hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 4 Die Boodskap (DB)

As iemand nie bedoel het om verkeerd te doen nie

1. Die Here het deur Moses die volgende gesê

2. oor iemand wat nie moedswillig was toe hy iets gedoen het wat die Here in sy wette verbied het nie.

3. “As dit die hoof van die dienaars by die tent van ontmoeting is wat verkeerd gedoen het, maak hy dat die hele volk ook skuldig is aan die oortreding. Hy moet vir die fout wat hy gemaak het ’n jong bul sonder enige foute na die Here bring. Dit sal vir sy sonde betaal.

4. Hy lei die bul tot by die ingang van die tent van ontmoeting. Daar sit hy sy hand op die bul se kop. Hy slag dit daar voor die Here.

5. Hy vat dan van die bloed van die bul en gaan daarmee in die tent van ontmoeting in.

6. Daar doop hy sy vinger in die bloed en sprinkel daarvan sewe keer in die teenwoordigheid van die Here op die grond voor die gordyn wat die Here se deel van die res van die tent afskort.

7. Hy smeer ook van die bloed aan die horings aan die punte van die altaar waarop die wierook gebrand word daar in die tent van ontmoeting. Die res van die bul se bloed gooi hy uit teen die onderkant van die ander altaar by die ingang van die tent van ontmoeting.

8. Vervolgens slag hy al die vet van die bul uit wat hy vir sy sonde gebring het: die vetlaag aan die binnekant en die vet aan die binnegoed self.

9. Hy sny ook die twee niere en die vet wat daaraan is, by die kruis uit en die vet van die niere wat by die lewer is.

10. Dit is dieselfde dele wat by die bul uitgesny word wat vir die Here geoffer word om saam met Hom te eet. Hy verbrand dit dan alles op die altaar met vuur.

11. Die res van die bul, sy vel, al sy vleis, sy kop en sy pote, sy binnegoed en alles wat daarin is,

12. alles van die bul, moet hy uitvat buitekant die laer na die plek wat eenkant gesit is vir die vet en die as wat van die tent af kom. Op daardie plek buite die kamp waar die vet en die as gewoonlik verbrand word, moet hy dan al hierdie dele van die bul op ’n houtvuur verbrand.

13. “As die hele geloofsgemeenskap van Israel oortree het, is hulle almal skuldig. Selfs al was die groep onbewus daarvan dat hulle iets gedoen het wat in die Here se wette verbied is, is hulle almal skuldig.

14. As dit duidelik word dat hulle oortree het, moet hulle almal saam ’n bul na die tent van ontmoeting bring om dit vir hulle sonde te offer.

15. Die leiers van die groep moet daar voor die Here hulle hande op die bul se kop sit. Hulle slag dan die bul voor die Here.

16. Die dienaar wat met olie gesalf is om vir die Here te werk bring dan van die bloed van die bul in die tent van ontmoeting in.

17. Hy doop sy vinger in die bloed en sprinkel sewe keer teen die gordyn in die tent.

18. Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die altaar wat daar voor die Here in die tent van ontmoeting staan. Die bloed wat nog oor is, gooi hy teen die onderkant van die altaar uit.

19. Hy vat ook al die vet van die bul en verbrand dit op die altaar.

20. Hy maak met die bul presies net soos hy gemaak het met die bul wat hulle vir hulle sonde gebring het. Wanneer hy so maak, vergewe die Here die volk dat hulle oortree het. Daar kom weer vrede tussen God en sy mense.

21. Die dienaar van die tent vat dan die bul se karkas uit die kamp uit en hy verbrand dit daar, net soos hy met die eerste bul gemaak het. Hierdie bul is dan die offer vir die sonde van die volk.

22. “Wanneer ’n leier ’n fout maak sonder dat hy dit bedoel en hy iets doen wat die Here beveel het nie mag gebeur nie, is hy skuldig.

23. As dit duidelik word dat hy oortree het, moet hy ’n bokram sonder gebrek vir die Here bring.

24. Hy sit sy hand op die bok se kop en slag hom op dieselfde plek waar die offers geslag word wat vir die Here verbrand word. Daarmee betaal hy vir die sonde wat hy gedoen het.

25. Die persoon wat by die tent diens doen, vat van die bloed van die dier wat hy vir sy sonde kom offer het en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die voet van die altaar uit.

26. Hy verbrand dan al die vet van die bok op die altaar net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Wanneer die dienaar so maak, bring hy vergewing vir die leier se sonde. Hy word dan vrygespreek van sy oortreding.

27. “Wanneer een van die inwoners van die land nalatig was en iets gedoen het waarteen die wette van die Here hom gewaarsku het, is hy skuldig.

28. As iemand hom daarop wys, moet hy ’n bokooi sonder foute vat en dit vir die Here kom offer. Dit betaal vir die fout wat hy gemaak het.

29. Hy sit sy hand op die dier se kop. Hy slag dit op dieselfde plek waar die diere wat verbrand word, ook geslag word.

30. Die amptenaar wat diens doen by die tent vat van die bloed van die ooi en smeer daarvan met sy vinger aan die horings van die altaar waarop die diere verbrand word. Wat van die bloed oorbly, gooi hy uit teen die onderkant van die altaar.

31. Die man verwyder self al die vet van die bok net soos die vet van die dier wat gebring is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit op die altaar sodat dit vir die Here lekker kan ruik. Op hierdie manier vergewe die Here die man vir wat hy verkeerd gedoen het. Daar is weer vrede tussen hom en die Here.

32. “Indien die persoon eerder ’n skaapooi vir sy sonde wil bring, moet dit een sonder foute wees.

33. Hy sit sy hand op haar kop en slag die dier vir sy sonde op dieselfde plek waar die offer geslag word wat in die vuur verbrand word.

34. Die dienaar vat van die bloed van die dier wat geslag is en smeer met sy vinger daarvan aan die horings van die brandofferaltaar. Die bloed wat oor is, gooi hy teen die onderkant van die altaar uit.

35. Die persoon verwyder self al die vet net soos die vet van die bok wat geoffer is om saam met die Here te eet. Die dienaar verbrand dit alles op die altaar saam met die ander diere wat vir die Here verbrand word. So bring die dienaar by die tent die betaling vir die persoon se sonde. Hy word vrygespreek. Daar kom weer vrede tussen hom en God.”