hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses leer Israel God se wette

1. “Nou, Israeliete, luister noukeurig na hierdie reëls en regulasies wat ek julle nou gaan leer. Wees hieraan gehoorsaam sodat julle kan lewe en die land wat die Here die God van julle voorouers aan julle gegee het, kan binnegaan en dit in besit neem.

2. Moenie iets byvoeg of wegvat van die gebooie wat ek vir julle gee nie. Gehoorsaam net die gebooie van die Here julle God wat ek vir julle gee.

3. Julle het met julle oë gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het. Daar het die Here julle God elkeen uitgeroei wat die god Baäl-Peor aanbid het.

4. Almal van julle wat aan die Here julle God getrou gebly het, lewe vandag nog.

5. “Julle moet hierdie reëls en bepalings gehoorsaam wanneer julle in die land aankom wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem. Die Here my God het hulle aan my gegee en my beveel om dit aan julle deur te gee.

6. As julle die gebooie noukeurig gehoorsaam, sal julle vir die naburige nasies wys dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle van hierdie wette hoor, sal hulle uitroep: ‘Watter ander nasie is so wys en het soveel insig soos hierdie een!’

7. Watter groot nasie se god is so naby aan hulle soos wat die Here julle God naby aan julle is wanneer julle Hom aanroep?

8. Watter groot nasie het reëls en bepalings so regverdig soos hierdie wette wat ek vandag vir julle gee?

9. “Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die Here vir julle gedoen het nie. So lank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel.

10. Vertel hulle veral van die dag toe julle by Sinai in die teenwoordigheid van die Here julle God was. Daar het Hy vir my gesê: ‘Bring die volk bymekaar sodat Ek hulle kan onderrig. Op dié manier sal hulle leer om eerbied vir My te hê so lank as wat hulle lewe. Hulle sal ook my wette aan hulle kinders leer.’

11. Julle het nadergekom en aan die voet van die berg gestaan, terwyl die berg in vlamme gehul was. Die vlamme het die lug in geskiet en die donker wolke het alles stikdonker gemaak.

12. Die Here het met julle vanuit die vuur gepraat. Julle het sy woorde gehoor, maar Hom nie gesien nie; daar was net ’n stem.

13. Hy het sy verbond, die Tien Gebooie wat julle moet nakom, afgekondig en dit op twee kliptafels geskryf.

14. Dit was toe dat die Here my opdrag gegee het om vir julle hierdie reëls en bepalings te leer. In die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem, moet julle dit gehoorsaam.”

’n Waarskuwing teen afgodery

15. “Wees baie versigtig! Op die dag toe Hy met julle uit die vuur op die Sinaiberg gepraat het, het julle nie gesien hoe die Here lyk nie.

16. Daarom, wees versigtig om nie vir julleself enige beeld in enige vorm te maak nie, manlik of vroulik,

17. van enige dier of voël,

18. kruipende diere of visse nie.

19. Wanneer julle opkyk in die lug en die son, maan en sterre sien, alles in die lug, moet julle hulle nie aanbid nie. Die Here julle God het die hemelliggame vir al die volke op aarde bestem.

20. Onthou dat dit die Here is wat julle uit die brandende smeltoond van Egipte gered het. Julle het sy eie volk wat aan Hom behoort, geword. Dit is wat julle vandag is.

21. “Maar die Here het kwaad geword vir my as gevolg van julle optrede. Hy het met ’n eed gesê dat ek nooit deur die Jordaanrivier sal trek na die goeie land wat die Here julle God aan julle as spesiale besitting gee nie.

22. Alhoewel julle die Jordaan sal oorsteek om die land te verower, sal ek aan hierdie kant van die rivier doodgaan.

23. Wees dus versigtig om nie die verbond te verbreek wat die Here julle God met julle gesluit het nie. Julle sal dit breek as julle op enige manier afgodsbeelde maak. Die Here julle God het dit ten strengste verbied.

24. Die Here julle God is soos ’n vuur wat alles verbrand. Hy is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis.

25. “In die toekoms, wanneer julle reeds vir geruime tyd in die land gewoon het en kinders en kleinkinders het, moet julle nie julleself benadeel deur afgodsbeelde van enige aard te maak nie. Dit is verkeerd in die oë van die Here julle God. Dit sal Hom net kwaad maak.

