hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Asielstede

1. “Wanneer die Here jou God die nasies uitroei wie se land Hy aan jou gee, moet jy hulle uitdryf en in hulle stede en huise gaan woon.

2. Dan moet jy drie stede uitsonder as asielstede in die land wat die Here jou God vir jou as besitting gee.

3. Verdeel die land wat die Here jou God as erfenis vir jou gee in drie streke sodat elke stad toeganklik is. Enigeen wat iemand doodgemaak het, moet daarheen kan vlug.

4. “As iemand sonder opset ’n ander persoon doodgemaak het, en nie vantevore kwaadwillig teenoor hierdie persoon was nie, mag so iemand vir sy veiligheid na een van die stede toe vlug.

5. Byvoorbeeld, iemand kan saam met sy naaste in die bos ingaan om daar hout te gaan kap. Hy swaai die byl, die kop van die byl kom onverwags los van die steel en veroorsaak die ander persoon se dood. In so ’n geval kan die persoon na een van die asielstede toe vlug om daar veilig te gaan leef.

6. As die afstand na die naaste asielstad te ver is, kan ’n woedende naaste familielid die persoon agtervolg en doodmaak. Die persoon sterf dan selfs al was daar geen misdaad gepleeg nie en was die eerste persoon se dood ’n ongeluk.

7. Dit is waarom ek jou beveel om drie asielstede uit te sonder.

8. “As die Here jou God jou grondgebied vergroot, soos Hy plegtig aan jou voorouers beloof het, en Hy gee vir jou die hele land wat Hy beloof het,

9. moet jy nog drie asielstede aanwys. As jy al sy opdragte wat ek vir jou gee, gehoorsaam deur altyd die Here jou God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sal Hy die land vir jou gee.

10. Op dié manier sal jy die dood van onskuldige mense voorkom in die land wat die Here jou God as ’n erfenis gee. So sal jy nie aan moord skuldig wees nie.

11. “As iemand sy naaste haat, hom doelbewus voorlê, hom vermoor en dan na een van die asielstede toe vlug,

12. moet die leiers van die moordenaar se tuisdorp hom uit die asielstad laat haal en hom oorgee aan die familielid wat die dood van die vermoorde persoon moet wreek.

13. Moenie hom begenadig nie. Maak Israel skoon van die skuld van moord sodat dit goed kan gaan met julle.”

’n Besorgdheid vir regverdigheid

14. “In die land wat die Here jou God vir jou as ’n erfdeel gee, mag jy nooit iemand se grond steel deur die grenslyne wat jou voorouers al vasgestel het, te verskuif nie.

15. “Jy mag nie iemand aan ’n misdaad skuldig bevind slegs op grond van die getuienis van net een getuie nie. Die feite van die saak moet vasgestel word op grond van die getuienis van twee of meer getuies.

16. As ’n kwaadwillige getuie na vore kom en iemand valslik van ’n misdaad beskuldig,

17. moet beide die klaer en die beskuldigde voor die priesters en regters verskyn wat diens doen voor die Here.

18. Hulle moet deeglik ondervra word en as bevind word dat die klaer lieg,

19. moet hy self kry wat hy die ander een wou aandoen. Op dié manier sal julle die kwaad onder julle uitroei.

20. Die mense wat hiervan hoor, sal bang word om weer so ’n verkeerde ding te doen.

21. Moenie in so ’n geval jammer wees vir die persoon nie. Jou reël moet wees: ’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n voet vir ’n voet.”