hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 14 Die Boodskap (DB)

Dié wat in ballingskap was, sal terugkom

1. Maar die Here sal vir Israel jammer kry. Daarom sal Hy hulle weer sy volk maak en hulle terugbring na hulle eie land toe sodat hulle daar kan bly. Mense van ander volke sal by hulle kom aansluit en op dié manier deel word van Jakob se nageslag.

2. Die nasies van die wêreld sal die Here se volk help om na hulle eie land toe terug te keer. Dié wat saam met hulle daarheen teruggaan om daar te gaan woon, sal vir hulle werk. Dié wat Israel gevange geneem het, sal nou deur Israel gevange geneem word en hulle sal regeer oor die mense wat hulle verdruk het.

3. Wanneer die Here julle van al die lyding, ellende en harde dwangarbeid verlos,

4. sal julle hierdie spotlied oor die koning van Babel sing:En toe, verdrukker, nou is dit verby met jou! Jou dae as tiran is getel.

Die spotlied oor die koning van Babel

5. Die Here het jou bose mag gebreek en ’n einde gemaak aan die mag van die wreedaards wat jy aangestel het.

6. Hulle het die volke wat hulle oorgeneem het, sonder ophou vervolg en hulle genadeloos laat swaarkry. Hulle het geen perke geken nie.

7. Maar daardie tyd is verby. Daar is weer rus en vrede in die wêreld; die mense sing selfs weer.

8. Selfs die sipresbome en die seders van die Libanon sing van blydskap oor wat met jou gebeur het. “Vandat jy verslaan is, kom niemand ons meer afkap nie!” sing hulle.

9. Die doderyk is in rep en roer soos hulle regmaak vir jou koms. Dié wat daar is, kan skaars hulle opgewondenheid bedwing. Die wêreldleiers wat alreeds daar in die donkerte van die dood is, spring van opgewondenheid op om jou te verwelkom.

10. In ’n koor klink dit: “En toe, nou is jy net so ’n swakkeling soos enigeen van ons! Ja-nee, jy is een van ons!

11. Jy was gewoond aan pragtige musiek en eerbetoon waar jy vandaan kom. Welkom in die doderyk, hier is jou bed van goggas gemaak en daar is vir jou ’n kombers van wurms!”

12. Koning van Babel, jy wat gedink het jy is soos die môrester wat hoër sit as al die ander sterre, kyk nou net hoe het jy uit die hemel geval! Kyk hoe hulpeloos lê jy hier op die grond, en dit nogal jy, die een wat soveel ander nasies op hulle knieë gedwing en platgeloop het.

13. In jou gedagtes het jy mos vir jouself gesê: “Ek gaan uitstyg bokant God se hoogste sterre. Ek gaan my troon in die hoogste hoogtes maak. Daar ver in die noorde op die hoë berge waar die gode mekaar ontmoet, dit is waar ek gaan bly en soos ’n koning op my troon sit en die wêreld bekyk.

14. Ek gaan bokant die wolke uitklim en soos die allerhoogste God self word!”

15. Maar kyk wat het nou met jou gebeur. Hier is jy in die bodemlose put van die doderyk.

16. Almal wat jou daar sien, sal jou oopmond aangaap en wonder: “Is dit die man wat die hele wêreld geskud het en hulle konings aan die bewe gehad het?

17. Kan dit dieselfde man wees wat die wêreld in ’n verlate, kaal vlakte verander het en stede as puinhope agtergelaat het, wat so genadeloos was, wat nooit sy gevangenes laat teruggaan het huis toe nie?”

18. Al die ander konings van die aarde lê begrawe in hulle koninklike grafte vol prag en praal,

19. maar kyk na jou, jy het nie ’n behoorlike graf nie. Hier lê jy weggegooi soos ’n vrot tak wat niks beteken nie. Jy is sommer saam met die gewone mense wat in die oorlog dood is in ’n groot, gesamentlike graf gegooi. Hulle loop sonder eerbied oor jou lyk terwyl hulle die gat met klippe toegooi.

20. Jy sal nie soos ’n koning begrawe word nie, want jy het jou volk vernietig en jou eie mense laat doodmaak. So ’n skurk sal nooit onthou word nie.

21. Begin die slagting! Die seuns van hierdie koning mag nie toegelaat word om sy werk voort te sit nie. Op grond van wat hy gedoen het, mag hulle nie die kans kry om te regeer of weer stede te bou nie.

22. Ek self gaan Babel aanval, sê die Here, die Almagtige. Ek gaan die koning se nageslag en alles wat aan hom behoort het, uitroei. Daar sal net mooi niks oorbly van alles wat aan hom behoort het nie.

23. Ek sal Babel in ’n moeras verander. Net die uile sal daar wil bly, want Ek gaan hierdie stad met ’n besem wegvee totdat daar niks oorbly nie, sê die Here die Almagtige.

’n Boodskap oor Assirië

24. Die Here die Almagtige het die volgende eed afgelê: Al my planne sal uitgevoer word net soos Ek My dit voorgeneem het.

25. Ek sal die Assiriërs hier in my land verpletter en hulle op my berge vertrap. So sal Ek my volk bevry van die Assiriërs se oorheersing en die swaarkry wat hulle moes verduur.

26. Ek het my planne gereed om die nasies van die wêreld te straf en Ek staan gereed om dit uit te voer.

27. Wie kan die Here die Almagtige se planne in die wiele ry? Daar is niks of niemand wat Hom kan keer wanneer Hy besluit het om te straf nie.

’n Boodskap vir die Filistyne

28. Hierdie uitspraak kom uit die jaar toe koning Agas dood is:

29. Julle klomp Filistyne moet nie te gou bly word omdat die koning wat julle laat swaarkry het, dood is nie. Sy stok waarmee hy julle geslaan het, mag dalk stukkend wees, maar sy seun wat hom opvolg, is nog erger as hy. Uit die slang word ’n giftige adder gebore, nee, nog erger, ’n vlieënde draak.

30. Maar Ek, die Here, sal die armes en die behoeftiges van my volk soos ’n herder versorg en beskerm. Hulle sal genoeg hê om te eet en ’n veilige plek om in te bly. Dieselfde geld ongelukkig nie vir julle nie. Ek sal julle nageslag van honger laat doodgaan sodat daar niemand oorbly nie.

31. Huil en roep om hulp, Filistynse stede. Krimp inmekaar van vrees, julle klomp Filistyne. Daar kom ’n magtige leër uit die noorde aan soos ’n rookwolk wat saam met ’n verterende vuur gaan. Hierdie leër is vasberade en dapper, nie een van hulle sal omdraai nie.

32. Wat sal ons vir die boodskappers van die Filistyne sê as hulle by ons aankom? Sê vir hulle: “Die Here self het Jerusalem gebou en sy mishandelde volk sal veilig wees daar.”