hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26 Die Boodskap (DB)

Julle moet net die Here dien

1. “Julle mag nie in julle land vir julleself afgodjies maak wat julle gebruik om gode te aanbid nie. Julle mag ook nie uitgekerfde beelde hê, of klippilare oprig, of klippe hê waarop julle beelde van gode uitgegraveer het nie. Ek, die Here, is mos reeds julle God.

2. Julle moet my rusdae vier en respek hê vir die tent waar julle My ontmoet. Ek is die Here.”

Gehoorsaamheid en voorspoed

3. “As julle volgens my reëls lewe en die dinge doen wat Ek julle beveel en in lyn daarmee optree,

4. sal Ek dit betyds laat reën. Daar sal oeste wees op die lande en vrugte aan die bome.

5. Julle oesseisoen sal aanhou tot dit weer tyd is om druiwe te pluk. Julle druiweoes sal aanhou tot dit tyd is om weer koring te saai. Julle sal oorgenoeg kos hê en julle sal gerieflik in julle land bly.

6. Ek sal sorg dat daar vrede in julle land is sodat julle rustig kan slaap in die nag. Ek sal die gevaarlike diere uit julle land laat verdwyn. Ek sal julle teen die aanvalle van julle vyande beskerm.

7. Trouens, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle wapens afmaai.

8. Net vyf van julle sal nodig wees om 100 van hulle te agtervolg. Honderd sal 10 000 vyande agternasit en hulle van die gras af maak.

9. Ek sal goed wees vir julle. Ek sal maak dat julle baie mense word. So sal Ek my ooreenkoms met julle nakom.

10. Julle sal nog van die vorige jaar se graan eet wanneer dit weggegooi sal word om plek te maak vir die graan van die nuwe oes.

11. Ek sal onder julle woon. Ek sal julle nie minag nie.

12. Ek sal saam met julle bly. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.

13. Ek is die Here, julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle nek afgedruk het, stukkend gebreek sodat julle weer regop kan loop.”

Ongehoorsaamheid en teëspoed

14. “Aan die ander kant kan dit gebeur dat julle julle nie aan My steur nie en nie hierdie dinge doen wat Ek julle beveel het nie.

15. Julle kan my verbintenis met julle in die wiele ry omdat julle my reëls oortree. Julle kan soveel aanstoot neem aan my voorskrifte dat julle weier om my bevele uit te voer.

16. As julle dit doen, sal Ek die volgende dinge met julle laat gebeur: Ek sal verwarring onder julle saai. Ek sal tering en koors tussen julle laat kom wat julle blind sal laat word en sal laat wegkwyn. Julle sal verniet saai, want julle vyand sal dit opeet.

17. Ek sal my rug vir julle draai en julle vyand sal julle verpletter. Die mense wat julle haat, sal julle so sleg behandel dat julle sal begin vlug sonder dat daar eens iemand is wat julle jaag.

18. “As julle na hierdie dinge gebeur het, nog nie bereid is om julle aan My te steur nie, sal Ek julle nog sewe keer erger straf vir julle oortredings.

19. Omdat julle te veel van julleself dink, sal Ek julle siek maak. Ek sal die lug maak soos ’n ysterkoepel waaruit geen reën kan val nie. Die aardkors sal so ondeurdringbaar wees soos ’n bronsplaat.

20. Julle sal verniet julle vernuf inspan, want julle sal nie uit die grond enige oes kan haal nie. Geen boom van die aarde sal vrugte oplewer nie.

21. “As julle dan met My wil rusie maak en julle steeds onwillig bly om julle aan My te steur, sal Ek in lyn met julle oortreding nog sewe ander rampe oor julle loslaat.

22. Ek sal roofdiere tussen julle los laat rondloop. Hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Julle getalle sal so erg daal dat daar niemand meer op die paaie sal wees nie.

23. “As julle na al hierdie dinge steeds aanhou om My teen te staan en weier om iets van My te leer,

24. sal Ek ook teen julle draai en julle persoonlik nog sewe keer meer straf vir julle oortreding.

