hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Oorwinning oor Og van Basan

1. “Daarna het ons afgedraai na die land Basan toe. Daar het koning Og en sy leër ons by Edreï aangeval.

2. Die Here het egter vir my gesê: ‘Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee aan julle die oorwinning oor Og en sy leër. Ek gee ook sy hele land aan julle. Maak met hom net soos julle gemaak het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het.’

3. So het die Here ons God vir koning Og en sy hele volk aan ons oorgegee en ons het hulle almal doodgemaak.

4. Ons het al 60 van sy stede verower, die hele Argobstreek in sy koninkryk van Basan.

5. Al hierdie stede was versterk met hoë mure rondom en poorte met sluitbalke. Ons het terselfdertyd ook baie van die stede sonder mure ingeneem.

6. Ons het die koninkryk van Basan totaal verdelg, net soos wat ons koning Sihon van Gesbon vernietig het. Ons het al die inwoners, mans, vroue en kinders, uitgewis in elke stad wat ons verower het.

7. Ons het die diere vir onsself gehou en ook die buit van die stede wat ons geplunder het.

8. “Ons het die land van twee Ammoritiese konings oos van die Jordaanrivier van die Arnonkloof tot by Hermonberg in besit geneem.

9. (Die Sidoniete het die Hermonberg die Sirjon genoem, en die Amoriete Senir.)

10. Ons het al die stede op die Hoogvlakte verower en ook die hele Gilead en Basan so ver as Salka en Edreï, stede wat deel was van Og se ryk in Basan.

11. (Koning Og van Basan was die laaste van die reuse Refaïete. Sy ysterbed was meer as vier meter lank en byna twee meter breed. Dit kan nog steeds in die Ammonitiese stad Rabba gesien word.)”

Die verdeling van die land oos

van die Jordaan

12. “Van die land wat ons verower het, het ek vir die stamme Ruben en Gad die gebied anderkant Aroër langs die Arnonkloof, asook die helfte van die bergwêreld van Gilead met sy stede, gegee.

13. Die res van Gilead en die hele Basan – Og se voormalige koninkryk – het ek aan die halwe stam van Manasse gegee. (Die Argobgebied van Basan was voorheen bekend as die land van die Refaïete.

14. Jair, ’n leier uit die stam van Manasse, het die hele Argobgebied in Basan tot by die grens van Gesur en Maäkat gevat. Jair het die gebied na homself vernoem en dit die Dorpe van Jair genoem soos wat dit vandag nog bekend is.)

15. Gilead het ek vir Makir gegee.

16. Ek het die gebied van Gilead af tot by die middel van die Arnonkloof en van daar na die Jabbokrivier op die grens van die Ammoniete vir die stamme Ruben en Gad gegee.

17. Hulle het ook die Jordaanvallei met die Jordaanrivier en sy oostelike oewer van die See van Galilea af tot by die Dooie See met die Pisgahange aan die oostekant, gekry.”

Ruben, Gad en die halwe

Manassestam

18. “Gedurende dié tyd het ek hierdie opdrag gegee aan die stamme wat aan die oostekant van die Jordaan sou bly: ‘Al het die Here julle God hierdie land vir julle as julle eiendom gegee, moet al julle weerbare mans die Jordaan gewapen en gereed oorsteek, voor julle mede-Israeliete uit.

19. Julle vroue, kinders en julle baie diere mag agterbly in die stede wat ek aan julle gegee het.

20. Nadat die Here veiligheid aan die res van die Israeliete gegee het, soos wat Hy reeds aan julle gegee het, en wanneer hulle die land wat die Here julle God aan hulle oorkant die Jordaan gee, in besit geneem het, mag julle terugkeer na die land wat Ek aan julle gegee het.’”

Moses word verbied om die land

binne te gaan

21. “Ek het destyds vir Josua gesê: ‘Jy het al hierdie dinge gesien wat die Here God aan die twee konings gedoen het. Hy sal dieselfde doen met al die ko-nings aan die westekant van die Jordaan waarheen jy op pad is.

22. Moenie vir daardie nasies bang wees nie, want die Here julle God sal vir julle veg.’

23. “Ek het toe by die Here gepleit en gesê:

24. ‘Ag, oppermagtige Here, U het begin om u grootheid en krag aan u dienaar te wys. Is daar enige god in die hemel en op die aarde wat sulke groot dinge kan doen soos wat U doen?

25. Laat my deur die Jordaan trek om die wonderlike land aan die oorkant te sien, die mooi bergwêreld en die Libanonberg.’

26. “Maar die Here was kwaad vir my oor julle en wou nie na my luister nie. ‘Dit is genoeg!’ het Hy beveel. ‘Moenie weer met My hieroor praat nie.

27. Gaan klim op die piek van die Pisgaberg en bekyk die land daar in elke windrigting. Jy mag egter nie self die Jordaanrivier oorsteek nie.

28. Gee die bevel aan Josua en bemoedig hom, want hy sal die volk deur die Jordaan lei. Hy sal die land wat jy nou voor jou sien, aan hulle gee.’

29. So het ons in die vallei naby Bet-Peor gebly.”