hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25 Die Boodskap (DB)

Die jaar van die sabbat

1. Terwyl Moses bo-op Sinaiberg was, het die Here vir hom gesê

2. om die Israeliete te beveel: “Wanneer julle in die land gaan bly wat Ek vir julle sal gee, moet die land ook rus. Daar moet ’n sabbatsjaar wees vir die Here.

3. Jy mag ses jaar lank op die lande saai en die wingerde bewerk en oeste insamel.

4. In die sewende jaar moet die boerdery heeltemal gestaak word. Daardie jaar is die Here se sabbatsjaar. Jy moet daardie jaar niks op die lande saai nie en glad nie die wingerde bewerk nie.

5. Julle mag ook nie die graan wat vanself opkom, oes nie. Julle mag ook nie die druiwe van die ongesnoeide wingerdstokke afpluk nie. Dit moet vir die land ’n jaar van volkome rus wees.

6-7. Julle moet die grond kans gee om te rus. Jy en die slaaf wat vir jou werk, jou slavin, jou tydelike werker, dié wat by jou woon en die buitelanders wat by jou is, jou vee en al jou diere, julle almal sal daardie jaar eet van die dinge wat die land op natuurlike wyse oplewer.”

Die jaar waarin alles herstel word soos tevore

8. “Tel sewe sabbatsjare af, dit wil sê sewe tye wat elkeen sewe jaar lank is, sodat dit uitwerk op ’n volle 49 jaar.

9. Op die tiende dag van die sewende maand in die 50ste jaar, die dag wat die Here vrede gee, moet julle op die trompette blaas. Kondig deur die hele land aan

10. dat julle daardie jaar aan die Here moet opdra. Julle moet dan bekendmaak dat al die inwoners daardie jaar alles kan terugkry wat vroeër aan hulle behoort het. Elkeen kan dan weer teruggaan na die grond wat hy oorspronklik besit het. Elke slaaf word vrygemaak en hy kan teruggaan na sy eie familie toe.

11. In hierdie hersteljaar mag julle niks saai nie. Julle mag ook nie die graan wat vanself opkom, afoes of die druiwe van die ongesnoeide wingerdstokke afpluk nie.

12. Dit moet vir julle ’n spesiale jaar wees waarin alles weer herstel. Julle mag net eet wat die veld oplewer.

13. In die hersteljaar kan elkeen teruggaan na die grond wat hy vantevore besit het.

14. As julle in ander jare grond aan mekaar verkoop of van mekaar koop, moet julle mekaar nie verkul nie.

15. As jy by iemand grond koop, moet jy uitreken hoeveel jare al verbygegaan het na die laaste hersteljaar. As jy dit aan ’n ander verkoop, moet jy bereken hoeveel jare se oes daar nog oor is na die volgende hersteljaar toe.

16. Hoe meer jare oor is, hoe hoër is die koopprys. As daar minder jare oor is, is die verkoopprys soveel minder. Eintlik is dit nie grond wat jy koop en verkoop nie, maar die aantal oeste wat dit kan oplewer.

17. Uit respek vir jou God moet julle mekaar nie bedrieg nie. Ek is tog die Here, julle al twee se God.

18. “Hou by die reëls wat Ek gegee het. Volg my voorskrifte en lewe volgens hulle. Julle sal dan in die land kan bly sonder dat daar iets is wat julle bangmaak.

19. Die land sal goeie oeste gee. Julle sal altyd genoeg kos hê om te eet tot julle genoeg gehad het. Julle sal hier woon sonder bekommernis.

20. “Moenie staan en wonder waar julle kos gaan kry in die sewende jaar as julle nie mag saai of die oes mag insamel nie.

21. Ek sal julle in die sesde jaar so voorspoedig maak en die oes so groot laat wees dat dit drie jaar lank sal hou.

22. Julle sal in die agtste jaar saai, maar nog steeds kan eet van die oes wat in die sesde jaar ingekom het. Julle sal selfs daarvan kan eet tot die oes van die graan wat julle in die agtste jaar gesaai het, eers teen die negende jaar begin inkom.

23. “Grond mag nooit vir altyd verkoop word nie, want dit behoort eintlik aan My. Julle is bloot vreemdelinge en mense wat tydelik op my grond bly.

24. Wanneer en waar ook al julle in die land grond verkoop, moet daar altyd ooreengekom word dat die oorspronklike eienaar dit kan terugkoop.

25. Wanneer een van jou landgenote bankrot speel en sy erfgrond moet verkoop om sy skuld te betaal, moet sy naaste familielid kom en dit vir hom terugkoop.

26. As iemand nie so ’n familielid het nie, en hy kry dit reg om self genoeg geld bymekaar te kry om sy grond terug te koop,

27. moet hy uitwerk hoeveel tyd verbygegaan het vandat hy die grond verkoop het en hoeveel gebruiksjare daar nog vir die koper oor is tot die volgende hersteljaar. Sodra hy betaal het, kan hy weer teruggaan na sy grond toe.