25. Ek sal wraak neem omdat julle julle nie aan My verbintenis met julle gesteur het nie. Ek sal oorlog teen julle laat uitbreek. As julle in julle stede gaan probeer wegkruip, sal Ek maak dat daar siekte onder julle uitbreek. Julle sal die knie voor die vyand moet buig.

26. Ek sal julle kos so min laat word dat tien vroue skaars genoeg bymekaar kan kry om in een oond vir julle brood te bak. Hulle sal julle kos so moet rantsoeneer dat julle nie versadig kan kom van wat julle te ete kry nie.

27. “As julle selfs dan nog voortgaan om julle nie aan My te steur nie en julle steeds teen My bly verset,

28. sal Ek my woede op julle loslaat en julle nog sewe keer meer straf vir julle oortreding.

29. Julle sal so honger word dat julle julle eie kinders sal begin eet.

30. “Ek sal die plekke waar julle offer, met die grond gelykmaak. Ek sal die altare afbreek waarop julle wierook offer. Ek sal julle lyke op julle vrot afgodsbeelde gooi. Ek sal so ’n renons in julle hê

31. dat Ek van julle stede ashope gaan maak en van julle aanbiddingsplekke verlate ruïnes. Ek stel nie meer belang in julle offers nie.

32. Ek gaan hierdie land so verwoes dat julle vyande wat daar kom woon, verbysterd sal staan oor die skade wat in die land aangerig is.

33. Julleself sal Ek soos saad uitstrooi tussen die nasies in. Ek sal oorlog agter julle aanstuur. Julle land sal ’n Godverlate plek word en julle stede ashope.

34. Al die jare wat die grond onbewerk gaan lê terwyl julle in die land van julle vyande bly, sal die land kan rus kry. Dit sal die sabbatsjare inhaal wat dit verloor het.

35. Dit sal in daardie tyd die rus kry wat julle dit nooit tydens die sabbatsjare gegun het nie.

36. Ek sal dié van julle wat in die vyand se land oorgebly het, so senuweeagtig maak dat bloot net die geritsel van ’n droë blaar hulle op loop sal jaag. Hulle sal die hasepad kies asof iemand met ’n swaard agter hulle aan is. Hulle sal op die grond neerslaan sonder dat daar werklik iemand is wat hulle jaag.

37. Hulle sal so bang wees vir die lem van die swaard dat hulle oor mekaar sal val om weg te kom van iemand wat nie eers daar is nie. Julle sal nie in staat wees om julle vyand in die oë te kyk nie.

38. Julle sal by die heidennasies doodgaan. Julle vyand se land sal julle insluk.

39. Dié van julle wat oor is, sal in julle vyand se land uitsterf as gevolg van julle en julle ouers se sondes.”

Maar nogtans ...

40. “Dan sal julle julle sondes en dié van julle ouers bely. Julle sal erken dat julle nie aan My getrou was nie en dat julle My so uitgetart het

41. dat Ek teen julle moes draai. Ek moes julle na julle vyande se land laat wegvoer om te sien of julle nie miskien julle gesindheid sal verander en julle sonde weer sal regmaak nie.

42. As julle dit sou doen, kon Ek weer my verbintenis aan Jakob, Isak en Abraham in gedagte roep en weer van die land onthou.

43. Julle sal egter eers uit die land moet weggaan. Julle sal die straf vir julle skuld moet dra. In die tyd dat julle weg is en die grond net so onbewerk lê, sal die land die agterstallige rusjare inhaal.

44. Ten spyte egter van al hierdie dinge, selfs al is julle gevangenes in die land van julle teëstanders, sal Ek julle nie so weggooi en julle nie so minag dat Ek my verbintenis met julle heeltemal sal opsê nie. Ek is tog julle God, die Here.

45. Ek het julle uit Egipte laat trek terwyl die ander nasies dit gesien het. Ek sal onthou dat Ek beloof het om julle God te wees. Ek is tog die Here.”

46. Dit is al die reëls en die voorskrifte wat die Here tussen Hom en die Israeliete deur Moses daar op die Sinaiberg neergelê het.