hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 28 Die Boodskap (DB)

’n Waarskuwing vir Samaria

1. ’n Groot krisis gaan Samaria tref, die trots van die dronk leiers van Efraim. Die stad wat hoog op die berg lê en afkyk op die vrugbare vallei se grootheid is aan die verdwyn, net soos die verlepte blomkrone op sy dronk leiers se koppe.

2. Want die Here het iemand wat sterk en magtig is gereed om hulle aan te val. Hierdie vyand sal toeslaan met die geweld van ’n haelstorm en verwoestende stormwinde. Hy sal alles voor hom platvee soos ’n rivier wat in vol vloed afkom.

3. Samaria, die trots van sy dronk leiers, sal deur die vyand tot stof vertrap word.

4. Die pragtige stad wat so hoog op die berg sit en afkyk op die vrugbare vallei is klaar besig om te verdwyn. Dit sal met Samaria gaan soos met die vroeë vye wat voor die somer ryp word: as iemand so ’n vy sien, pluk hy dit dadelik en eet dit op sonder om eers daaroor te dink.

5. Op daardie dag sal die Here die Almagtige die Een wees oor wie sy volk sal roem. Soos mense met verwondering na ’n pragtige kroon kyk wat ’n koning dra, so sal die mense wat van sy volk oorgebly het, na die Here kyk.

6. Vir die regters wat die hofsake moet hanteer, sal Hy ’n sin vir reg en regverdigheid gee en vir die soldate wat die stad teen aanvalle van buite moet beskerm, sal Hy moed gee.

Die dronk priesters en profete van Juda

7. Selfs die priesters en profete loop en slinger in die strate. Hulle is so dronk van die wyn en ander drank wat hulle drink dat hulle nie hulle ampspligte behoorlik kan uitvoer nie. Die profete is te beneweld om die visioene te verstaan wat die Here vir hulle gee en die priesters is so dronk dat hulle nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie.

8. Daar is nie ’n plek op hulle tafels wat nie met hulle braaksel bemors is nie.

9. Hulle spot met my en vra: “Wie dink Jesaja miskien is hy dat hy ons wil kom leer? Wat kan hy ons vertel wat ons nie self weet nie? Dink hy ons is ’n klomp pap babatjies?

10. Hy is net soos ’n ma wat vir haar kind ’n rympie wil leer. Letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël, alles word oor en oor gesê.”

11. Hoor mooi wat ek vir julle sê: Julle wil nie na my luister nie, daarom gaan God vreemdelinge stuur om met julle te praat in ’n taal wat julle nie verstaan nie. Dit sal julle ’n les leer!

12. God het vir sy volk rus en vrede in hierdie land belowe as hulle na Hom sou luister, maar hulle wou nie.

13. Daarom spel die Here nou sy boodskap vir hulle uit in heel eenvoudige taal, letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël. Ten spyte hiervan sal hulle oor hierdie eenvoudige woorde struikel en val om nooit weer op te staan nie. Hulle sal gewond, gevang en met toue vasgebind word.

’n Hoeksteen vir Sion

14. Die Here het iets vir julle te sê, julle arrogante klomp leiers van Jerusalem.

15. Julle loop en spog dat julle onsterflik is, dat julle ’n ooreenkoms met die dood het. Julle dink die vloedgolf van die aanvallers wat op julle afkom, kan niks aan julle doen nie omdat julle agter ’n muur van leuens en bedrog skuil, asof julle die dood kan uitoorlê.

16. Die Here wat oor alles regeer, het vir julle ’n boodskap: Ek lê ’n fondament in Sion en sit ’n hoeksteen van graniet daarop neer wat sterk en veilig is om op te bou. Iemand wat op die Here vertrou, hoef nie paniekerig te word en te vlug nie.

17. Ek gaan die meetstok van reg en die waterpas van geregtigheid gebruik om julle bouwerk te toets. Julle dink julle mure is stewig, maar omdat dit op leuens gebou is, sal dit verkrummel soos wanneer ’n haelstorm deur ’n gebied trek en verwoesting saai. Omdat dit op bedrog rus, sal die vyand kom en soos ’n vloedgolf daaroor spoel.

18. Dan sal daar van julle sogenaamde ooreenkoms met die dood en julle onsterflikheid net mooi niks oorbly nie. As die aanvallers op julle afstorm, sal hulle julle met die grond gelykmaak.

19. Weer en weer sal hulle aanval, sonder ophou, dag na dag, enige tyd van die dag of nag. Iemand wat hierdie boodskap verstaan, sal angsbevange raak.

20. Al julle planne sal niks help nie. Dit is soos die spreekwoord wat sê dit help nie om jou te probeer uitstrek op ’n bed wat te kort is of om jou behoorlik te probeer toemaak met ’n kombers wat te klein is nie.

21. Net soos die Here by die berg Perasim die Filistyne in sy woede platgeloop het en by Gibeon die Ammoriete verslaan het, so kom die Here nou met sy volk afreken. So vreemd as wat dit klink, die Here sal doen wat Hy moet doen.

22. Staak julle ligsinnigheid, anders gaan julle straf nog erger wees as wat ek gesê het. Die Here, die Almagtige, het reguit vir my gesê dat Hy vasbeslote is om die hele land te vernietig.

God se wysheid

23. Ek pleit by julle, luister na my!

24. As ’n boer wil saai, hou hy mos nie net aan om te ploeg en die grond voor te berei nie.

25. As hy die grond klaar voorberei en gelykgemaak het, begin hy mos om die verskillende soorte saad te saai. Die kruie saai hy in klein beddinkies. Op die groot lande saai hy die koring en die gars, en op die kleiner lande saai hy ander gewasse soos lusern.

26. Hy doen dit so omdat sy God hom geleer het om dit te doen.

27. Hy sal tog nooit ’n swaar dorsmasjien gebruik om die fyn saadjies van die kruie in die hande te probeer kry nie. Hy gebruik ’n ligte stok om die saadjies mee uit te tik.

28. As hy die broodkoring dors, gebruik hy wel ’n wa en perde, maar hy doen dit baie versigtig, want hy wil nie alles fyn trap nie.

29. Al hierdie kennis kom van die Here die Almagtige af. Hy gee die beste raad en Hy sorg dat dinge reg verloop.