hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 11 Die Boodskap (DB)

Diere wat vir die Here aanneemlik is en

1. Die Here het vir Moses en Aäron gesê

2. om vir die Israeliete soos volg te sê: “Van al die diere wat op land loop, mag julle net dié eet

3. wat duidelik gesplete hoewe het en wat hulle kos herkou.

4. Julle mag nie diere eet wat net herkou of net gesplete hoewe het nie. So mag julle nie ’n kameel se vleis eet nie, want hy herkou wel, maar hy het nie gesplete hoewe nie.

5-6. Julle mag ook nie die vleis van ’n dassie of ’n haas eet nie, omdat hulle herkouers is, maar nie gesplete hoewe het nie.

7. ’n Vark het weer opsigtelik gesplete hoewe, maar hy herkou nie. Daarom mag julle nie sy vleis eet nie.

8. Julle mag nie hierdie diere se vleis eet of met hulle karkasse werk nie. Hulle is vir My onaanvaarbaar.

9. “Van al die diere wat in die water leef, in die see en in die riviere, mag julle net dié eet wat vinne en skubbe het.

10. Enige dier in die see of in die riviere wat nie vinne of skubbe het nie, moet julle vermy.

11. Ek belet julle om hulle te eet. Julle moet ook hulle dooie liggame vermy.

12. Alles in die water wat nie vinne en skubbe het nie, moet vir julle iets wees wat julle afskrik.

13. “Van die voëls in die lug wat verbied word, waarvan julle nie mag eet nie, is daar die arend, die lammervanger, die visarend,

14. die aasvoël, al die valkspesies,

15. al die kraaispesies,

16. die volstruis, die naguil, die seemeeu, al die arendspesies,

17. die uil, die visvanger, die ibis,

18. die flamink, die pelikaan, die swaan,

19. die ooievaar, al die reierspesies, die hoep-hoep en die vlermuis.

20. “Enige ding wat vlerke het en in swerms beweeg of wat kruip, mag julle nie eet nie.

21. Dié wat pote het en daarmee kan spring, mag julle egter wel eet.

22. Julle mag van hulle die treksprinkaan, veldsprinkaan, langasemsprinkaan en voetgangersprinkaan eet.

23. Enige ander ding met vlerke wat in swerms voorkom en wat kruip, is egter vir julle verbode.

24. “Die volgende diere sal maak dat Ek julle nie naby my tent van ontmoeting wil hê nie. As julle selfs net aan hulle karkasse raak, wil Ek vir die res van die dag nie met julle te doen hê nie.

25. As iemand aan enigeen van hierdie diere se karkasse moet vat, moet hy sy klere gaan was. Hy mag vir die res van die dag nie naby my tent kom nie.

26. Die diere in hierdie groep is enige dier wat nie duidelik gesplete hoewe het nie en wat nie herkou nie. Julle mag hulle nie eet nie. Niemand wat aan hulle vat, moet naby My kom nie.

27. Julle moet wegbly van alle viervoetige wilde diere wat nie kloue het nie. Enigiemand wat aan een van hulle karkasse raak, moet vir die res van die dag van my tent af wegbly.

28. As iemand aan hulle karkasse moet vat, moet hy sy klere gaan was. Hy moet ook vir die res van die dag wegbly van My af. Hierdie soort diere moet julle heeltemal vermy.

29. “Van die diere wat op die grond rondkruip, is die volgende vir julle verbode: die mol, die muis en die akkedissoorte,

30. die geitjie, sandakkedis, boomakkedis, gewone akkedis en die verkleurmannetjie.

31. Nie een van hulle is reg nie. Iemand wat aan hulle raak as hulle dood is, moet van my tent af wegbly tot die aand toe.

32. Enigiets waarop een van hulle beland wanneer dit doodgaan, kan nie verder gebruik word nie, of dit nou iets is wat van hout gemaak is, van linne, leer of sakmateriaal. As die voorwerp van een van hierdie dinge gemaak is, moet dit met water afgewas word. Dit sal vir die res van die dag onbruikbaar wees, maar op die volgende dag weer reg om te gebruik.

33. As een van hierdie diere in ’n kleipot beland, word alles wat binne-in die pot was, onbruikbaar. Die pot self moet gebreek word,

34. want enige kos waarby water uit daardie pot kom, sal onbruikbaar wees en enige drinkgoed wat in daardie pot beland, sal bederf wees.

35. Enigiets anders waarin dooie diere uit hierdie groep beland, sal onbruikbaar word. As dit ’n kleioond of kookplek is, moet dit afgebreek word. Dit het besoedel geraak en kan nie langer gebruik word nie.

36. As die diertjie in ’n fontein of waterbak beland, bly die houer bruikbaar, maar die persoon wat dit daar uithaal, word besoedel.

37. As een van hierdie diertjies in saad beland wat gesaai moet word, bly die saad bruikbaar.

38. As dit egter in saad beland wat reeds natgegooi is om gesaai te word, is daardie saad nie langer vir julle bruikbaar nie.

39. As iemand aan die karkas raak van een van die diere wat julle wel mag eet, mag daardie persoon vir die res van die dag nie naby my tent kom nie.

40. Iemand wat van die dooie dier se vleis eet, moet sy klere gaan was. Hy mag ook nie vir die res van die dag by my tent kom nie. Iemand wat die karkas van ’n dier wegvat, moet ook sy klere gaan was en tot aan die einde van die dag van my tent wegbly.

41. “Alle diere wat op die grond rondkruip, is vir My afstootlik en julle mag hulle nie eet nie.

42. Enigiets wat op sy maag oor die grond seil, of op vier pote kruip of baie pote het, moenie geëet word nie, want Ek verbied dit.

43. Moenie julleself afstootlik maak deur enige van hierdie diere te eet nie. Moenie toelaat dat hulle maak dat Ek nie meer iets met julle te doen wil hê nie.

44. Ek is die Here, Ek is julle God. Julle moet aan My getrou bly. Julle moet julleself vir My gee en lewe soos mense wat aan die grote God behoort. Moenie julleself vir My onaanvaarbaar maak en iets gaan eet wat op die grond rondkruip nie.

45. Dit is Ek wat julle uit Egipte laat wegtrek het sodat Ek julle God kan wees en julle aan My kan behoort.

46. “Hierdie is die voorskrifte oor die diere en die voëls en alles wat in die water lewe en op die aarde woon.

47. Dit wys vir julle wat Ek wil hê julle moet laat staan en wat vir My reg is. Dit onderskei die diere wat geëet kan word en dié wat nie geëet mag word nie.”