hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 10 Die Boodskap (DB)

Jehu wis Agab se hele familie uit

1. Daar het 70 prinse uit Agab se familie in Samaria gewoon. Jehu het vir die leiers in Samaria en vir die mense wat die prinse grootgemaak en geleer het ’n brief geskryf. Hy het geskryf:

2. “Die koning se seuns is almal by julle en julle het strydwaens, perde, wapens en ’n versterkte stad tot julle beskikking.

3. Kies nou die beste kandidaat uit die seuns as sy pa se opvolger. Maak dan reg om Agab se koningshuis te verdedig.”

4. Die leiers was baie bang vir Jehu en het vir mekaar gesê: “Hy het nou al klaar twee konings doodgemaak. Hoe sal ons ooit teen hom kan wen?”

5. Hulle het eenparig vir Jehu laat weet: “U kan maar sê wat ons moet doen en ons sal dit doen. Ons wil nie een van die seuns koning maak nie. U is nou ons leier en ons wag op u bevele.”

6. Jehu skryf toe ’n tweede brief en sê vir die leiers: “As julle regtig aan my kant is, maak dan al die prinse dood en kom môre na my toe. Maar bring die koppe saam, dat ek kan sien dat hulle regtig dood is. Die seuns was tuis by leiers wat hulle moes opvoed.”

7. Toe die leiers die brief kry, het hulle gedoen wat Jehu geëis het. Hulle het al 70 die prinse doodgemaak, elkeen se kop afgekap en in mandjies gesit en na Jehu in Jisreël toe gestuur.

8. Daar het toe boodskappers vir Jehu kom sê: “Die leiers van Samaria het die koppe van die 70 prinse hier laat aflewer.” “Dis goed so,” het Jehu geantwoord. “Pak hulle nou op twee hope buite die stadspoort en los dit tot môre daar.”

9. Die volgende oggend het Jehu buite die stadspoort met die mense wat daar saamgedrom het, gaan praat. Hy het vir hulle gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ék wat teen die koning in opstand gekom het en ék wat hom doodgemaak het. Maar wie het hierdie klomp mense doodgemaak?

10. Julle moet net weet dat alles waar sal word wat die Here oor Agab en sy familie gesê het. Wat julle hier sien, is die manier waarop die Here dit wat Elia aangekondig het, laat gebeur het.”

11. Daarna het Jehu al Agab se familielede in Jisreël doodgemaak. Ná hulle het hy Agab se hoë amptenare, asook sy vriende, vertrouelinge en priesters laat doodmaak. Daar het niemand uit Agab se familie oorgebly nie.

12. Jehu is toe weg na Samaria toe. Op pad, by Bet-Eked van die skaapwagters, het hy ’n groep mense raakgeloop.

13. “Wie is julle?” het hy gevra. “Ons is Ahasia se broers, van Jerusalem af,” het hulle geantwoord. “Ons is op pad om te gaan kyk hoe dit met die prinse en die koning se ma gaan.”

14. “Vang hulle lewendig!” het Jehu vir sy manne geskree. Hulle het toe al 42 prinse van Juda gevang en hulle by ’n put daar naby gaan doodmaak.

15. Op pad daarvandaan het Jehu vir Jonadab, die seun van Rekab, raakgeloop wat na hom toe gekom het. Nadat hulle mekaar gegroet het, het Jehu vir Jonadab gevra: “Is jy so lojaal aan my soos ek aan jou?”“Ja, ek is,” het Jonadab geantwoord.“Nou gee my dan jou hand!” het Jehu gesê en sy hand uitgesteek en vir Jonadab op sy strydwa gehelp.

16. Jehu sê toe vir hom: “Kom nou saam met my. Kom kyk hoe ywerig kan ek vir die Here werk!” Jonadab het saam met Jehu Samaria toe gery.

17. In Samaria het Jehu almal doodgemaak wat nog van Agab se familie oor was. Dit was soos wat die Here deur Elia gesê het dit sou gebeur.

Jehu wis almal uit wat Baäl vereer het

18. Jehu het ’n baie groot vergadering belê en vir die mense gesê: “As julle dink dat Agab baie lief was vir Baäl, moet julle sien wat ék alles gaan doen om Baäl te vereer!

19. Roep al die profete van Baäl bymekaar, ook al die mense wat lief is vir hom en die priesters wat in sy tempel werk. Almal moet daar wees, want ek wil ’n baie groot fees ter ere van Baäl hou. Wie nie kom nie, sal ek laat doodmaak.” Jehu se plan was egter om al die Baälaanbidders dood te maak.

20. Jehu het beveel: “Roep ’n feesdag vir Baäl uit!”Hulle het dit gedoen

21. en Jehu het boodskappers reg deur die land gestuur om almal bymekaar te maak. Baäl se mense het in groot getalle opgedaag en die Baältempel van hoek tot kant volgemaak.

22. Jehu het vir die toesighouer oor die klerekamer gesê: “Jy moet sorg dat elke feesganger feesklere dra.” Die klere is toe aan hulle uitgedeel.

23. Jehu en Jonadab het saam met die Baälvereerders in die tempel ingegaan en vir hulle gesê: “Maak seker dat hier nie mense onder ons is wat eintlik die Here dien nie. Hulle is glad nie deel van hierdie fees nie.”

24. Almal was in die tempel saam om vir Baäl diere te slag en hom met offers te vereer.Jehu het egter gereël dat daar buite die tempel 80 soldate gereed staan. Hy het hulle met hulle lewe gedreig en gesê: “Die een van julle wat ’n enkele een van hierdie feesgangers lewendig laat wegkom, sal met sy lewe boet!”

25. Toe Jehu klaar was met die offer, het hy vir die wagte en offisiere gesê: “Gaan in en maak almal dood. Niemand mag oorbly nie!”Die soldate is toe die tempel in en het die mense met swaarde doodgesteek en die lyke uitgegooi. Hulle het tot in die binneste heiligdom van die tempel ingegaan

26. en het die pilaar wat daar binne was, uitgebring en in die vuur gegooi.

27. Daarna het hulle die gedenksteen ter ere van Baäl stukkend gebreek en die hele gebou afgebreek. Hulle het openbare toilette daarvan gemaak, en dit is waarvoor die plek nog steeds gebruik word.

28. So het Jehu alle tekens van Baälverering in Israel uitgeroei.

Beoordeling van Jehu se tyd as koning

29. Jehu het egter nie opgehou om die verkeerde dinge te doen wat die Israeliete sedert die tyd van Jerobeam, die seun van Nebat, gedoen het nie. Hy het niks aan die goue bulbeelde gedoen wat in Bet-El en Dan gestaan het nie.

30. Ten spyte daarvan het die Here vir hom gesê: “Jy het goed gedoen om die familie van Agab heeltemal uit te roei. Dit is wat Ek wou gehad het moes gebeur. Daarom het Ek besluit dat jou kinders en kleinkinders en agterkleinkinders vier geslagte lank in Israel sal regeer.”

31. Maar Jehu was nie heeltemal getrou aan die Here, die God van Israel, se wette nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam in Israel ingebring het nie.

32. Dit was juis in die tyd van Jehu dat die Here toegelaat het dat Israel se grondgebied kleiner word. Koning Hasael van Aram het dele van die land

33. oos van die Jordaanrivier beset. Hy het Gilead beset, en dit het die stamgronde van Gad, Ruben en Manasse ingesluit, van Aroër aan die Arnonrivier af, tot by die Basanplato.

34. Die res van Jehu se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

35. Na sy dood is Jehu in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom opgevolg,

36. nadat Jehu 28 jaar oor Israel regeer het.