hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie boek bevat Moses se woorde aan die hele volk Israel toe hulle in die woestyn oos van die Jordaanrivier was. Hulle was in die woestynvlakte, naby Suf, tussen Paran aan die een kant en Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab aan die ander kant.

2. Dit vat gewoonlik net elf dae om met die pad langs die Seïrberg verby van die Sinaiberg af tot by Kades-Barnea te kom.

3. 40 jaar nadat die Israeliete Sinaiberg verlaat het, op ’n dag in die middel van die winter, het Moses alles vir hulle gesê wat die Here die Israeliete beveel het om te doen.

4. Dit was nadat hy koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het, en ook koning Og van Basan wat in Astarot en Edreï regeer het, verslaan het.

5. Moses het die volk Israel toegespreek terwyl hulle in Moab, oos van die Jordaanrivier, was. Hy het begin om die gebooie soos volg uit te lê:

6. “Toe ons by Sinaiberg was, het die Here ons God vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

7. “‘Dit is tyd om die kamp af te slaan en aan te beweeg. Trek na die bergwêreld van die Amoriete en na al die naburige streke toe – die Jordaanvallei, die bergwêreld, die laeveld, die Negevgebied en die kusvlakte. Gaan na die land van die Kanaäniete en die Libanon tot by die groot Eufraatrivier.

8. Hierdie gebied gee Ek vir julle. Trek in die land in en neem dit in besit. Die Here het gesweer dat Hy hierdie land aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob en aan hulle nageslag sal gee.’”

Moses stel leiers aan vir elkeen

van die stamme

9. “Ek het toe al vir julle gesê: ‘Julle is ’n te groot las om alleen te dra.

10. Die Here julle God het julle so baie soos die sterre gemaak.

11. Mag die Here, die God van julle voorouers, julle selfs duisend keer meer laat word. Mag Hy julle seën soos wat Hy beloof het.

12. Hoe sou ek alleen al julle twis en probleme kan oplos?

13. Kies uit julle stamme mans met wysheid, begrip en aansien en ek sal hulle as julle leiers aanstel.’

14. “Julle het saamgestem dat my plan ’n goeie een was.

15. Ek het toe die wyse en gerespekteerde mans wat julle uit julle stamme gekies het, aangestel om julle as regters en amptenare te dien. Sommige was verantwoordelik vir 1 000 mense, ander vir 100, ander weer vir 50 en sommige vir tien.

16. Ek het hulle wat as regters optree, beveel: ‘Julle moet te alle tye regverdig wees, nie net teenoor mede-Israeliete nie, maar ook teenoor die vreemdelinge wat tussen julle woon.

17. Wanneer julle uitsprake lewer, moenie die ryk mense bevoordeel nie. Wees ewe regverdig teenoor belangrike en onbelangrike mense. Moenie bang wees oor hoe hulle sal reageer nie, want julle tree namens God as regters op. Bring die sake wat vir julle te moeilik is na my toe, ek sal dit self hanteer.’

18. Toe het ek julle alreeds alles beveel wat julle moet doen.”

Verkenners gaan ondersoek die

land

19. “Ons is toe weg van Sinaiberg af en het deur die groot en skrikwekkende woestyn getrek, wat julle self gesien het. Van daar het ons na die bergwêreld van die Amoriete toe getrek – dit alles net soos wat die Here ons God ons beveel het. Toe ons by Kades-Barnea kom,

20. het ek vir julle gesê: ‘Nou het ons die heuwelgebied van die Amoriete bereik wat die Here ons God aan ons gegee het.

21. Kyk! Die Here ons God plaas hierdie land voor ons. Gaan en neem dit in besit soos wat die Here, die God van ons voorouers, ons belowe het. Moenie bang wees nie! Moenie moed verloor nie!’

22. “Maar julle het gereageer: ‘Laat ons eers verkenners uitstuur om die land vir ons te gaan deurkyk. Hulle sal ons dan kan raadgee oor watter roete die beste sal wees. Hulle sal ook kan besluit watter stede om in te neem.’

23. Dit het vir my na ’n goeie idee gelyk en ek het twaalf verkenners uitgekies, een van elke stam.

24. Hulle het toe die Bergwêreld ingegaan, by die Eskolvallei uitgekom en dit verken.

25. Hulle het ook van die vrugte gepluk en daarvan na ons toe teruggebring. Hulle het gerapporteer dat die land wat die Here ons God vir ons gee, inderdaad ’n goeie land is.”

Israel het in opstand teen die

Here gekom

26. “Maar julle het teen die bevel van die Here julle God in opstand gekom en wou nie optrek nie.

27. Julle het in julle tente gemor en gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons uit Egipte laat trek sodat die Amoriete ons kan uitroei.

28. Hoe kan ons aangaan? Ons verkenners het ons met hulle verslag banggepraat. Hulle sê dat die mense van die land groter en sterker as ons is en dat die mure van hulle stede tot aan die hemel raak! Hulle het daar selfs die reuse, nageslag van Enak, gesien!’

29. “Maar ek het vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie!’

30. Die Here julle God gaan voor julle uit. Hy sal vir julle veg, net soos Hy voor julle oë in Egipte gedoen het.

31. Hier in die woestyn het julle gesien hoe die Here julle God keer op keer vir julle gesorg het, net soos ’n pa vir sy kind sou sorg. Hy het julle tot hiertoe gebring.

32. Selfs na alles wat Hy gedoen het, het julle nog bly weier om die Here julle God te vertrou.

33. Hy het voor julle uitgegaan om die beste staanplekke uit te soek. Snags het Hy julle pad met vuur verlig en bedags was daar ’n wolk oor julle.

34. “Toe die Here hoor hoe julle kla, het Hy kwaad geword. Hy het plegtig gesweer:

35. ‘Nie een van julle uit hierdie slegte geslag sal bly lewe om die goeie land wat Ek aan julle voorouers met ’n eed beloof het, te sien nie.

36. Net Kaleb, die seun van Jefunne, sal die land sien omdat hy die Here enduit gevolg het. Ek sal aan hom en sy nageslag ’n deel gee van die land waaroor hy geloop het toe hy die land verken het.’

37. “As gevolg van julle was die Here ook vir my kwaad. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal nooit die Beloofde Land ingaan nie.

38. Jou assistent, Josua, die seun van Nun, sal die volk die land inlei. Bemoedig hom in sy voorbereidings om die land in te trek.

39. Ek sal die land aan julle onskuldige kinders gee. Julle was bang dat hulle gevange geneem sou word, maar hulle sal die mense wees wat die land in besit sal neem.

40. Wat julle betref, draai nou om en gaan terug na die woestyn toe in die rigting van die Rietsee.’

41. “Toe het julle bely: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons sal die land ingaan en daarvoor veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle mans het toe julle wapens om julle vasgebind en gedink dit is maklik om die Bergwêreld te verower.

42. “Die Here het toe vir my gesê: ‘Sê vir hulle om nie aan te val nie, want Ek gaan nie saam met hulle nie. As hulle sou aanval, sal die vyand hulle verslaan.’

43. “Ek het dit so vir julle gesê, maar julle wou nie luister nie. Julle het eerder teen die bevel van die Here in opstand gekom en ewe arrogant die Bergwêreld ingetrek om te gaan veg.

44. Die Amoriete wat daar bly, het soos ’n swerm bye teen julle opgeruk. Hulle het julle verjaag en verslaan al die pad van Seïr af tot by Gorma.

45. Julle het toe omgedraai en in die teenwoordigheid van die Here kom huil, maar Hy het geweier om na julle te luister.

46. Dit is waarom julle so lank daar by Kades gebly het.”