hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 45 Die Boodskap (DB)

1. Die Here laat Kores regeer. Hy maak hom sterk. Hy gee vir hom die krag om ander nasies voor hom te laat buig. Hy laat konings hulle wapens voor hom neerlê. Geen stad kan hom uit hou nie. Hy breek hekke oop om stede binne te val. Die Here sê vir hom:

2. Ek gaan voor jou uit. Ek maak jou pad gelyk. Ek breek koperdeure vir jou oop. Ek kap ysterslotte vir jou stukkend.

3. Ek gee vir jou die skatte wat in donker plekke bewaar word, die rykdom wat weggesteek word. Ek doen dit vir jou sodat jy kan weet dat dit Ek, die Here, die God van Israel is wat jou geroep het om te regeer.

4. Ek het spesifiek vir jou geroep. Ek doen dit ter wille van Jakob wat My dien, ter wille van Israel wat Ek gekies het om aan My te behoort. Ek het jou ’n spesiale posisie gegee, al het jy My nie geken nie.

5. Ek is die Here. Behalwe vir My is daar nie ander gode nie. Ek het jou sterk gemaak vir jou werk, al ken jy My glad nie.

6. Ek wil hê dat die hele wêreld moet weet dat daar niemand anders is behalwe Ek nie. Ek is die Here en daar is niemand anders naas My nie.

Die Here weet die beste

7. Dit is Ek wat die lig gemaak het, maar ook die donker. Vrede, maar Ek bring ook teëspoed. Ek is die Here. Ek het al hierdie dinge gemaak.

8. Ek sorg dat regverdigheid van bo uit die wolke neergiet soos reën. Ek laat die aarde geregtigheid indrink. Ek laat redding en geregtigheid soos ’n plant opskiet. Ek is die Here wat dit alles laat gebeur.

9. Daar wag probleme vir iemand wat staan en stry met die een wat hom gemaak het. Hy is soos ’n kleipot wat van klei gemaak is. Die klei kan mos nie vir die pottebakker sê nie: “Wat is jy besig om te doen? Weet jy dan nie wat om met jou hande te maak nie?”

10. Daar wag teëspoed vir iemand wat sy pa verwyt omdat hy hom gemaak het. Daar wag moeilikheid vir iemand wat vir sy ma vra hoekom sy hom in die wêreld gebring het.

11. Die Here, die hoë God wat vir Israel ’n volk gemaak het, sê vir hulle: Wil julle My nou voor stok kry oor my kinders? Wil julle vir My kom beduie wat Ek moet doen?

12. Dit is Ek wat die aarde gemaak het. Ek het die mense wat op die aarde woon, gemaak. Ek het met my hande die hemelruim daar bo oopgespan. Alles wat daarin is, luister wat Ek hulle beveel.

13. Ek het Kores na vore laat kom om geregtigheid te bring. Ek maak alles wat hy doen voorspoedig. Hy sal my stad Jerusalem herbou. Hy sal uit sy eie almal wat weggevoer is, laat teruggaan. Hy sal dit doen sonder dat hy daarvoor betaal word of omkoopgeld daarvoor kry. Dit is wat die Here sê wat oor alles regeer.

14. Die Here sê: Jy sal alles wat Egipte het, in die hande kry. Die artikels waarmee Kus handel dryf, sal na jou toe kom. Die lang mense van Seba sal jou slawe word. Jy sal hulle met kettings boei en hulle wegvoer om vir jou te werk. Hulle sal voor jou buig en hulle sal erken: “Werklik, God is by julle. Daar is nie ’n ander God nie.”

Israel se God bevry sy volk

15. Al is U nie ’n God wat ’n mens kan sien nie, is U Israel se God wat sy mense red.

16. Dié wat afgode maak, kom in die verleentheid. Hulle bring skande oor hulleself.

17. Die Here bevry Israel. Hulle sal vir altyd vry wees. Hulle sal in der ewigheid nooit skaam kry of verleë staan nie.

18. Die Here het die lug gemaak. Net Hy is God. Hy het die aarde gemaak. Hy het dit nie gemaak dat dit moet leeg staan nie, maar dat mense daarop kan woon. Hy sê: Ek is die Here. Daar is nie nog ’n ander God ook nie.

19. Ek het nie iets in die geheim gesê nie. Ek het nie daar gepraat waar dit donker en eenkant is nie. Ek het nie vir Jakob se nageslag gesê om na My te gaan soek waar dit eensaam en verlate is nie. Wat Ek, die Here, sê, is reg en regverdig.

Laat die nasies na die Here toe kom

20. Laat almal uit die ander nasies wat moes vlug, nou bymekaarkom. Laat hulle hier na My toe kom. Die mense wat beelde ronddra wat van hout gemaak is, is baie dom. Hulle aanbid gode wat niemand kan bevry nie.

21. Sit koppe bymekaar en beplan hoe julle julle saak gaan bewys. Wie het lankal al gesê wat nou gaan gebeur? Was dit nie maar Ek, die Here, nie? Daar is mos nie ’n ander God behalwe Ek nie. Ek is die enigste Een wat regverdig is en wat mense red. Niemand anders kan dieselfde vir julle doen nie.

22. Laat almal oor die hele wêreld na My toe kom dat Ek julle kan bevry. Daar is mos nie ’n ander God wat dit vir julle kan doen nie.

23. Ek maak ’n belofte vir julle wat vir altyd bly: elke mens sal nog voor My kom buig en bely dat Ek die Here is.

24. Hulle sal erken dat hulle net by My regverdigheid en sterkte kan kry. Almal wat teen My in opstand was, sal skaam kry.

25. Die Here sal die nageslag van Israel bevry. Hulle sal lofliedere vir Hom sing.