hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wanneer julle weer terugkeer

1. “As al hierdie dinge met jou gebeur het, die seën en vervloeking wat ek aan jou voorhou, dink daaroor na wanneer jy tussen die vreemde nasies moet leef waarheen die Here jou God jou in ballingskap weggevoer het.

2. As jy dan na die Here jou God terugkeer en jy en jou kinders begin weer om van harte gehoorsaam te wees aan die gebooie wat ek jou vandag gee,

3. sal die Here jou God jou situasie verander. Hy sal jou genadig wees en jou terugbring uit al die nasies waarheen Hy jou verstrooi het.

4. Selfs al was jy tot aan die uithoeke van die aarde verstrooi, sal die Here jou God jou daar bymekaarmaak en jou weer terugbring.

5. Hy sal jou terugbring na die land wat aan jou voorouers behoort het en jy sal weer die land besit. Hy sal jou selfs meer voorspoedig en talryker maak as wat jou voorouers was.

6. “Die Here jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag besny sodat jy Hom met hart en siel sal liefhê. Dan sal jy lewe!

7. Die Here jou God sal al die vervloekings op jou vyande en jou vervolgers laat neerkom.

8. Dan sal julle weer die Here gehoorsaam en al die opdragte nakom wat ek jou vandag gee.

9. Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee, jy sal baie diere hê en jou landerye sal oorvloedige oeste oplewer. Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak soos met jou voorouers.

10. Dit sal gebeur as jy die Here jou God gehoorsaam, sy opdragte en voorskrifte nakom soos dit in die boek van die gebooie geskryf is, en as jy met hart en siel na die Here jou God terugkeer.”

Kies tussen lewe en dood

11. “Hierdie gebod wat ek jou vandag gee, is nie te moeilik vir jou of buite jou bereik nie.

12. Dit is nie daarbo in die hemel dat jy nodig het om te vra: ‘Wie sal hemel toe opgaan en dit afbring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

13. Dit is ook nie ver aan die ander kant van die see, dat jy moet vra: ‘Wie sal die see oorsteek om dit vir ons te bring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

14. Die boodskap is baie naby aan jou, dit is op jou lippe en in jou hart sodat jy daarvolgens kan lewe.

15. “Luister nou! Vandag gee ek vir julle ’n keuse tussen voorspoed en teëspoed, lewe en dood.

16. Ek beveel jou vandag om die Here jou God lief te hê en om sy opdragte, voorskrifte en reglemente na te kom deur in sy weë te wandel. As jy dit doen, sal jy lewe en ’n groot nasie word. Die Here jou God sal jou en die land seën wat jy op die punt is om in besit te neem.

17. Maar as jy jou hart wegdraai en jy weier om gehoorsaam te wees en as jy aangetrek word na ander gode toe om hulle te dien en te aanbid,

18. dan waarsku ek jou nou dat jy verseker vernietig gaan word. Jy sal nie ’n lang en goeie lewe geniet in die land wat jy in besit gaan neem wanneer jy die Jordaan oorsteek nie.

19. “Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!

20. Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam, jou aan Hom te verbind, bring vir jou die lewe. Dan sal jy lank bly lewe in die land wat die Here jou God gesweer het om aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob te gee.”