hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14 Die Boodskap (DB)

Wanneer iemand se velsiekte gesond geword het

1. Die Here het verder vir Moses gesê:

2. “Op die dag wanneer iemand wat ’n velsiekte gehad het, kan terugkom na sy mense toe, moet julle so maak: die dienaar wat by die tent van ontmoeting werk,

3. moet uit die kamp uitgaan en hom daar gaan ondersoek. As hy sien dat sy velsiekte gesond geword het,

4. moet hy die volgende opdrag gee: daar moet vir die persoon wat kan terugkom, twee lewende voëls wat aanvaarbaar is vir die Here, ’n tak van ’n sederhoutboom, ’n stuk rooi garing en ’n hisoptakkie bymekaargemaak word.

5. Die dienaar by die tent slag dan een van die voëls bo-oor ’n kleibakkie met vars water in.

6. Hy vat dan die ander voël en sit dit by die sederhout, die rooi garing en die hisoptakkie, en doop dit in die bloed van die eerste voël wat hy oor die bakkie met vars water geslag het.

7. Hy spat dit dan sewe keer teen die persoon wat terugkom sodat hy terugontvang kan word. Hy laat die voël wat bly leef, in die veld los dat dit kan wegvlieg.

8. Die persoon wat terugkom, moet dan sy klere gaan was, al sy hare afskeer en self ook bad. Hy is dan weer aanvaarbaar en hy kan terugkom in die kamp by sy mense. Hy moet egter eers nog vir die volgende sewe dae buite sy tent bly.

9. Op die sewende dag moet hy weer al sy hare afskeer. Hy moet al die hare op sy kop, sy baard, sy wenkbroue en al die hare op sy lyf alles afskeer. Hy moet dan weer sy klere en homself gaan was. Daarna kan hy weer tussen die ander mense woon.

10. “Op die agtste dag moet hy twee gesonde rammetjies en een jaaroud ooitjie vat waaraan daar niks is wat gebreklik is nie. Hy bring ook by die tent waar Hy aanbid word vir die Here ’n offer uit gemaalde graan van vyf kilogram meel wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is.

11. Die werker by die tent laat dan die man wat teruggekom het, saam met sy offer voor die Here by die ingang van die tent staan.

12. Die dienaar vat een van die rammetjies en die olyfolie, en bring dit na die altaar om dit aan die Here op te dra as ’n offer vir die man se skuld by God.

13. Hy slag die rammetjie op dieselfde plek waar die ander offers vir die sonde verbrand word. Die dienaar mag self ook van hierdie offer eet, net soos hy ook ’n deel van die offer vir die sonde mag eet. Dit is vir God en sy dienaars by die altaar bedoel.

14. “Die dienaar vat die bloed van die rammetjie wat hy geslag het en smeer daarvan aan die persoon wat teruggekom het se regteroorlel, aan sy regterduim en aan sy regtergroottoon.

15. Hy gooi dan van die olie in sy linkerpalm,

16. steek sy regtervinger daarin en sprinkel dit met sy vinger sewe keer voor die Here op die grond.

17. Van die olie wat in sy hand oor is, smeer hy bo-oor die bloed wat hy aan die man se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer het.

18. “Die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die persoon se kop uit. So verbind die dienaar weer die man met God en sy volk.

19. Daarna slag die dienaar ook die offer vir die sonde. Op hierdie manier kan iemand wat ’n velsiekte gehad het en wat hom van die ander mense moes onttrek, weer terugkom in die kamp nadat hy gesond geword het. Hy self slag dan die offer

20. wat die dienaar saam met die graan op die altaar moet verbrand. Die dienaar help hom op hierdie manier om weer deel te word van die mense in die kamp.

21. “As iemand te arm is vir twee rammetjies, hoef hy net een rammetjie te vat om te offer. Die offer uit die graan hoef ook net een tiende deel meel te wees wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is.

22. Hy moet twee duiwe of tortelduiwe in die hande kry, soos wat hy dit wel kan bekostig. Die een duif is ’n offer vir die sonde en die ander een ’n offer wat op die altaar verbrand word.

23. Hy bring al hierdie goed op die agtste dag na die tent van ontmoeting toe waar die Here is sodat hy weer herstel kan word.

24. Die dienaar moet dan die rammetjie wat vir die skuld geoffer word en die sesde liter olyfolie by hom vat en dit alles aan die Here gaan opdra.

25. Ná hy die rammetjie geslag het, moet hy die dier se bloed vat en aan die man se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon smeer.

