hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17 Die Boodskap (DB)

Koning Hosea van Israel en die val van Samaria

1. In die twaalfde jaar wat koning Agas in Juda regeer het, het Hosea, die seun van Ela, koning in Israel geword. Hy het nege jaar lank in Samaria regeer.

2. Die Here was nie tevrede met sy optrede nie, maar dit was nie so erg soos party van sy voorgangers s’n nie.

3. Koning Salmaneser van Assirië het teen Israel oorlog kom maak. Hosea het hom aan Salmaneser onderwerp en begin om jaarliks belasting te betaal.

4. Koning Hosea het teen Assirië in opstand gekom en twee dinge gedoen: hy het met koning So van Egipte onderhandel oor samewerking en hy het opgehou om sy belasting aan die Assiriërs te betaal. Toe die koning van Assirië dit uitvind, het hy Hosea onmiddellik gevang en in die tronk gegooi.

5. Daarna het die Assiriese koning die hele land binnegeval en Samaria drie jaar lank beleër.

6. In die negende jaar wat Hosea regeer het, het die Assiriese koning Samaria ingeneem. Hy het die mense van Israel na Assirië geneem en hulle in die stad Galag, langs die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van die Mediërs hervestig.

Die redes vir Israel se ondergang

7. Die ramp het Israel getref omdat hulle téén die wil van die Here hulle God opgetree het. Hy het hulle vrygemaak toe hulle in Egipte deur die farao onderdruk is, maar hulle het ander gode aanbid.

8. Hulle het die gebruike gevolg van die heidense volke wat deur die Here uit die land gejaag is om vir Israel plek te maak, gebruike wat gevolg is deur die konings van Israel.

9. Die Israeliete het al die tyd in die geheim dinge gedoen wat die Here nie goedgekeur het nie. Hulle het:heidense heiligdomme gebou waar hulle ook al gebly het, van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad;

10. op elke rantjie en onder al die groen bome klippilare en heilige Asjerapale ingeplant;

11. net soos die mense wat voor hulle in die land gewoon het, offers by die heilige plekke gebrand (só het hulle die Here al hoe kwater gemaak vir hulle);

12. vieslike afgode vereer, al het die Here uitdruklik gesê hulle mag dit nie doen nie.

13. Die Here het Israel én Juda deur profete en spesiale boodskappers gewaarsku: “Julle moet ophou met julle verkeerde dinge en na My toe terugkom. Wees gehoorsaam aan die wette en reëls wat Ek reeds lank gelede aan julle voorouers gegee het. Ek het dit weer deur die profete direk vir julle gegee.”

14. Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was net so hardkoppig soos hulle voorouers en het ook nie in die Here hulle God geglo nie.

15. Hulle het:die Here se reëls verwerp;sy ooreenkoms met hulle voorouers verwerp;sy waarskuwings in die wind geslaan;nikswerd gode vereer en net so dwaas geword soos hulle;opgetree soos die volke rondom hulle, al het die Here hulle verbied om dit te doen.

16. Hulle het al die wette van die Here, hulle God, oortree deur:twee kalwerbeelde te laat maak;’n afbeelding van die godin Asjera te laat maak;voor die hemelgode neer te buig;die god Baäl te vereer;

17. hulle seuns en dogters in die vuur te offer;waarsêery te beoefen;die toekoms te voorspel.Só het hulle hulleself aan die boosheid oorgegee en die Here al hoe kwater vir hulle gemaak.

18. In sy woede het die Here besluit om Israel te vernietig. Al wat oorgebly het, was die stam van Juda.

19. Maar selfs Juda het nie gedoen wat die Here wou hê nie. Hulle het dieselfde dinge as Israel gedoen.

20. Die Here het toe Israel se hele nageslag verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan hulle vyande totdat dié hulle vernietig het.

21. Toe die Here destyds vir Israel van die koninkryk van Dawid laat wegbreek het, het hulle Jerobeam, die seun van Nebat, koning gemaak. Hy het die Israeliete van die Here af weggelei en hulle afgode laat dien.

22. Hulle het net nooit opgehou om soos Jerobeam die afgode te dien nie,

23. totdat die Here besluit het om hulle te verwerp. Dít is waaroor die profete, sy dienaars, Israel altyd gewaarsku het. Israel is toe weggeneem na die Assiriërs se land toe en dit is waar hulle vandag nog is.

Vreemde mense word in Israel hervestig

24. Die koning van Assirië het ander mense in Israel hervestig. Hulle was afkomstig uit stede soos Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim. Hulle het in Samaria en die stede daar rondom gaan woon en die land beset.

25. Aan die begin het die nuwe inwoners nie die Here gedien nie. Hy het toe leeus onder hulle ingestuur om party van hulle dood te maak.

26. Die volgende boodskap is toe na die koning van Assirië gestuur: “Die mense wat u in die omgewing van Samaria hervestig het, weet nie hoe om die God van die land te eer nie. Nou het Hy leeus gestuur wat onder hulle maai omdat hulle Hom nie reg dien nie.”

27. Die Assiriese koning het toe beveel: “Stuur een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is terug Israel toe. Hy kan die nuwe mense leer hoe om die God van die land reg te eer.”

28. So het een van die priesters teruggekom na Israel toe en in Bet-El gaan woon. Hy het die mense geleer hoe hulle die Here moet eer.

29. Die mense uit die vreemde volke het egter aangehou om ook elkeen hulle eie gode te dien in die stede waar hulle te lande gekom het. Hulle het beelde van hulle eie gode by die heilige plekke wat die Israeliete nog gebou het, gaan neersit.

30. Die volgende gode is vereer:Sukkot-Benot deur die mense van Babel;Nergal deur die mense van Kuta;Asima deur die mense van Hamat;

31. Nibgas en Tartak deur die mense van Awwa;Adrammelek en Anammelek deur die mense van Sefarwajim. Dié mense het selfs hulle kinders as offers vir die twee gode verbrand.

32. Die nuwe mense het die Here ook vereer, maar hulle het self vir hulle priesters aangestel om by die heilige plekke vir hulle offers te bring.

33. Terwyl hulle die Here gedien het, het hulle ook aangehou met die godsdienstige gebruike waaraan hulle voorheen gewoond was.

34. Dit gaan vandag nog so aan. Hulle hou by hulle tradisionele gebruike in plaas daarvan om die Here werklik te dien. Hulle behoort sy wette, reëls en riglyne te gehoorsaam, soos Hy dit vir die nageslag van Jakob, wie se naam Hy na Israel verander het, beveel het.

35. Die Here het met die nageslag van Jakob ’n ooreenkoms aangegaan. Hy het gesê: “Moenie ander gode op enige manier vereer nie, moenie voor hulle buig of vir hulle offers bring nie.

36. Julle mag net die Here vereer. Dit is Hy wat sterk genoeg was om julle uit Egipte te bevry. Hóm mag julle vereer deur voor Hom te buig en offers te bring.

37. Die wette, reëls en riglyne wat Hy vir julle voorgeskryf het, moet julle gehoorsaam. Julle mag nie ander gode dien nie.

38. Onthou van die ooreenkoms wat Ek met julle gesluit het en moenie ander gode vereer nie.

39. Julle mag net die Here, julle God, vereer. Hy is die Een wat julle van julle vyande sal red.”

40. Maar die mense het nie geluister nie. Hulle het aangehou met hulle ou gebruike.

41. So het hulle die Here wel vereer, maar tegelyk ook hulle afgode bly dien. Hierin is hulle deur hulle kinders en kleinkinders nagevolg en dit hou vandag nog so aan.