hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 7 Die Boodskap (DB)

Nog meer aanwysings vir die

1. Hier volg nog reëls vir die offer wat vir die Here gebring word om vir die skuld te betaal: “Hierdie offer behoort uitsluitlik aan die Here.

2. Die dienaars by die tent moet hierdie offer op presies dieselfde plek slag waar hulle ook die offers slag wat verbrand word. Die bloed word reg rondom teen die altaar gespat.

3. Die dienaar moet ook al die vet van die dier op die altaar offer, dit wil sê, ook die vetstert, die vet aan die binnegoed,

4. die twee niere met die vet daaraan by die kruis en die lewer wat saam met die niertjies verwyder is.

5. Hy moet dit alles op die altaar verbrand as ’n offer wat vir die Here verbrand word. Hierdie offer betaal vir die oortreding wat begaan is.

6. Al die manlike werkers by die tent mag ook daarvan eet. Hulle moet dit egter op ’n plek gaan eet wat daarvoor eenkant gesit is, omdat dit uitsluitlik vir die diens van die Here afgesonder is.

7. “Dieselfde reël as vir die offer wat vir die sondeskuld gebring word, geld ook vir die offer wat vir die sonde gebring word: die dienaar wat die offer bring om vir die sonde te betaal mag die vleis daarvan eet.

8. Die werker wat die offer op die altaar verbrand, mag die vel van die dier vir homself hou.

9. Enige offer wat van graan gebring word en wat in ’n oond gebak is of in ’n braaipan gebraai of op ’n rooster gaargemaak is, behoort ook aan die dienaar wat dit geoffer het.

10. Al die ander graanoffers, of dit nou met olie gemeng is of nie, behoort egter aan al die dienaars uit Aäron se familie.”

11. Nou volg die aanwysings vir die offer wat vir die Here gebring word om die verbintenis met Hom te versterk:

12. “As iemand hierdie offer bring om vir die Here dankie te sê, bring hy saam met die offer ook brood waarin daar nie suurdeeg is nie en wat in olie gebak is, of beskuitjies sonder suurdeeg wat in olie gedoop is, of ’n roosterkoek wat in olie geweek is.

13. Saam met hierdie offer waarmee hy dankie wil sê, bring hy verder ook nog ’n ronde brood waarin daar wel suurdeeg is.

14. Hy vat van elkeen van hierdie verskillende soorte brood en bied dit vir die Here as ’n buitengewone offer aan. Die dienaar wat dit na die altaar vat, mag self ook daarvan eet.

15. “Die vleis van die offer waarmee iemand kom dankie sê, moet op dieselfde dag waarop die offer gebring word, opgeëet word. Daar mag niks daarvan oorbly tot die volgende oggend nie.

16. As iemand ’n offer vir die Here bring om ’n belofte na te kom, of sommer net vrywillig iets vir die Here offer, moet dit nog dieselfde dag geëet word. As daar wel iets oorbly, mag dit egter nog op die volgende dag geëet word.

17. Die vleis wat op die derde dag nog oor is, moet egter heeltemal verbrand word.

18. As daar wel nog van die vleis van die offer oorbly op die derde dag en dan geëet word, sal dit nie meer deurgaan as ’n offer vir die Here nie. Dit sal nie langer by die Here in daardie persoon se guns tel nie. Dit sal as slegte vleis gesien word. Iemand wat ook nog daarvan eet, oortree teen die bevele van die Here.

19. Vleis wat in aanraking kom met enigiets anders wat as onwenslik en vuil beskou word, mag nie geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word. Elkeen wat aan die Here se voorskrifte voldoen en aan Hom toegewyd is, mag van die vleis van die offer eet.

20. Elkeen wat nie aan die Here behoort nie en van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die volk weggejaag word.

21. Iemand wat aan enigiets gevat het wat die Here as vuil beskou, of dit ’n mens of ’n dier is, en dan van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die gemeenskap verstoot word.”

22. Die Here het nog verder deur Moses

23. die mense van Israel beveel: “Sê vir die Israeliete: Julle mag nie beeste, skape of bokke se vet eet nie.

24. Die vet van ’n dier wat vanself doodgegaan het, of deur roofdiere verskeur is, kan wel vir ander dinge gebruik word, maar julle mag dit nie eet nie.

25. Enigiemand wat die vet eet van ’n dier wat vir die Here geoffer is, moet uit sy volk weggejaag word.

26. Waar julle ook al woon, julle mag nooit voëls of diere se bloed drink nie.

27. Enige persoon wat sulke bloed drink, sal uit die volk verwyder word.”

28. Die Here het nog verder deur Moses

29. die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “’n Persoon kan vir die Here ’n offer bring om sy goeie gesindheid teenoor die Here te bewys. Hy moet dan die deel daarvan wat vir die Here gegee word,

30. in sy hand vat en dit nader bring sodat dit vir die Here verbrand kan word. Hy bring die vet van die dier se bors en die bors self en hou dit na die Here uit.

31. Die dienaar by die tent verbrand dan die vet op die altaar. Die bors self gaan na Aäron en sy mense toe.

32. Julle moet die regterblad van die dier wat julle vir die Here offer om julle goeie gesindheid teenoor Hom te bewys as ’n spesiale porsie aan die dienaar afstaan.

33. Die regterblad van die dier behoort uitsluitlik aan die dienaars uit Aäron se familie wat die bloed en die vet van die offer by die altaar hanteer.

34. Ek het die bors wat vir My geoffer word en die blad wat aan My opgedra word, by die Israeliete weggevat uit die deel van die offers wat hulle mag eet, en Ek het dit uitsluitlik vir die dienaars uit Aäron se familie en hulle gesinne gegee. Dit is ’n reël vir die Israeliete wat nooit verander mag word nie.

35. “Dit is die gedeelte van die offers vir die Here wat op die altaar verbrand word, wat aan Aäron en sy seuns behoort van die dag dat die Here hulle aangestel het om sy dienaars by die tent van ontmoeting te wees.

36. Dit is ook die gedeelte van die offer wat die Here beveel het hulle moet kry van die dag dat Hy hulle uit die Israeliete gekies en laat aanstel het om Hom te dien. Dit is ’n reël wat altyd vas sal staan tot in die verre toekoms.”

37. So moet dan gemaak word met die offer wat heeltemal verbrand word, met die offer wat uit die graan uit kom, die offer wat vir die sonde gebring word, die offer wat gebring word om vir die skuld van die oortreding reg te maak, die offers wat gebring word as iemand as dienaar aangestel word by die tent van ontmoeting, en met die offers wat mense bring om hulle positiewe gesindheid teenoor die Here te wys.

38. Dit is ook die voorskrifte wat die Here vir Moses gegee het by die berg Sinai op die dag toe hy vir die Israeliete voorgeskryf het hoe hulle vir die Here in die Sinaiwoestyn moet offer.