26. Hy gooi van die olie in sy linkerhand

27. en hy sprinkel daarvan met sy regtervinger sewe keer voor die Here.

28. Hy vat ook van die olie in sy hand en smeer dit oor dieselfde plek waar hy die bloed vroeër aan die persoon se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer het.

29. Die res van die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die man se kop uit om hom weer in ere te herstel.

30. “Daarna offer hy een van die duiwe of tortelduiwe vir die sonde en die ander om op die altaar te verbrand.

31. Die man mag dan weer voor die Here na sy tent kom en by sy volksgenote bly.

32. Dit is hoe daar gemaak moet word om iemand te laat terugkom wat ’n aansteeklike velsiekte gehad het en wat nie al die offers kan bekostig nie.”

Skimmelkolle teen die mure van ’n huis

33. Die Here het verder vir Moses en Aäron gesê:

34. “Ek gaan julle in die land Kanaän laat woon. Wanneer julle daar bly en Ek dit laat gebeur dat daar kolle teen die mure van julle huise uitslaan,

35. moet die eienaar van die huis vir God se dienaar gaan sê dat dit vir hom lyk of daar ’n plaag in sy huis is.

36. Die dienaar moet dan sê dat alles eers uit die huis uitgedra moet word voordat hy daarheen gaan om dit te bekyk. As hy dit nie dadelik laat doen nie, kan alles in die huis daarmee besmet raak. As dit gedoen is, kan hy gaan ondersoek instel in die huis.

37. As hy die kolle bekyk en sien dit is vaalgeel of rooierige mufkolle teen die muur wat lyk of dit in die pleister is,

38. moet hy dadelik by die deur uitgaan en die huis vir sewe dae lank toesluit.

39. Hy moet op die sewende dag weer kom kyk. As hy sien dat die mufkolle teen die mure verder versprei het,

40. moet hy opdrag gee dat al die stene waaraan dit sit, uit die mure uitgebreek moet word. Dit moet op die ashoop gegooi word wat spesiaal daarvoor buite die dorp uitgehou is.

41. Al die pleister moet van die huis se mure afgekrap word en op dieselfde plek buite die dorp weggegooi word.

42. Ander stene moet in die plek van die ander ingemessel word en die huis se mure moet weer gepleister word.

43. As daar daarna weer mufkolle uitslaan en begin versprei,

44. moet hy weer kom inspeksie hou. As dit nog verder versprei het, is daar gevaarlike skimmel in daardie huis. Die huis kan nie verder gebruik word nie.

45. Die hele huis moet afgebreek word. Die stene, die skrynwerk en al die pleister van die huis moet buitekant die dorp op die ashoop wat daarvoor eenkant gehou is, weggegooi word.

46. Iemand wat miskien in die huis inkom terwyl dit gesluit is, mag vir die res van daardie dag nie naby God se blyplek kom nie.

47. Iemand wat in daardie huis gaan slaap of daar eet, sal eers sy klere moet gaan was.

48. “As die Here se dienaar weer kom inspeksie doen nadat die huis opnuut uitgepleister is, en hy sien dat daar nie meer mufkolle is nie, moet hy die mense toelaat om terug te trek in die huis in.

49. Hy vat dan twee voëls, ’n stuk sederhout, ’n stuk rooi garing en ’n tak van ’n hisopplant om die huis weer bewoonbaar te maak.

50. Hy slag een van die voëls bo-oor ’n kleibakkie met vars water in.

51. Hy vat die stuk sederhout, die hisoptak, die rooi garing en die ander voël en doop hulle in die bloed van die voël wat hy geslag het en in die vars water, en sprinkel daarvan sewe keer teen die huis se mure.

52. So maak hy die huis dan weer bewoonbaar met die bloed van die voël, die vars water, die voël wat bly leef het, die stuk sederhout, die hisoptak en die rooi garing.

53. Die voël wat bly leef het, moet hy buite die dorp in die veld gaan loslaat om weg te vlieg. So herstel hy die huis en maak dat dit weer reg is om in te woon.”

54. Dit is dan die voorskrifte vir enige soort veluitslag,

55. muf wat op klere kom en mufkolle wat teen huise se mure uitslaan,

56. en vir enige vlek, skurfte of uitslag op iemand se lyf.

57. Dit is die reëls om te onderskei tussen dit wat tussen die mense weggevat moet word en dit wat reg is om te gebruik en by hulle te bly.