hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 17 Die Boodskap (DB)

Daar mag net by die Here se tent geoffer word

1. Die Here het vir Moses gesê

2. om vir Aäron en almal uit sy familie wat by die tent van die Here werk en vir al die Israeliete die volgende voorskrif vir offers te gee:

3-4. “Elkeen in Israel oortree wat nie sy offer daar by die ingang van die tent kom slag waar julle die Here ontmoet nie. Dit is verkeerd om ’n bees of ’n skaap of ’n bok sommer in die kamp of buite in die veld buite die kamp te offer. Dit is mors met bloed. Die persoon kan nie langer aan die volk behoort nie.

5. “Die Israeliete moenie hulle offers buite in die veld bring nie. Hulle moet die offers vir die Here na die dienaar by die ingang van die tent bring. Hulle moet hulle goeie gesindheid teenoor die Here wys deur dit daar vir die Here te slag.

6. Die dienaar sal van die dier se bloed teen die Here se altaar by die ingang van die tent sprinkel. Hy sal ook die vet van die offer op die altaar verbrand. Dit is iets waarvan die Here baie hou.

7. “Die Israeliete moenie die rug vir die Here draai en vir gode in die veld offers bring nie. Dit is iets wat geheel en al verbied is vir altyd en altyd.

8-9. “Moses moet ook vir hulle sê dat enigeen uit Israel of uit ’n ander volk wat by hulle bly en nie sy offer by die ingang van die Here se tent bring nie, nie langer aan die Here se volk kan behoort nie. Dit is die reël vir die offer wat met vuur verbrand moet word en enige ander offer wat hy vir die Here bring.”

Verbod om die dier wat geoffer word se bloed te drink

10. “Ek wil niks te doen hê met enige Israeliet of iemand uit ’n ander land wat die bloed drink van die dier wat hy offer nie. Hy mag nie langer aan my volk behoort nie.

11. Bloed beteken lewe. Dit is bloed wat maak dat daar lewe is. Ek het beveel dat julle die dier se bloed op die altaar moet gooi sodat julle self kan bly leef. Julle offer die bloed vir My en Ek gee in die plek daarvan vir julle julle eie lewe terug. Die dier se bloed maak julle vry van julle sonde en bring vrede tussen julle en My.

12. “Ek het daarom die opdrag gegee dat geen mens uit Israel of die buitelanders onder hulle ooit die bloed van die offer mag drink nie.

13. Enigiemand uit Israel of die buitelanders by hulle wat ’n dier of voël jag wat geëet mag word, moet eers die bloed op die grond laat uitloop en dit met grond toegooi.

14. Omdat die lewe aan die bloed verbind is, het Ek die Israeliete verbied om die bloed van enige lewende wese te drink. Omdat die lewe van alle lewende wesens in hulle bloed is, sal elkeen wat dit drink, uit die volk verwyder word.

15. “Enige inwoner of buitelander wat ’n dier eet wat vanself gevrek het of doodgebyt is, moet sy klere en homself gaan was. Eers aan die einde van die dag sal hy weer aanvaarbaar wees.

16. As hy nie so maak nie, moet hy maar self die gevolge dra.”