hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Vanaf die Rietsee tot by die

Arnonkloof

1. “Toe het ons omgedraai en deur die woestyn in die rigting van die Rietsee getrek, net soos die Here my beveel het. Dit het ons lank geneem om óm Seïrberg te trek.

2. Die Here het toe vir my gesê:

3. ‘Julle het nou lank genoeg in die omgewing van die bergwêreld rondgetrek. Draai nou noordwaarts.

4. Gee die volgende opdragte vir die volk: Julle gaan deur die gebied trek wat aan julle broers, die Edomiete, die afstammelinge van Esau wat in Seïr bly, behoort. Die Edomiete sal bedreig voel, maar wees versigtig.

5. Moenie hulle pla nie, want Ek het die bergwêreld in die omgewing van Seïr aan hulle as eiendom gegee. Ek sal nie ’n krieseltjie van hulle land vir julle gee nie.

6. Betaal hulle vir die kos en water wat julle gebruik.

7. Die Here julle God het julle geseën in alles wat julle gedoen het. Hy het die wag gehou oor elke tree wat julle deur die groot woestyn gegee het. Gedurende die 40 jaar was die Here julle God by julle en het Hy in elke behoefte van julle voorsien sodat julle niks kortgekom het nie.’

8. So het ons dan verby ons broers, die afstammelinge van Esau wat in Seïr woon, getrek. Ons het ook die pad vermy wat van Elat en Esjon-Geber deur die Arabavallei kom. “Toe het ons noordwaarts met die woestynroete by Moab verbygetrek.

9. Die Here het ons gewaarsku: ‘Moenie die Moabiete, die afstammelinge van Lot, pla of teen hulle oorlog maak nie. Ek het vir hulle Ar as hulle eiendom gegee en Ek sal niks van hulle land vir julle gee nie.’”

10. Die Emiete het vroeër in die omgewing van Ar gewoon. Hulle was ’n groot en sterk volk van reuse, net so groot soos die Enakiete.

11. Die Emiete en die Enakiete word albei ook die Refaïete genoem, maar die Moabiete noem hulle die Emiete.

12. Vroeër het die Goriete by Seïrberg gewoon, maar hulle is uitgedryf en vervang met die afstammelinge van Esau. Op ’n soortgelyke manier is die volke van Kanaän verdryf uit die land wat die Here vir Israel gegee het.

13. Moses het voortgegaan: “Die Here het ons toe aangesê om die Seredspruit oor te steek en ons het dit gedoen.

14. Daar het dus 38 jaar verbygegaan van die tyd toe ons by Kades-Barnea aangekom het totdat ons uiteindelik die Seredspruit oorgesteek het. Die Here het gesweer dat dit nie kon gebeur voordat al die mans wat oud genoeg was om oorlog te maak, in die woestyn omgekom het nie.

15. Die Here het sy hand teen hulle gelig totdat hulle almal omgekom het.

16. “Toe al hierdie mans wat reg was om te veg, uitgesterf het,

17. het die Here vir my gesê:

18. ‘Vandag sal julle die grens van Moab by Ar oorsteek

19. en die land van die Ammoniete binnegaan. Moenie die Ammoniete, die afstammelinge van Lot, pla of ’n oorlog met hulle begin nie. Ek het aan hulle die land Ammon as hulle eiendom gegee en Ek sal ook nie enige deel van hulle land vir julle gee nie.’”

20. (Daardie gebied is ook vroeër gesien as die land van die Refaïete, alhoewel die Ammoniete hulle die Samsummiete genoem het.

21. Hulle was ook ’n talryke en sterk nasie en so groot soos die Enakiete. Die Here het hulle egter verdelg sodat die Ammoniete hulle land kon inneem.

22. Hy het die afstammelinge van Esau by Seïrberg op dieselfde manier gehelp deur die Goriete te verdelg sodat hulle daar kon gaan woon. Die afstammelinge van Esau woon tot vandag toe nog daar.

23. ’n Soortgelyke ding het gebeur toe die Kaftoriete van Kreta die Awwiete wat in dorpies in die omgewing van Gasa gewoon het, ingeval en verdelg het.)

24. Moses het voortgegaan: “Toe het die Here gesê: ‘Steek nou die Arnonkloof oor! Ek sal jou help om Sihon die Amoriet, die koning van Gesbon, te verslaan en sy land vir jou te gee. Val hom aan en begin om die land in besit te neem.

25. Van vandag af sal Ek al die volke op aarde vreesbevange vir jou maak. Wanneer hulle van jou hoor, sal hulle bewe van angs.’”

Die gebied van Sihon word

verower

26. “Uit die Kedemotwoestyn het ek boodskappers na koning Sihon van Gesbon gestuur met hierdie vredesvoorstel:

27. ‘Laat ons deur jou land trek. Ons sal op die hoofpad bly en nie na links of regs in die veld afdraai nie.

28. Ons sal betaal vir elke stukkie kos wat ons eet en vir al die water wat ons drink. Al wat ons vra, is toestemming om deur jou land te trek.

29. Die afstammelinge van Esau by Seïrberg het ons toegelaat om deur hulle land te trek, so ook die Moabiete wat in Ar woon. Laat ons asseblief deurtrek totdat ons die Jordaan oorgesteek het na die land wat die Here ons God aan ons gegee het.’

30. Maar koning Sihon van Gesbon het geweier om ons te laat deurtrek. Die Here het hom hardkoppig en onversetlik gemaak sodat julle hom kan verslaan. Hy is nou in jou mag.

31. “Die Here het toe vir my gesê: ‘Kyk, Ek het begin om koning Sihon en sy land aan jou oor te gee. Begin nou om sy land te verower en in te neem.’

32. Koning Sihon het oorlog teen ons verklaar en sy leër by Jahas teen ons gemobiliseer.

33. Die Here ons God het hom egter in ons mag oorgegee en ons het hom, sy seuns en sy volk verpletter.

34. Ons het al sy stede verower en elkeen, mans, vroue en kinders, heeltemal verdelg. Niemand is gespaar nie.

35. Ons het al die diere en enigiets van waarde in die stede wat ons verower het, as buit vir ons geneem.

36. “Die Here ons God het ons gehelp om Aroër aan die bokant van die Arnonkloof en die dorp langs die rivier in die kloof en die hele gebied sover as Gilead te verower. Geen stad het mure gehad wat te sterk vir ons was nie.

37. Ons het egter weggebly van die Ammoniete langs die Jabbokrivier en hulle stede in die bergagtige gebied. Dit was alles gebiede wat die Here ons God ons beveel het om uit te los.”