hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 2 Die Boodskap (DB)

Wanneer graan vir die Here gebring word

1. “Wanneer iemand vir die Here graan bring, moet dit van fyngemaalde meel wees. Die persoon kan bloot net olyfolie oor meel uitgooi en lekkerruik-wierookstokkies daarop sit.

2. Hy bring dit dan net so na God se dienaars daar by die tent. Hy vat ’n hand vol van die meel met die olie en wierook op. Hy gee dit vir die dienaar sodat hy dit op die altaar kan verbrand. Die hand vol meel verteenwoordig ook die res van die meel wat hy vir die Here gebring het. Dit word ’n vuuroffer genoem. Dit is iets waarvan die Here baie hou.

3. Die res van die meel wat nie verbrand is nie, moet vir die diens van die Here gegee word. Aäron en sy seuns wat by die tent van ontmoeting werk, mag dit vir hulleself vat.

4. “Wanneer die graan wat jy vir die Here bring, graan is wat reeds verwerk is en al klaar in ’n oond gebak is, kan dit in die vorm van ’n ronde brood wees van fynmeel wat met olie gemeng is waarin daar nie suurdeeg is nie. Dit kan ook beskuitjies wees sonder suurdeeg wat in olyfolie gedoop is.

5. As dit graan is wat op ’n plaat gebak is, moet dit gemaak wees van fynmeel wat met olyfolie gemeng is waarin daar nie suurdeeg is nie.

6. Jy moet dit in krummels breek en olie daaroor uitgooi. Dit word dan ’n graanoffer genoem.

7. As dit graan is wat in ’n braaipan gebak is, moet jy dit maak van fynmeel wat met olie gemeng is.

8. “Jy moet die graanoffer wat op enige van hierdie maniere gemaak is, vir die dienaar by die tent bring sodat hy dit op die altaar kan verbrand.

9. Hy sal daaruit die deel van die graan vat wat verbrand moet word, en dit op die altaar laat brand. Dit sal dan ’n vuuroffer wees waarvan die Here baie hou.

10. Die res van die brood wat oor is, behoort alles aan die Here. Aäron en sy seuns wat vir die Here by die tent werk, mag dit eet.

11. “Die graan wat jy vir die Here bring, mag nooit suurdeeg in hê nie. Jy mag nie iets vir die Here bring waarin daar suurdeeg of heuningstroop is nie.

12. Julle mag wel sulke graan vir die Here bring wanneer dit die heel eerste graan van die oes is. Julle mag dit egter nie op die altaar laat verbrand nie. Dit moet nie gebring word om ’n geurige offer vir die Here te wees nie.

13. Jy moet al die graan wat jy vir die Here bring, met sout behandel. Jou verbintenis aan die Here is ’n geestelike sout wat jou van afvalligheid bewaar. Net so moet daar ook altyd sout wees by die graan wat jy vir die Here bring. Oor alles wat jy offer, moet daar sout wees.

14. “As die graan wat jy vir die Here bring, uit die heel eerste graan van die begin van die oes kom, moet dit vars stampkoring wees wat oor vuur gerooster is. Jy moet die heel beste graan uit jou oes vir die Here gee.

15. Jy moet olyfolie daaroor gooi en lekkerruik-wierookstokkies daarop sit. Gee dit vir die Here as ’n graanoffer.

16. Die dienaar by die tent van ontmoeting sal die deel van die koring en die olie vat wat saam met die geurige wierook verbrand moet word. Hy sal dit in die vuur verbrand as ’n vuuroffer vir die Here.”