hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 13 Die Boodskap (DB)

Velsiektes wat mense onaanneemlik maak

1. Die Here het so vir Moses en Aäron gesê:

2. “’n Man wat op sy vel ’n vlek, of ’n skurfte of ’n uitslag het wat in ’n kwaadaardige velsiekte kan oorgaan, moet na Aäron by die tent van die Here, of een van sy seuns wat daar werk, gebring word.

3. Die dienaar van die Here moet dan na die aangetaste deel op die vel kyk. As die haartjies op die plek verkleur het en dit lyk of die seer dieper as die vel is, dan is dit ’n kwaadaardige velsiekte. Die dienaar wat dit ondersoek het, moet die man dan aansê om van die ander mense af weg te bly.

4. As die uitslag op sy vel nie ’n donker kleur het nie en dit nie lyk of dit dieper as die vel is nie en die hare daarop het nie verkleur nie, moet die dienaar die man met die velaandoening vir sewe dae van ander mense af weghou.

5. Hy moet op die sewende dag weer daarna kyk. As dit vir hom lyk of dit net so gebly het en die uitslag nie verder op die vel versprei het nie, moet hy die man vir nog sewe dae laat eenkant bly.

6. Daarna moet hy hom weer ondersoek. As die uitslag verdwyn het en nie verder op die vel versprei het nie, moet die dienaar vir hom sê dat hy tussen die ander mense kan bly. Dit was ’n tydelike uitslag. Die man moet sy klere gaan was en met sy normale lewe aangaan.

7. As die uitslag egter weer begin versprei nadat die dienaar by die tent van die Here dit bekyk het en hom gesond verklaar het, moet hy teruggaan na die dienaar toe.

8. As die dienaar sien dat dit oor die vel versprei het, moet hy die man uit die gemeenskap laat weggaan. Dit is dan ’n aansteeklike velsiekte.

9. “Wanneer ’n man ’n aansteeklike velsiekte het, moet hy na die tent kom

10. sodat die dienaar daarna kan kyk. As daar ’n witterige uitslag op die vel is, die hare daarop verkleur het en daar ’n oop seer is,

11. is dit ’n chroniese velsiekte. Die dienaar moet hom dan wegstuur uit die gemeenskap uit. Hy hoef nie vir ’n tyd eenkant te bly nie, want dit is duidelik dat hy nie langer tussen ander mense kan bly nie.

12. As die velsiekte versprei het en dit vir die dienaar lyk of dit oor die persoon se hele lyf is, van sy kop tot sy tone,

13. moet hy hom oral ondersoek. As die uitslag kleurloos geword het, moet hy hom na sy mense laat teruggaan. Hy mag tussen ander mense bly.

14. Sodra daar egter ’n rou seer verskyn, kan die persoon nie tussen ander mense bly nie.

15. Die dienaar moet die rou seer ondersoek. ’n Rou seer is gevaarlik en aansteeklik. Dit is ’n chroniese velsiekte.

16. Wanneer die oop seer egter toegroei en wit word, moet die man weer na die Here se tent toe gaan.

17. Wanneer hy ondersoek word en die dienaar sien dat die seer wit geword het, moet hy weer toegelaat word onder die ander mense. Hy word weer in die gemeenskap toegelaat.

18. “As iemand ’n seer op sy lyf gehad het wat weer gesond geword het,

19. en daar kom dan ’n wit roof of rooierige vlek op die plek waar die seer was, moet hy dit vir die dienaar by die tent waar die Here gedien word, gaan wys.

20. As dit vir die dienaar lyk of dit onder die vel ingaan en die hare op daardie plek verkleur het, moet hy die man wegstuur. ’n Kwaadaardige velsiekte het in die seer ontstaan.

21. As hy daarna kyk en hy sien nie hare wat verkleur het of iets wat onder die vel ingaan nie, maar dat die hare ligter geword het, moet hy die man vir sewe dae afsonder.

22. As dit dan sonder twyfel oor die vel versprei het, moet hy die man wegstuur. Dit is ontsteek.

23. As dit egter net so bly en die uitslag sprei nie verder nie, is dit die litteken wat die seer gelaat het. Hy moet die man na sy mense laat teruggaan.

24. “Wanneer die roof oor ’n brandwond rooierig of wit word,

25. moet die dienaar dit ondersoek. As die hare in die roof ’n ander kleur gekry het en dit is dieper as die vel, het daar kwaad in die brandwond gekom. Die dienaar moet hom dan wegstuur. Hy het ’n kwaadaardige velsiekte.

26. As die werker by die tent na die roof kyk en hy sien nie hare wat verkleur het of dat dit onder die vel ingegaan het nie, maar dat dit tog ligter geword het, moet hy die man vir sewe dae afsonder.

27. Wanneer hy dit op die sewende dag weer ondersoek en dit het beslis verder oor die vel versprei, moet hy die man wegstuur. Dit het kwaadaardig geword.

28. As die wond egter net so gebly het en die uitslag het nie verder oor die vel versprei nie, maar dit het ligter geword, is dit ’n gewone merk wat die brandwond gelaat het. Die dienaar moet die man dan terugstuur na sy mense toe, want dit is ’n gewone litteken op die brandwond.

