hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nie omdat julle so goed is nie,

maar omdat God getrou is

1. “Luister, Israel! Jy staan vandag op die punt om deur die Jordaanrivier te trek om die land af te vat van nasies wat baie groter en sterker as jy is. Hulle woon in groot stede met mure wat hemelhoog is.

2. Hulle is sterk en groot – die afstammelinge van die beroemde Enakitiese reuse. Jy ken die uitdrukking wat sê: ‘Wie kan staande bly teen die Enakiete?’

3. Maar jy moet weet die Here jou God gaan voor jou uit trek soos ’n vuur wat alles verbrand. Hy sal hulle vernietig en aan jou onderwerp sodat jy hulle gou sal oorwin en uitdryf, net soos die Here jou belowe het.

4. “Wanneer die Here jou God dit vir jou gedoen het, moet jy nie sê: ‘Die Here het hierdie land gegee omdat ons so regverdig is’ nie. Nee, dit is as gevolg van die goddeloosheid van die ander nasies dat Hy dit gedoen het.

5. Dit is glad nie as gevolg van jou regverdigheid of opregtheid dat jy die land gaan inneem nie. Die Here jou God sal hierdie nasies voor jou uitdryf omdat hulle so goddeloos is en om die eed na te kom wat Hy aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob gesweer het.

6. Ek sal dit weer sê: Die Here jou God gee hierdie goeie land nie aan jou omdat jy so regverdig is nie, want jy is dit nie – jy is ’n hardkoppige volk.”

Onthou die episode met die goue

kalf

7. “Onthou en moenie vergeet hoe julle die Here julle God in die woestyn kwaad gemaak het nie. Vanaf die dag dat julle uit Egipte getrek het tot nou toe was julle gedurig teen Hom in opstand.

8. Onthou hoe kwaad julle die Here gemaak het by Sinai. Hy was so kwaad dat Hy julle wou uitroei.

9. Dit was toe ek op die berg was om die plat klippe te ontvang waarop die Here die verbond geskryf het wat Hy met julle gesluit het. Ek was 40 dae en nagte daar sonder om iets te eet of te drink.

10. Die Here het vir my die twee kliptafels gegee wat Hy met sy eie vinger geskryf het. Daarop was alles geskryf wat Hy vir julle uit die vuur gesê het die dag toe julle by die berg bymekaar was.

11. “Aan die einde van die 40 dae en nagte het die Here aan my die twee kliptafels gegee waarop die verbond geskryf was.

12. Die Here het vir my gesê: ‘Klim dadelik af, want die volk wat jy uit Egipte gelei het, het afvallig geword. Hulle het weggedraai van die pad wat Ek hulle beveel het om te loop. Hulle het ’n gegote afgodsbeeld vir hulleself gemaak.’

13. “Die Here het vir my gesê: ‘Ek het gesien hoe ’n hardkoppige volk hierdie is.

14. Moet My nie probeer keer om die volk te vernietig en hulle naam onder die hemel uit te vee nie. Ek sal egter van jou afstammelinge ’n sterk nasie maak, ’n nasie groter en sterker as hulle.’

15. Ek het toe afgekom van die brandende berg met die twee kliptafels van die verbond in my hande.

16. Ek gesien hoe julle daaronder teen die Here julle God gesondig het. Julle het ’n goue bulkalf gemaak. Hoe gou tog het julle nie afgedwaal van die pad wat die Here julle beveel het om te volg nie!

17. Ek het toe die twee kliptafels wat ek in my hande gehad het, voor julle oë flenters gegooi.

18. Ek het voor die Here neergeval en vir 40 dae en 40 nagte voor Hom bly lê sonder om iets te eet of te drink. Ek het dit gedoen omdat julle gesondig het deur iets te doen wat die Here haat en wat Hom baie kwaad gemaak het.

19. Ek was bang, want die woede van die Here was so erg dat Hy julle wou uitroei. Maar die Here het weer ’n keer na my geluister.

20. Die Here was so kwaad vir Aäron dat Hy hom om die lewe wou bring. Maar in dié tyd het ek ook vir Aäron gebid.

21. Ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, gevat en dit in vuur gesmelt en dit toe tot ’n fyn stof gemaal. Ek het die stof in die stroom gegooi wat bergaf vloei.

22. “Julle het die Here ook by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.

23. By Kades-Barnea het die Here julle weggestuur met hierdie bevel: ‘Trek op en neem die land wat Ek aan julle gee, in besit.’ Julle het teen die bevel van die Here julle God in opstand gekom en geweier om Hom te vertrou of te gehoorsaam.

24. So lank as wat ek julle ken, was julle altyd teen die Here in opstand.

25. “Dit is waarom ek neergeval en vir 40 dae en nagte voor die Here gelê het omdat Hy gereed was om julle te vernietig.

26. Ek het tot die Here gebid en gesê: ‘O oppermagtige Here, moenie u eie volk vernietig nie. Hulle is u eiendom wat U uit Egipte verlos het deur u groot mag en wonderlike krag.

27. Onthou eerder u dienaars Abraham, Isak en Jakob en sien maar die hardkoppigheid, opstandigheid en sonde van hierdie volk oor.

28. As U hierdie volk nou gaan vernietig, sal die Egiptenaars sê: Die Here het hierdie volk vernietig omdat Hy nie in staat was om die land aan hulle te gee waarvan Hy gesweer het dat Hy dit vir hulle sal gee nie. Of hulle kan ook sê: Hy vernietig hulle omdat Hy hulle haat. Hy het hulle na die woestyn toe gevat om hulle daar om die lewe te bring.

29. Dit is u volk, u eiendom, wat U uit Egipte gebring het deur u groot mag en wonderlike krag.’”