hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 65 Die Boodskap (DB)

God se onverstaanbare liefde

1. Ek was bereid om die gebede te verhoor van mense wat nog nie eens tot My gebid het nie. Ek was reg dat hulle My in die hande kon kry as hulle maar net na My wou soek. Ek sou vir ’n volk sê wat nie eens tot My wil bid nie: Hier is Ek!

2. Ek het die hele dag uitgereik na ’n volk wat net hulle eie kop wil volg. Hulle volg hulle eie verkeerde koers.

3. Hulle tart My sonder ophou uit. Hulle slag diere om in groen parke te offer. Hulle brand offers op plat rotse.

4. Hulle gaan bly tussen die grafte en slaap in grotte om die geeste te aanbid. Hulle eet moedswillig varkvleis. Daar is vleis wat vir die afgode geoffer word in hulle borde.

5. Hulle sê: “Bly weg van my af. Moenie aan my raak nie. Ek is soos ’n god vir jou.”Ek kan sulke mense nie verdra nie. Hulle irriteer My.

Ter wille van hulle wat getrou gebly het

6. My besluit staan vas. Ek gaan dit nie uitstel nie. Ek gaan hulle straf. Ek gaan vir hulle gee wat hulle verdien.

7. Ek gaan hulle terugbetaal vir alles wat hulle gedoen het, sê die Here, vir al hulle en ook hulle ouers se oortredings. Hulle het bo-op die berge wierook gaan offer vir die gode. Hulle het My beledig met hulle afgodsoffers wat hulle bo-op die heuwels gebring het.

8. Maar so sê die Here: Ter wille van hulle wat vir My leef, sal Ek hulle nie almal vernietig nie. Ek sal maak soos iemand wat aan ’n druiwetros nog bruikbare korrels kry.Hy sê: “Moenie dit weggooi nie, daar is nog korrels aan wat ons kan gebruik.”

9. Ek sal vir Jakob kinders laat oorbly. Daar sal uit Juda mense oorbly wat die berggedeeltes sal erf. Die mense wat Ek vir My uitkies, sal die land besit. Hulle wat vir My lewe, sal daar gaan woon.

10. Die volk wat My aanbid, sal hulle skape in die Saronvlakte kan laat wei. Hulle sal beeste in die Akorlaagte aanhou.

Sommige aangeneem en ander verwerp

11. Maar party van julle het mos van die Here af weggegaan. Julle het die Here se tempel uit julle gedagtes weggeskuif. Julle aanbid eerder die geluksgod en die noodlotsgod.

12. Ek het besluit dat julle almal doodgemaak sal word. Julle sal almal tereggestel word. Ek het na julle geroep, maar julle het nie gereageer nie. Ek het met julle gepraat, maar julle wou nie luister nie. Julle het aangegaan om alles te doen wat vir My verkeerd is. Julle het verkies om die dinge te doen wat My nie aanstaan nie.

13. Omdat dit gebeur het, sê my Heer, die Here, sal hulle wat aan My getrou gebly het, hulle versadig eet. Maar julle sal honger bly. Hulle sal genoeg hê om te drink. Julle sal dors bly. Hulle sal vrolik wees en julle sal treurig wees.

14. Hulle sal van blydskap sing, terwyl julle van hartseer kreun.

15. Julle name sal vloekwoorde word vir hulle wat aan My behoort. Die Here sal julle uitroei. Hy sal nuwe name gee vir dié wat aan Hom getrou gebly het.

16. Elkeen in die land wat vir voorspoed bid, sal dit doen in die Naam van die God wat getrou bly. Elkeen wat ’n eed aflê, sal dit doen in die Naam van die God op wie ’n mens kan staatmaak. Die probleme wat daar vroeër was, sal iets van die verlede wees. Dit sal vergeet word.

’n Nuwe skepping

17. Kyk, Ek gaan ’n hemel en aarde maak wat heeltemal nuut is. Niemand sal meer aan die ou een dink nie. Niemand sal daarna terugverlang nie.

18. Julle moet juig en sonder ophou bly wees oor wat Ek gaan doen. Ek gaan Jerusalem ’n plek van blydskap maak waarin mense bly wat gelukkig en tevrede is.

19. Ek gaan vreugde hê aan Jerusalem. Ek gaan bly wees oor die mense wat daar woon. Daar sal nooit weer in die stad iemand gehoor word wat huil of iemand wat treur nie.

20. Kinders sal nie daar doodgaan terwyl hulle nog babatjies is nie. Ou mense sal eers op ’n ryp ouderdom doodgaan. As iemand doodgaan voordat hy 100 jaar oud is, sal dit as ’n straf gesien word.

21-22. Hulle sal huise bou wat hulle nie hoef af te staan nie, maar waarin hulle self kan bly. Hulle sal wingerde aanplant waarvan hulle nog in hulle eie leeftyd druiwe kan pluk. Hulle sal so lank leef soos ’n boom. Hulle wat Ek vir My gekies het, sal nog die vrug kan geniet van dit wat hulle gemaak het.

23. Hulle sal hulle nie hoef besig te hou met dinge wat geen voordeel bring nie. Hulle sal nie kinders vir die ongeluk grootmaak nie. Die Here sal hulle en hulle kinders voorspoedig maak.

24. Ek sal vir hulle gee waarvoor hulle bid, selfs nog voor hulle daarvoor gevra het. Terwyl hulle nog besig is om te bid sal Ek reeds na hulle gebed geluister het.

25. Die wolwe en die lammetjies sal saam eet in die veld. Leeus sal gras vreet soos beeste. Slange sal van stof leef. By my tempel, sê die Here, sal niemand seergemaak word of enigiets beskadig word nie.