28. As hy nie genoeg geld bymekaar kan kry nie, bly die grond in besit van die een wat dit gekoop het tot by die hersteljaar. In die hersteljaar mag die oorspronklike eienaar teruggaan na sy eiendom.

29. “Iemand wat ’n woonhuis in ’n stad verkoop wat ’n veilige muur om het, behou vir een volle jaar die reg om dit terug te koop.

30. As hy nie sy reg om terug te koop binne daardie jaar gebruik nie, word die huis die permanente eiendom van die koper. Dit word deel van sy boedel. Dit word nie teruggegee in die hersteljaar nie.

31. Huise in dorpe wat geen veiligheidsmuur om het nie, is deel van die platteland. Die persoon wat dit verkoop het, mag dit terugkoop. In die hersteljaar gaan dit terug na sy oorspronklike eienaar.

32. “Leviete het vir altyd die reg om in die stede wat aan hulle behoort die huise wat hulle verkoop het, terug te koop.

33. ’n Huis in ’n Levietestad wat verkoop is, maar nie teruggekoop is nie, moet gedurende die hersteljaar teruggaan na sy oorspronklike Levitiese eienaar toe. Die huise in Levitiese stede is die permanente eiendom van die Leviete in Israel.

34. Die weivelde in die buitewyke van hulle stede is nie te koop nie. Dit is hulle onvervreembare erfgrond.”

Skuld en slawediens

35. “As een van die ander Israeliete agteruit begin boer en hy raak so diep in die skuld dat hy nie meer daar kan uitkom nie, moet jy hom help. Staan hom by soos jy iemand wat van ’n ander land af kom, of iemand wat by jou woon, sou help om aan die lewe te bly.

36. Jy moenie rente vra of heffings bysit by die geld wat hy van jou geleen het nie. Uit respek vir jou God moet jy na hom omsien.

37. Jy moenie rente vra op die geld wat jy vir hom leen nie. Jy moet ook nie vir hom kos gee en ekstra geld daarvoor vra nie.

38. Ek is tog die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het, juis om Kanaän aan julle te gee om dit te besit en om julle God te wees.

39. “As ’n ander Israeliet so diep in die skuld raak dat hy verplig word om homself as ’n slaaf aan jou te verkoop om sy skuld te betaal, moet jy hom nie soos ’n slaaf behandel en hom slawewerk laat doen nie.

40. Jy moet hom behandel soos iemand wat tydelik in jou diens is, of soos ’n werknemer wat in jou huis woon. Laat hy in jou diens bly tot in die hersteljaar.

41. Hy en sy kinders moet dan van jou af weggaan en as vry mense terugkeer na hulle familie en hulle erfgrond toe.

42. Die mense wat Ek uit Egipte laat wegtrek het, dien net vir My. Hulle mag nooit aan ander mense as slawe verkoop word nie.

43. Omdat jy ontsag moet hê vir jou God, mag jy nie hardhandig baasspeel oor dié wat vir jou werk nie.

44. “Jy mag wel manlike of vroulike slawe besit wat vir jou werk. Jy moet hulle by julle buurvolke gaan koop.

45. Jy mag ook die kinders van buitelandse werkers wat by jou woon en die kinders van hulle families wat in jou land gebore is, vir slawe aankoop. Hulle word deel van jou roerende goedere.

46. Jy kan hulle in jou testament aan jou kinders bemaak as hulle eiendom. Hulle is lewenslank hulle slawe. Een Israeliet mag egter nie ’n ander Israeliet met geweld oorheers nie.

47. “As ’n buitelander, of iemand wat met ’n werkspermit by julle woon, so ryk word dat ’n ander Israeliet naderhand so diep in die skuld by hom raak dat hy homself as slaaf aan daardie persoon moet aanbied,

48. bly dit steeds moontlik dat hy vrygekoop kan word. ’n Ander Israeliet,

49. sy oom of sy neef of enige van sy ander familielede kan hom loskoop en sy skuld kom betaal. Hy mag selfs ook die geld iewers in die hande kry om homself uit sy skuld uit te koop.

50. Hy en sy eienaar moet die bedrag bereken volgens die betaling wat ’n dagwerker kry. Hulle trek dan die jare diens wat hy reeds gelewer het sedert hulle die ooreenkoms gesluit het af van die jare diens wat hy nog moet lewer tot die volgende hersteljaar toe.

51. Hoe meer jare daar nog oor is tot by die hersteljaar, hoe groter is die bedrag wat hy moet betaal.

52. As daar maar net ’n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die aflosbedrag baie kleiner wees.

53. Die buitelander moet hom behandel soos ’n huurarbeider wie se kontrak jaarliks hernu word. Julle moet toesien dat hy nie die Israeliet gewelddadig behandel nie.

54. As hy nie voor die tyd op die een of ander manier losgekoop is nie, moet hy en sy kinders in elk geval in die hersteljaar vrygestel word.

55. “Die Israeliete werk vir My. Ek het hulle uit Egipte laat wegtrek sodat hulle My kan dien. Ek is julle God, die Here.”