29. “Wanneer ’n man of ’n vrou ’n seer teen die kop het of teen die ken

30. en dit vir die dienaar lyk of dit dieper as die vel is en daar koperkleurige dun haartjies in die wond is, moet hy die persoon wegstuur. Dit is ’n kwaai velsiekte van die kop of die ken.

31. Wanneer hy die veluitslag ondersoek en dit lyk vir hom of dit nie dieper as die vel is nie en daar is nie swart haartjies in die wond nie, moet hy die geval met die velaandoening vir sewe dae in isolasie plaas.

32. Wanneer hy weer op die sewende dag na die uitslag kyk en dit nie lyk of dit versprei het nie, die hare daarin nie koperkleurig geword het nie en dit nie dieper as die vel geword het nie,

33. moet die persoon se hare afgeskeer word. Die hare in die aangetaste deel moet egter net so bly. Die dienaar sonder die persoon vir nog sewe dae af.

34. Op die sewende dag bekyk hy weer die veluitslag en as dit nie verder oor die vel versprei het nie en dit nog steeds nie dieper as die vel lyk nie, verklaar hy dat die persoon aanvaarbaar is. Die persoon gaan was sy klere en gaan weer terug na sy huis.

35. As die uitslag hervat het en weer begin versprei het nadat die persoon geskik verklaar was,

36. moet die dienaar weer daarna kyk. As dit verder oor die vel begin versprei het, hoef hy nie nog eers te soek na hare wat verkleur het nie - die persoon is in elk geval onaanvaarbaar.

37. Wanneer hy egter besluit dat die uitslag opgehou het en begin gesond word, omdat daar geen swart haartjies uitgekom het nie, is die persoon reg en mag hy weer teruggaan na die ander mense toe.

38. “Wanneer ’n man of ’n vrou oral ligte kolle op die lyf begin kry,

39. moet hy of sy na die tent toe gaan vir ’n ondersoek. As die uitslag baie lig van kleur is, is dit maar net onskadelike vlekke wat op die vel ontwikkel het. Die persoon is aanvaarbaar.

40. “As iemand se hare begin uitval en hy word bles, is hy nog steeds aanvaarbaar.

41. Selfs as hy sy kuif verloor en net op sy voorkop bles word, is hy nog steeds aanvaarbaar.

42. Wanneer daar egter op sy kaal voorkop of agter op sy bles ’n rooierige uitslag verskyn, het hy ’n velsiekte op sy kop.

43. Die dienaar moet dit ondersoek. As daar ’n rooierige uitslag op sy kop is wat soos ’n velsiekte lyk,

44. is hy aangetas en moet hy homself beslis uit die gemeenskap verwyder. Die dienaar moet uitdruklik verklaar dat die seer op sy kop hom onaanvaarbaar vir die gemeenskap gemaak het.

45. Die persoon wat met die velsiekte aangetas is, moet stukkende klere dra en nie sy hare kam of was nie. Hy moet die onderkant van sy gesig met iets toemaak en uitroep: ‘Ek mag nie by ander mense bly nie, ek mag nie in aanraking kom met ander mense nie!’

46. So lank as wat hy die velsiekte het, moet hy eenkant gaan bly. Hy moet alleen buitekant die kamp in sy eie blyplek bly.”

Muf op klere wat dit onbruikbaar maak

47. “Wanneer daar muf op klere kom, of die klere nou van wol of linne gemaak is,

48. of die muf nou voorkom in die garing van die linne of op wol of op leer of enigiets wat van leer gemaak is

49. en daardie mufplek op die klere is vaalgroen of rooierig, kan dit gevaarlik wees. Dit moet vir die dienaar by die tent gewys word.

50. Hy moet baie goed na die mufkol kyk en die ding waarop dit is vir sewe dae gaan wegbêre.

51. Op die sewende dag moet hy dit gaan haal en weer daarna kyk. As die muf op die klere, of in die garing, of die materiaal, of op die ding wat van leer gemaak is, in daardie tyd meer geword het, is dit besmetlike muf. Dit moet verwyder word.

52. Hy moet die klere, of garing, of materiaal van wol of linne of leer waarop dit voorkom, in die vuur verbrand. Dit is gevaarlike muf.

53. Wanneer hy egter daarna kyk en sien dat dit nie meer geword het nie,

54. moet hy die klere laat was en vir nog sewe dae eenkant hou.

55. As hy daarna sien dat die muf nog steeds nie verdwyn het nadat dit gewas is nie, selfs al het dit ook nie meer geword nie, moet dit weggegooi word. Dit moet in die vuur verbrand word. Dit is heeltemal besmet, of dit nou net aan die bo- of net aan die onderkant is.

56. As hy egter sien dat die mufkol ligter geword het nadat dit gewas is, moet hy die gedeelte waarop die mufkol is, uitskeur uit die klere, of die vel, of die garing, of die materiaal.

57. As daar weer ’n kol op die klere of in die garing, of die materiaal of die leer kom, het die muf weer begin groei. Die klere waarop dit voorkom, moet in die vuur verbrand word.

58. Wanneer dit verdwyn van die klere of garing of materiaal of leer na dit gewas is, moet dit egter nog ’n keer gewas word. Dit kan dan weer gebruik word.

59. “Dit is dan die aanwysings vir muf op klere, in garing, of op materiaal van wol of linne en leerartikels om vas te stel of dit gedra kan word en of dit verbrand moet word.”