26. “Vandag roep ek die hemel en die aarde as getuies teen julle. As julle my nie gehoorsaam nie, sal julle baie vinnig verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem as julle deur die Jordaan trek. Julle sal net ’n kort tydjie in die land woon en dan sal julle totaal verdelg word.

27. Die Here sal julle verstrooi tussen die nasies en net ’n paar van julle sal oorleef onder die nasies waarheen die Here julle vat.

28. Daar, in ’n ver land, sal julle mensgemaakte afgode van hout en klip aanbid. Dit is gode wat nie eers kan sien of hoor of eet of ruik nie.

29. Daar sal julle weer na die Here julle God begin soek. As julle met hart en siel na Hom soek, sal julle Hom vind.

30. “Wanneer hierdie swaar dinge in die toekoms oor julle kom, sal julle uiteindelik weer na die Here julle God toe terugkom en na Hom luister.

31. Want die Here julle God is genadig. Hy sal julle nie prysgee of verdelg nie. Hy sal ook nie die verbond vergeet wat Hy onder eed met julle voorouers gesluit het nie.”

Niemand kan met God vergelyk

word nie

32. “Ondersoek die hele geskiedenis vanaf die tyd toe God mense op aarde gemaak het tot nou toe. Ondersoek die hemel van die een uiteinde tot die ander. Kyk of iets so magtigs al ooit gebeur het.

33. Het enige nasie soos julle al ooit die stem van God gehoor wat uit ’n vuur praat en dit oorleef?

34. Het enige ander god al ooit ’n nasie vir homself geneem en hulle van ander nasies gered deur rampe, wondertekens, wonders, oorloë, indrukwekkende mag en groot dade wat mense bangmaak? Dit is wat die Here julle God voor julle oë vir julle in Egipte gedoen het.

35. “Hy het julle hierdie dinge laat sien sodat julle kan besef dat die Here God is en niemand anders nie.

36. Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor sodat Hy julle kon leer. Op aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien sodat Hy met julle uit die vuur kon praat.

37. Omdat Hy julle voorouers liefgehad het, het Hy gekies om hulle nageslag te seën en om julle persoonlik met ’n vertoning van mag uit Egipte te bring.

38. Hy het nasies wat veel groter as julle is, verdryf om julle die land in te bring en dit aan julle te gee as ’n spesiale besitting soos wat dit vandag is.

39. Erken en onthou dit: Die Here is God in hemel en op aarde en daar is geen ander god nie!

40. As julle al die gebooie en voorskrifte gehoorsaam wat ek vandag vir julle gee, sal dit met julle en met julle kinders goed gaan. Julle sal ’n lang lewe geniet in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle gee.”

Asielstede oos van die Jordaan

41. Moses het drie stede oos van die Jordaanrivier as asielstede afgesonder.

42. Dit is stede waarheen iemand kan vlug wat per ongeluk en sonder voorbedagte rade iemand anders doodgemaak het.

43. Die stede was: Beser in die woestynhoogland vir die stam van Ruben, Ramot in Gilead vir die stam van Gad en Golan in Basan vir die stam van Manasse.

Inleiding tot die wet

44. Dit is die wet wat Moses vir die Israeliete gegee het.

45. Dit is die voorskrifte, wette en bepalings wat Moses aan die volk Israel gegee het toe hulle Egipte verlaat het,

46. en kamp opgeslaan het in die vallei naby Bet-Peor, oos van die Jordaanrivier. (Hierdie land was vroeër in besit van koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het. Moses en die Israeliete het hom en sy volk verslaan toe hulle uit Egipte opgetrek het.

47. Israel het die land en ook die land van koning Og van Basan verower. Die twee was Amoritiese konings oos van die Jordaan.

48. Israel het die hele gebied van Aroër van die rand van die Arnonkloof tot by Sirjonberg, wat ook Hermonberg genoem word, verower.

49. Hulle het ook die oostekant van die Jordaanvallei so ver suid soos die Dooie See onderkant die Pisgahange in besit geneem.)