hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 18 Die Boodskap (DB)

Moenie soos die ander volke leef nie

1. Die Here het nog verder vir Moses gesê

2. om vir die Israeliete te sê: “Omdat Ek, die Here, julle God is,

3. mag julle nie maak soos die mense van Egipte by wie julle gebly het nie. Julle moet ook nie leef soos die mense van Kanaän waarnatoe Ek met julle op pad is nie. Julle mag nie hulle gewoontes aanleer nie.

4. Leef volgens my voorskrifte en hou by my reëls, want Ek, die Here, is julle God.

5. Doen wat Ek vir julle sê. Iemand wat na My luister, se lewe sal voorspoedig wees. Ek is die Here.”

Seksuele omgang wat nie reg is nie

6. “’n Persoon mag nie seks hê met mense uit sy familie nie. Ek is die Here.

7. Moenie jou pa in die skande bring en by jou ma slaap nie. Sy is jou ma en jy mag nie seks met haar hê nie.

8. Jy mag ook nie by een van jou pa se ander vroue slaap nie. Dit is sy vrou.

9. Jy mag ook nie by jou suster slaap nie. Dit maak geen verskil of dit jou halfsuster is aan jou pa se kant of aan jou ma se kant en of sy nou in dieselfde huis grootgeword het as jy of in ’n ander huis nie.

10. Jy mag ook nie seks hê met jou kleindogter nie, of dit nou jou seun of jou dogter se kind is. Dis jou eie vlees en bloed.

11. Met ’n dogter van een van jou pa se ander vroue mag jy ook nie seks hê nie. Jou pa is ook haar pa en sy is jou eie familie.

12-13. Jy mag ook nie by jou tannie slaap nie, of dit nou jou pa se suster of jou ma se suster is. Sy is julle bloedfamilie.

14. Moenie jou oom in die skande bring en by sy vrou slaap nie. Sy is tog jou tannie.

15. Los jou skoondogter uit, want dit is jou seun se vrou.

16. Moenie met jou skoonsuster lol nie. Jy sal jou broer in die skande bring.

17. Jy mag nie tegelyk ’n seksuele verhouding hê met ’n vrou en haar dogter of haar kleindogter nie, of dit nou aan haar seun of haar dogter se kant is. Hulle is haar bloedfamilie. Dit is lelik om so iets te doen.

18. Moenie jou skoonsuster as byvrou neem terwyl jou vrou nog lewe nie.

19. Moenie by ’n vrou kom wat menstrueer om by haar te slaap nie. Sy mag in daardie tyd nie by die Here se tent kom nie.

20. Jy moet ook nie jouself in die skande bring en by iemand uit jou volk se vrou slaap nie.

21. Jy mag nooit enige van jou kinders aan die afgod Molek gee en so jou God se Naam deur die modder sleep nie. Ek is tog mos die Here.

22. Jy mag nie met ’n ander man seksueel verkeer nie. Dit is afstootlik.

23. ’n Man moenie homself verwerplik maak en seksueel met ’n dier verkeer nie. ’n Vrou mag dit ook nie met ’n dier doen nie. Dit is ’n skande.”

Moenie maak soos ander nie

24. “Julle moenie julleself met enige van hierdie dinge vuil maak nie. Dit is omdat hulle hierdie soort goed doen dat Ek niks te make wil hê met die nasies wat Ek voor julle uit die land uit wegjaag nie.

25. Selfs die land het vir my so vuil geword dat Ek dit moes skoonmaak met my straf. Die land gaan van sy inwoners ontslae raak asof hulle uit iemand se mond uitgespoeg word.

26. “Julle moet by my reëls en my voorskrifte hou. Gebore Israeliete sowel as die buitelanders wat tussen julle woon, moet oppas om niks van hierdie lelike dinge te doen nie.

27. Die mense wat voor julle in hierdie land gewoon het, doen hierdie soort dinge. Dit het die land met vuilheid besmet.

28. Julle moet nie ook die land met verkeerde dinge laat vuil word sodat dit van julle ontslae moet raak soos dit die nasies voor julle uitgespoeg het nie.

29. Enigiemand wat enige van hierdie gruwelike dinge aanvang, sal uit sy volk weggejaag word.

30. Handhaaf die standaarde wat Ek gestel het, sodat julle nie dieselfde afskuwelike dinge doen waaraan die inwoners voor julle hulle skuldig gemaak het nie. Moenie julleself met daardie dinge verwerplik maak nie. Ek is die Here julle God.”