe vra hy haar: “Waarmee kan ek help?”“In my saak teen dié vrou, o koning,” het sy geantwoord. “Sy het gesê: ‘Kom ons eet jou seun vandag, dan kan ons môre myne gaarmaak.’

29. Ons het my seun toe eerste geëet, maar toe ek die volgende dag vir haar sê: ‘Maak nou jou seun dood, dat ons kan eet,’ het sy haar kind weggesteek.”

30. Die koning was verskriklik ontsteld toe hy haar storie hoor. Hy het sy klere stukkend geskeur as teken van sy ontsteltenis. Toe hy verder loop, kon die stad se mense sien dat hy ’n growwe roukleed onder sy klere aangehad het.

31. “God kan my maar doodmaak as ek nie vandag nog vir Elisa doodmaak nie,” het hy ontsteld verklaar.

Elisa kondig die einde van die hongersnood aan

32. Elisa het op daardie tydstip saam met ’n groep leiers in sy huis gesit. Die koning het ’n boodskapper na hom gestuur om hom te laat roep. Nog voordat die boodskapper egter by die huis aangekom het, het Elisa vir die mense by hom gesê: “Pas op! Ons koning, die seun van ’n moordenaar, het iemand gestuur om my dood te maak. Sorg dat die deur toe is as hy hier kom sodat hy nie kan inkom nie. Die koning is self te voet hierheen op pad. Ek sal met hom praat.”

33. Hy was nog besig om te praat toe dit gebeur. Die koning het Elisa toegesnou: “Dit is die Here self wat hierdie ellende oor ons laat kom het! Hoe kan ek nog langer hoop dat Hy ons moet red?”