hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Jy mag nooit ’n bees of skaap wat siek is, of ’n bees of skaap wat ’n letsel het, vir die Here jou God offer nie. Dit is iets afskuweliks vir die Here jou God.

2. As ’n man of vrou onder julle in een van die dorpe wat die Here jou God aan jou gee, verkeerd opgetree het in die oë van die Here jou God; as so ’n persoon die verbond verbreek het

3. en ander gode aanbid het en gebuig het voor die son of maan of een van die ander hemelliggame, dinge wat Ek streng verbied het;

4. as dit vir jou vertel word of jy kom daarvan te hore, moet jy die saak deeglik ondersoek. As dit waar is dat die afskuwelike ding in Israel plaasgevind het,

5. moet die man of vrou na die poorte van die stad gebring word en daar met klippe doodgegooi word.

6. Jy mag nooit iemand op grond van die getuienis van net een persoon ter dood veroordeel nie. Daar moet altyd minstens twee of drie getuies wees.

7. Die getuies moet die eerste klippe gooi, daarna sal die res van die volk volg. So moet jy die kwaad uit jou midde uitroei.

8. “Dit kan gebeur dat ’n saak in ’n plaaslike hof vir jou te moeilik is om oor uitspraak te gee, soos oor moord, of ’n siviele saak, of oor aanranding. In so ’n geval moet jy na die plek gaan wat die Here jou God sal uitkies.

9. Hou dan die saak aan die Levitiese priesters voor of die regter aan diens. Hulle sal uitspraak lewer.

10. Tree volgens hulle beslissing daar op by die plek wat die Here sal kies. Doen presies wat hulle sê.

11. Nadat hulle die wet geïnterpreteer het en oor ’n vonnis besluit het, moet die vonnis wat hulle oplê ten volle uitgevoer word sonder om enigiets daaraan te verander.

12. Enigeen wat so arrogant is om die vonnis te verwerp van die regter of priester wat die Here jou God verteenwoordig, moet doodgemaak word. So moet jy dié soort kwaad in Israel uitroei.

13. Die hele volk sal dit hoor en bang word om ook so arrogant op te tree.”

Riglyne vir ’n koning

14. “Julle sal binnekort in die land aankom wat die Here julle God vir julle gee. Julle sal dit inneem en daar gaan woon. Julle kan dan begin dink: ‘Ons behoort ook ’n koning te hê soos die ander volke rondom ons.’

15. Stel dan tog ’n koning aan vir wie die Here jou God kies. Stel ’n mede-Israeliet aan en nie ’n vreemdeling nie.

16. Die koning mag nie baie perde aanhou nie. Hy mag ook nooit sy volk na Egipte toe stuur om daar perde te gaan koop nie, want die Here het gesê: ‘Julle mag nooit na Egipte toe teruggaan nie.’

17. Die koning mag nie baie vroue hê nie, want hulle sal hom tot ontrouheid aan die Here verlei. Hy mag ook nie groot hoeveelhede silwer en goud vir homself bymekaarmaak nie.

18. “Wanneer hy as koning op die troon sit, moet hy ’n afskrif van die gebooie in die teenwoordigheid van die Levitiese priesters in ’n boekrol laat skryf.

19. Hy moet altyd ’n afskrif daarvan by hom hou en dit elke dag lees so lank as wat hy lewe. So sal hy leer om die Here sy God te aanbid en aan die voorskrifte van die gebooie gehoorsaam te wees.

20. Dit sal keer dat hy homself verhewe ag bo sy landgenote. Dit sal ook verhoed dat hy selfs in die kleinste mate van die opdragte afwyk. Dit sal ook verseker dat hy en sy afstammelinge vir baie geslagte in Israel sal regeer.”