hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40

Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

God gee sy Tien Gebooie

1. Die Here het al die volgende voorskrifte gegee:

2. “Ek is die Here jou God. Dit is Ek wat jou bevry het uit Egipte waar jy ’n slaaf was.

3. “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie.

4. “Jy mag nie vir jouself afgode maak wat soos voëls of diere of visse lyk nie.

5. Jy mag nie voor hulle kniel om hulle te aanbid nie. Ek, die Here jou God, is jou enigste God. Ek laat die oortredings van dié wat My haat nie ongestraf verbygaan nie. Ek straf die derde en die vierde geslag daarna vir die sondes wat hulle ouers gedoen het.

6. My liefde bly egter duisend geslagte lank staan vir almal wat My liefhet en aan My gehoorsaam is.

7. “Moenie die Naam van die Here jou God sonder rede gebruik nie. Die Here sal die een wat sy Naam sonder die nodige respek gebruik, nie net so sonder straf laat wegkom nie.

8. “Onthou om die Sabbatdag vir God te vier.

9. Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan.

10. Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Niemand in jou huis mag op daardie dag aangaan met gewone werk nie. Dit sluit in: jy, jou seuns en dogters, jou manlike en vroulike slawe, die vee wat aan jou behoort en alle buitelanders wat by jou oorbly.

11. Die Here het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak. Op die sewende dag het Hy tot rus gekom. Om daardie rede het die Here die sewende dag geseën en vir Homself eenkant gesit as sy heilige dag.

12. “Behandel jou ouers met respek. Jy sal dan lank en gelukkig lewe in die land wat die Here vir jou gee om in te bly.

13. “Moenie mense doodmaak nie.

14. “Moenie egbreuk pleeg nie.

15. “Moenie iets steel nie.

16. “Moenie valse verklarings oor ander aflê nie.

17. “Jy moenie afgunstig raak op ’n ander se eiendom nie. Jy moenie sy vrou, sy manlike of vroulike werkers, sy beeste of sy donkies of enigiets wat hy besit vir jouself begeer nie.”

Die volk het bang geword

18. Die volk het baie bang geword toe hulle hoor hoe die donderweer rammel, die trompet geblaas word en sien hoe die rook uit die berg borrel. Hulle het op ’n afstand gaan staan.

19. Hulle sê toe vir Moses: “Jý moet maar liewer met ons praat. Ons sal na jou luister. Moenie dat God self met ons praat nie. Ons sal dan sterf.”

20. “Julle moenie bang wees nie,” het Moses vir hulle gesê. “God het so na julle toe gekom sodat julle ontsag vir Hom kan hê. Sorg dat julle nie teen Hom oortree nie.”

21. Terwyl die volk op ’n afstand bly staan het, het Moses ingegaan in die donker wolk waarin God was.

Die altaar vir die Here

22. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle het self ervaar hoe Ek uit die hemel met julle praat.

23. Onthou, julle mag nie vir julleself afgode van silwer of goud maak nie.

24. “Die altare wat julle vir My bou, moet met grond gemaak word. Julle moet daarop brandoffers en dankoffers, kleinvee en beeste offer. Bou die altare op die plekke wat Ek vir julle uitwys. Ek sal daarnatoe kom en julle daar seën.

25. As julle dan ’n altaar van klip vir My wil bou, mag julle net natuurlike klip gebruik. As julle dit met gereedskap sou bewerk, sal dit nie meer vir My aanvaarbaar wees nie.

26. Moenie met trappies teen my altaar opklim nie. Iemand kan dan van onder af inkyk onder die klere van die een wat opklim.”