hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 20 Die Boodskap (DB)

Getrou aan God alleen

1. Die Here het verder vir Moses beveel

2. om vir die Israeliete te sê: “Enigeen uit Israel of uit die buitelanders wat tydelik in Israel bly wat sy kind aan die afgod Molek offer, moet beslis doodgemaak word. Die volk moet hom met klippe doodgooi.

3. Ek verwerp so iemand en Ek beskou hom nie langer as deel van die volk nie. Wanneer hy sy kind vir Molek gee, het hy My goedkoop gemaak en my Naam deur die modder gesleep.

4. As die volk toelaat dat iemand sy kinders aan Molek afstaan en hom nie doodmaak nie,

5. sal Ek self teen hom en sy familie optree. Ek sal hom en elkeen wat saam met hom ontrou is aan My en agter Molek aanloop, uit die volk wegvat.

6. Ek verwerp die persoon wat afdwaal en agter spiritiste en die geeste van dooies aanloop. Hy is nie meer een van die volk nie.

7. Leef vir My met alles wat julle het. Wees aan My toegewyd, want net Ek, die Here, is julle God.

8. Hou vas aan my reëls en leef volgens hulle, want Ek, die Here, het julle aan My alleen verbind.”

Skandelike gedrag

9. “Wanneer enigiemand sy ouers met minagting behandel, moet hy doodgemaak word. Iemand wat op sy ouers neersien, mag nie bly leef nie.

10. “As ’n man by ’n ander man se vrou slaap, moet hulle al twee doodgemaak word.

11. As ’n man by een van sy pa se vroue slaap, bring hy sy pa in die skande. Al twee is skuldig en hulle moet doodgemaak word.

12. As ’n man by sy skoondogter slaap, het hulle skande gemaak. Albei is skuldig. Hulle moet doodgemaak word.

13. As ’n man seksueel met ’n ander man verkeer soos met ’n vrou, het hulle iets baie leliks gedoen. Hulle is al twee skuldig en al twee moet doodgemaak word.

14. Dit is ’n skande as ’n man gemeenskap het met sy vrou sowel as sy skoonma. Hulle al drie moet met vuur verbrand word om sulke skandelike gedrag onder julle stop te sit.

15. ’n Man wat seks het met ’n dier moet doodgemaak word en die dier moet doodgeslaan word.

16. As ’n vrou met ’n dier verkeer, moet sy en die dier doodgemaak word.

17. As ’n man en sy suster of halfsuster met mekaar afspreek en met mekaar seks het, moet hulle in die openbaar uit die volk weggejaag word. Die man het sy suster onteer en hy moet daarvoor verantwoordelikheid aanvaar.

18. ’n Man en vrou wat met wedersydse instemming saamslaap terwyl sy besig is om te menstrueer, moet al twee van die volk afgesny word.

19. Jy mag nie omgang hê met jou tannie nie, of dit nou aan jou pa of jou ma se kant is, want dit is bloedfamilie. Julle moet albei skuld aanvaar.

20. Iemand wat by sy tannie slaap, bring skande oor sy oom. Die man en vrou moet verantwoordelikheid aanvaar vir hulle oortreding. Hulle sal doodgaan sonder om ooit kinders te hê.

21. Dit is ’n skande as iemand sy broer se vrou afvry. Hy het skande oor sy broer gebring. Hulle sal nooit kinders hê nie.”

Julle behoort aan God

22. “Hou stip by al my reëls en by al my riglyne, en lewe daarvolgens. Die land waarheen Ek julle vat om daar te gaan woon sal julle dan nie uitspoeg nie.

23. Moenie die gewoontes aanleer van die nasies wat Ek voor julle uit verdryf nie. Ek het ’n weersin in hulle omdat hulle hierdie dinge doen.

24. Ek het julle belowe dat julle die land sal besit. Ek self skenk dit aan julle dat dit julle besitting kan word. Dit is ’n land waarin daar meer as genoeg is van alles. Dit is ook Ek, die Here julle God, wat julle tussen al die nasies uitgesoek het om julle aan My te verbind.

25. Julle moet ook onderskei tussen die diere wat aanvaarbaar is om te eet en dié wat nie reg is nie. Onderskei tussen die voëls wat vir My reg is en dié wat Ek nie wil hê julle moet eet nie. Julle moenie julleself afstootlik maak en gaan staan en eet van die diere of voëls of reptiele wat op die grond rondkruip wat Ek vir julle uitgewys het nie.

26. Julle moet op so ’n manier leef dat dit duidelik is dat julle aan My behoort en vir My leef. Ek is die Here. Ek is die enigste God. Ek het julle onder die nasies uitgesoek om aan My te behoort.

27. Enige man of vrou wat met die geeste van dooies probeer praat of waarsêery probeer beoefen, moet met klippe doodgegooi word. Hulle het self hulle doodstraf oor hulle gebring.”