hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 41 Die Boodskap (DB)

Die Here stuur Kores van Persië

1. Die Here sê vir die lande wat oorkant die see is: Wag ’n bietjie. Maak julle reg. Kom nader en kom stel julle saak. Kom, laat ons dit in die hof gaan uitmaak.

2. Wie anders is dit as die Here wat hierdie koning uit die ooste sal laat kom om alles voor hom plat te trap? Wie anders sal hom help om nasies te oorwin en konings voor hom te laat buig? Wie anders help hom om die nasies soos stofwolke met sy swaard voor hom uit te jaag? Wie anders help hom om hulle met sy boog op loop te jaag soos gras wat voor die wind wegwaai?

3. Hy agtervolg hulle. Hy oorwin hulle. Hy marsjeer met sy leër deur plekke waar hy nog nooit was nie.

4. Wie sal dit alles laat gebeur? Wie het nog van altyd af besluit wat met die mense moet gebeur? Dit was nog nooit enige iemand anders nie as net Ek, die Here. Ek was daar reg van die begin af. Ek sal nog steeds daar wees reg teen die einde.

Die afgodsbeelde

5. Die lande wat oorkant die see is, het gesien wat gebeur het. Hulle het bang geword. Die lande oor die hele wêreld begin bewe. Hulle kom bymekaar om reg te maak vir oorlog.

6. Hulle praat mekaar moed in. Hulle sê vir mekaar: “Ons moet nou sterk wees.”

7. Die kunstenaar wat met yster werk, help die een wat met goud werk om gou ’n afgod te maak. Die een wat goud uitklop, staan by die een wat yster op die aambeeld smee. Hulle sê vir mekaar: “Ons vorder goed.” Hulle maak ’n afgodsbeeld en sit hom aanmekaar met klinknaels sodat hy nie uitmekaar kan val nie.

Israel hoef nie bang te wees nie

8. Maar jy hoef nie bang te wees nie, Israel. Jy behoort mos aan My. Jy is Jakob wat Ek vir My uitgekies het. Jy is my vriend Abraham se kind.

9. Ek het jou gaan haal by die heel verste plekke op die wêreld. Ek het jou laat kom van die uithoeke van die aarde af. Ek het vir jou gesê: “Kom bid tot My.” Ek het jou vir My uitgekies. Ek sal jou nooit in die steek laat nie.

10. Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm.

Jy sal jou vyande oorwin

11. Al jou vyande wat so kwaad was vir jou gaan maar sleg daarvan afkom. Almal wat met jou baklei het, sal verdwyn.

12. Jy sal verniet soek na die mense wat met jou rusie gemaak het. Die mense wat teen jou oorlog gemaak het, sal wegraak asof daar nooit sulke mense was nie.

13. Ek is mos die Here jou God. Ek sal jou hande sterk maak. Ek sê vir jou: Hou nou op om bang te wees. Ek self help jou dan.

14. Al is jy klein, Israel, en al voel jy soos ’n wurmpie, Ek sal jou help, sê die Here. Die groot God self gaan jou red, Israel.

15. Ek maak jou soos ’n masjien waarmee ’n mens graan dors, wat nuwe, skerp lemme gekry het. Jy sal selfs berge kan dors en hulle fynmaal. Jy sal heuwels aan flarde kan sny soos graanstoppels.

16. Jy sal hulle uitstrooi in die lug en die wind sal hulle wegwaai. ’n Windstorm sal hulle oor die aarde verstrooi. Dan sal jy sing van blydskap oor die Here. Jy sal die hoë God van Israel loof en prys.

Die Here sal Israel help

17. Wanneer Israel soos hulpelose mense verniet na water soek, wanneer hulle wil doodgaan van die dors, sal Ek, die Here, hulle gebede verhoor. Die God van Israel sal nie sy volk in die steek laat nie.

18. Ek sal riviere tussen die droë berge deur laat loop. Ek sal fonteine onder in die laagtes laat uitborrel. Ek sal waterpanne in die woestynwêreld gee. Daar sal waterstrome deur droë gebiede vloei.

19. Ek sal sederbome in die woestyn laat groei. Daar sal akasias, mirtebome en olyfbome staan. Waar dit heeltemal droog is, sal Ek sipresse, plataanbome en dennebome plant.

20. Dan sal almal sien wat gebeur het. Hulle sal insien en erken dat dit die Here is wat die wonderwerk laat gebeur het. Die hoë God van Israel het die onmoontlike reggekry.

Die afgode beteken niks

21. Die Here sê vir die afgode: Kom stel nou julle kant van die saak. Kom wys wat julle kan doen, sê Jakob se Koning.

22. Kom vertel vir ons wat nog vorentoe gaan gebeur. Verduidelik vir ons wat beteken die dinge wat in die verlede gebeur het. Ons sal dan weet wat alles beteken wat nog vorentoe moet gebeur.

23. Sê vir ons presies wat in die toekoms gaan gebeur, dan sal ons weet dat julle regtig gode is. Doen enigiets, goed of sleg, dat ons verbaas kan staan oor wat julle kan doen. Dan sal ons julle aanbid.

24. Ag nee wat, julle is niks werd nie. Wat julle doen, beteken niks. Iemand wat vir julle kies, maak homself belaglik.

25. Ek het ’n sekere man wat in die ooste woon, laat kom. Hy het die ander konings vanuit die noorde aangeval en hulle in die modder getrap. Hy het gemaak soos die pottebakker wat die klei onder sy voete trap.

26. Was daar ’n afgod wat al voor die tyd gesê het dat dit sal gebeur, sodat ons dit voor die tyd kon weet en toegee dat hy reg was? Nee, daar was niemand wat dit kon sê nie. Nie een van ons het so iets voor die tyd gehoor nie. Niemand het enigeen so iets hoor sê nie.

27. Ek was die Een wat al voor die tyd vir Sion laat sê het: Jou mense gaan terugkom. Ek het vir Jerusalem die boodskap gestuur met die goeie nuus.

28. Ek het verniet gewag dat een van julle afgode dit vir julle sou sê. Onder hulle was daar nie een wat daaroor gepraat het nie. Ek het verniet gevra dat een van hulle iets daaroor sal kom sê.

29. Nee wat, nie een van hulle beteken enigiets nie. Wat hulle doen, beteken niks. Die afgodsbeelde is net ’n bondel wind.