hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “As ’n man met ’n vrou trou en hy ontdek later iets skandeliks aan haar, moet hy ’n skeibrief skryf, dit vir haar gee en haar wegstuur.

2. As sy dan vertrek, kan sy met ’n ander man trou.

3. As die tweede man haar ook verwerp en ’n skeibrief gee of te sterwe kom,

4. mag die eerste man nie weer met haar trou nie, want sy is verontreinig. Dit sal iets afskuweliks wees vir die Here. Moenie skuld bring oor die land wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee nie.

5. “’n Pasgetroude man mag nie in die weermag opgeneem of enige ander spesiale verantwoordelikhede gegee word nie. Hy moet vry wees om vir ’n jaar lank by die huis te wees om die vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.

6. “Dit is verkeerd om ’n paar maalklippe, of selfs net die boonste maalklip, as pand te neem, want die eienaar gebruik dit om van te lewe.

7. “As iemand ’n mede-Israeliet ontvoer en hom as ’n slaaf gebruik of as ’n slaaf verkoop, moet die ontvoerder doodgemaak word. Julle moet die kwaad onder julle uitroei.

8. “Wees versigtig vir alle aansteeklike velsiektes en volg die instruksies van die Levitiese priesters. Gehoorsaam stiptelik die bevele wat ek vir hulle gegee het.

9. Onthou wat die Here jou God aan Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte gekom het.

10. “As jy iets aan jou naaste leen, moenie in sy huis ingaan om iets as pand te gaan vat nie.

11. Wag buite vir die persoon wat by jou geleen het om die pand na jou uit te uitbring.

12. As jou naaste arm is en net ’n kleed het om as ’n pand aan te bied, mag jy nie die kleed oornag hou nie.

13. Gee die kleed teen sononder vir hom terug sodat jou naaste daaronder kan slaap. Dan sal hy jou seën en die Here jou God sal dit as ’n regverdige daad beskou.

14. “Jy moet nooit onbillike voordeel trek uit arm arbeiders nie, nie as hulle mede-Israeliete is nie en ook nie as hulle vreemdelinge is wat in jou dorpe woon nie.

15. Betaal hulle hulle loon elke dag voor sononder, want hulle is arm en reken op die geld. Andersins mag hulle by die Here gaan kla en sal dit as sonde teen jou gereken word.

16. “Ouers mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle kinders nie en kinders mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle ouers nie. Wie die doodstraf moet kry, kry dit net vir sy eie misdade.

17. “Sorg dat daar geregtigheid geskied aan die vreemdelinge wat tussen julle woon en ook aan weeskinders. Jy mag nooit ’n weduwee se kleed as pand aanvaar nie.

18. Onthou altyd dat julle slawe in Egipte was en dat die Here julle God julle van daar vrygekoop het. Dit is waarom ek hierdie gebod aan julle gee.

19. “Wanneer jy jou oes inbring en jy vergeet ’n gerf op die land, moenie omdraai en dit gaan haal nie. Laat dit daar vir die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy doen.

20. Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfbome, moenie dit vir ’n tweede keer doen nie. Laat daar olywe oorbly vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees.

21. Dit is ook van toepassing op die druiwe in die wingerd. Moenie weer gaan druiwe afoes nadat hulle die eerste keer gepluk is nie. Laat daar van die druiwe vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees oorbly.

22. Hou in gedagte dat julle slawe in Egipte was. Dit is waarom ek jou hierdie gebod gee.”