hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 5 Die Boodskap (DB)

Om vir die skuld te betaal

1. “As iemand gehoor het hoe iemand anders vloek en hy bly stil daaroor, het hy ’n fout gemaak. Hy moet vir sy skuld betaal.

2. As iemand aan iets raak wat nie reg is nie, word hy self ook iemand wat nie reg is nie. ’n Wilde dier wat dood is, of vee wat gevrek het of enige dier wat as vuil beskou word, is nie reg nie. Selfs al het hy nie geweet dat die dooie dier verkeerd is nie, is hy skuldig aan ’n oortreding.

3. As iemand raak aan iets van ’n mens wat verbode is, aan enigiets wat homself verkeerd maak, of hy dit nou geweet het of nie, kan hy gestraf word.

4. “Iemand is voor op die wa en hy sweer sommer dat hy iets gaan doen, of dit nou is om kwaad of goed te doen. Vir elke ding wat die mens met ’n eed gesweer het om te doen sonder dat hy eers daaroor nagedink het, sal hy skuldig wees, of hy mooi geweet het wat hy doen of nie.

5. As hy op enige manier skuldig is, behoort hy te sê hy is jammer.

6. Vir die oortreding wat hy begaan het, moet hy vir die Here iets bring om vir sy skuld te betaal. Vir sy sonde moet hy met ’n ooi uit sy kudde betaal, of met skape of met bokke. Die dienaar by die tent van ontmoeting sal met die dier vir sy sonde betaal en vir hom vergifnis vir sy sonde bring.

7. “As iemand nie een van hierdie diere kan bekostig nie, mag hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe vir die Here bring om vir sy skuld te betaal. Die een duif betaal vir sy sonde. Die ander een is ’n offer wat vir die Here verbrand word.

8. Hy moet die twee duiwe vir die dienaar by die tent bring. Die dienaar offer die een wat vir die sonde is eerste. Hy draai sy nek om en knyp sy kop agter die nek af. Hy mag dit egter nie afskeur nie.

9. Die dienaar spat van die bloed van die duif teen die kant van die offerplek. Die bloed wat oor is, druk hy teen die voet van die altaar uit. Dit is dan ’n offer vir die sonde wat die persoon gedoen het.

10. Die tweede duif verbrand hy volgens die voorskrifte wat vir hom gegee is. So bring die dienaar by die tent vir die man vrystelling van die oortreding wat hy begaan het. God vergewe hom.

11. “Indien ’n persoon nie genoeg geld het vir twee tortelduiwe of twee jong duiwe nie, kan die persoon wat oortree het, twee kilogram fynmeel vir sy sonde bring. Omdat dit ’n offer vir sy sonde is, mag hy nie olyfolie of geurige wierook daaroor sit nie.

12. Hy bring die meel na die dienaar by die tent van ontmoeting. Die amptenaar sal dan ’n hand vol daarvan vat vir die deel wat verbrand moet word en dit op die altaar verbrand saam met die diere wat vir die Here in die vuur verbrand word. Dit sal die offer vir sy sonde wees.

13. Op hierdie manier bring die dienaar ’n offer vir enige van die oortredings wat hierbo genoem is wat die persoon begaan het. Die persoon word vir sy oortreding vergewe. Met die meel wat oor is, maak die dienaar net soos met dié wat oor was by die offer wat gebring is om saam met die Here te eet.”

Offers om die verhouding met God te herstel

14. Die Here het verder vir Moses gesê:

15. “Iemand is miskien nie getrou aan God nie. Deur sy agtelosigheid respekteer hy nie die dinge wat vir die Here belangrik is nie. Hy moet dan iets vir die Here bring om sy oortreding weer goed te maak. Die dier wat hy bring om sy skuld goed te maak moet ’n skaapram uit sy veetrop wees wat geen foute het nie. Die waarde daarvan moet deur die dienaar by die tent bepaal word.

16. Hy moet vergoed vir die skade wat hy die Here se blyplek laat ly het. Hy moet een vyfde meer betaal as die verlies wat hy veroorsaak het. Hy moet die geld vir die dienaar by die tent kom gee. Die dienaar herstel die skade wat hy gemaak het met die skaapram wat vir sy oortreding geslag word. Sy oortreding word dan vergewe.

17. “As iemand nalatig is en iets doen wat die Here verbied het, is hy skuldig. Hy word daarvoor verantwoordelik gehou.

18. Hy bring ’n ram sonder enige foute na die dienaar by die tent toe. Dit moet net soveel werd wees as die oortreding wat hy begaan het. Die dienaar gebruik dit om te betaal vir die fout wat hy gemaak het waarvan hy nie bewus was nie. Hy word dan van sy oortreding vrygespreek.

19. Die offer wat hy gebring het vir sy skuld by God herstel dan die oortreding wat hy teen die Here begaan het.”