hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 44 Die Boodskap (DB)

Jy is Myne

1. Jakob behoort aan My. Ek het Israel gekies om Myne te wees. Luister na wat Ek vir jou sê, Jakob-Israel.

2. Die Here het jou gemaak. Hy het jou nog altyd gehelp vandat Hy jou in die lewe gebring het. Hy sê vir jou: Jy moenie bang wees nie, Jakob. My liewe Jesurun wat Ek gekies het om aan My te behoort, jy hoef nie te vrees nie.

3. Ek sal water gee in die plekke waar dit baie droog is. Daar sal waterstrome loop waar die grond uitgedroog is. Ek sal my Gees in jou kinders laat kom. Ek sal krag gee vir jou nageslag.

4. Hulle sal wees soos gras wat uitloop, soos wilgerbome wat langs die water staan.

5. Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here.”Die ander sal sê: “Ek is ’n afstammeling van Jakob.”Nog ’n ander een sal op sy hand skryf: “Die Here s’n.” En ’n ander een sal homself ’n Israeliet noem.

Geen ander God behalwe Ek nie

6. Die Here is Israel se koning. Die Here wat die hemelse leërmag aanvoer, sal Israel bevry. Hy sê: Ek is God van ewigheid af tot in ewigheid. Daar is nie ’n ander God behalwe Ek nie.

7. As iemand dink dat hy soos Ek is, moet hy dit sê. Hy moet dit kom bewys. Hy moet kom sê wat in die verlede met my volk gebeur het. Hy moet ook sê wat nog alles met hulle gaan gebeur.

8. Moenie skrik nie. Hou op om bang te wees. Ek het mos lankal al vir julle gesê wat gaan gebeur. Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander god behalwe Ek nie. Ek weet van niemand anders op wie julle kan vertrou nie.

9. Dié wat afgodsbeelde maak, is niks werd nie. Hulle gunstelinggode bring vir hulle geen voordeel nie. Dié wat hulle gode verdedig, is blind en onnosel. Hulle gaan nog baie skaam kry.

10. Wie is dan so dom om ’n afgodsbeeld te maak wat vir jou niks bring nie?

Die lawwigheid van afgodsbeelde

11. Elkeen wat afgodsbeelde maak, gaan maar sleg daarvan afkom. Dit is goed wat deur mense gemaak is. As hulle bymekaarkom en voor die beelde kom staan, gaan hulle geskok wees en skaam kry vir wat hulle doen.

12. Die smid werk met sy gereedskap en bewerk die yster in die vuur. Hy vorm die beeld met sy hamer op die aambeeld. Met sy gespierde arm slaan hy dit in die vorm wat hy dit wil hê. Maar hy is ook maar net ’n mens. Hy word ook maar honger en moeg. As hy nie water drink nie, raak hy ook maar uitgeput.

13. Die kunstenaar wat met hout werk, meet ’n stuk hout af en merk die buitelyne daarop uit met ’n potlood en ’n passer. Hy gebruik sy beitel en kerf uit die hout iets wat soos ’n mens lyk. Dit word ’n pragtige beeld wat lyk soos ’n mens wat in ’n huis woon.

14. Die hout wat hy gebruik, kom van ’n sederboom wat hy afgekap het. Hy kon ook ’n sipresboom of eikeboom gevat het. Hy laat vir hom bome in die bos grootword. Hy plant hulle en wag dat die reën hulle grootmaak.

15. Wanneer hy dit afkap, gebruik die mens die hout om vuur te maak. Hy maak homself daarmee warm, of hy gebruik dit vir die vuur waarmee hy brood bak. Maar hy gebruik van dieselfde hout om vir hom ’n god te maak waarvoor hy buig. Hy maak daarvan ’n afgodsbeeld en dan gaan buig hy in aanbidding voor die beeld.

16. Met die een helfte maak hy vuur. Hy braai vleis daarop en eet tot hy versadig is. Hy sit by die vuur om homself warm te maak. Hy sê ewe tevrede: “Ai, ek kry nou lekker warm. Dis lekker hier by die vuur.”

17. Van die hout wat nog oor is, gaan maak hy dan vir hom ’n afgodsbeeld. Hy buig voor die beeld neer en aanbid dit. Hy bid tot die beeld en hy sê: “Jy is my god. Jy moet my red!”

18. Hulle verstaan glad nie wat hulle besig is om te doen nie.Hulle oë is bottoe. Hulle sien en verstaan glad nie wat besig is om met hulle te gebeur nie.

19. Dit kom nie eens by hulle op om ’n oomblik na te dink en vir hulleself te sê nie: “Ek het dan met die een helfte vuur gemaak om brood te bak en vleis gaar te maak, hoe kan ek nou die ander helfte gebruik om ’n afgod van te maak? Ek bid mos nou tot ’n stuk hout!”

20. Iemand wat hom ophou met hout wat verbrand het, kan nie meer mooi dink nie. Hy kan nie meer op ’n afstand gaan staan en vir homself vra: “Is ek nie besig om myself te bedrieg as ek so maak nie?”

Net die Here weet wat sal gebeur

21. Jakob, jy moet ’n bietjie hieroor gaan nadink. Israel, jy moet onthou dat jy aan My behoort. Jy moet My dien. Ek sal jou nooit in die steek laat nie, Israel.

22. Ek het jou oortredings soos mis voor die son laat verdwyn. Ek het jou sondes soos ’n wolk laat verdamp. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.

23. Die lug daar bo moet uit volle bors sing oor wat die Here gedoen het. Selfs in die laagste plekke onder op die aarde moet daar hardop gesing word. Die berge met die bosse en bome daarop moet juig. Die Here het Jakob vrygemaak. Die Here het vir Israel gewys hoe groot Hy is.

24. Die Here wat jou vrygemaak het, wat jou van kleins af sy volk gemaak het, sê: Ek is die Here wat alles gemaak het. Ek het die blou lug daar bo oopgespan. Ek laat die aarde uitstrek na alle kante toe. Ek het dit gemaak sonder dat iemand My gehelp het.

25. Ek wys hoe verkeerd mense is wat die toekoms voorspel. Ek maak die fortuinvertellers belaglik. Ek wys vir dié wat dink dat hulle verstandig is hoe dwaas hulle eintlik is. Ek laat dié wat dink dat hulle slim is, insien hoe dom hulle werklik is.

Kores moet koning wees

26. Ek laat die dinge gebeur wat my dienaar vir julle sê nog gaan gebeur. Ek laat dit waar word wat my boodskapper vir julle gesê het. Ek sê vir julle dat daar weer mense in Jerusalem sal bly. Die dorpe in Juda sal herbou word. Ek sal die bouvalle van Jerusalem weer opbou.

27. Ek beveel die see om droog te word en die riviere om te gaan staan.

28. Ek beveel Kores om koning te wees. Hy moet alles laat gebeur wat Ek wil hê. Hy moet opdrag gee dat Jerusalem weer opgebou word en dat die tempel se fondament weer gelê moet word.