hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 62 Die Boodskap (DB)

Die Here verbind Hom weer aan Jerusalem

1. Vir Sion se onthalwe sal ek bly roep. Ek sal ter wille van Jerusalem nie ophou roep voordat die stad bevry is nie. Ek sal aanhou roep totdat sy redding brand soos die lig van ’n fakkel.

2. Die volke sal sien hoe jy gered word. Die konings sal staan en kyk hoe Jerusalem vrykom. Die Here sal vir jou ’n nuwe naam gee wat Hy self gekies het.

3. Die Here sal jou in sy hand hou soos ’n pragtige kroon wat ’n koning op sy kop sit.

4. Daar sal nie meer van jou gepraat word as die vrou wat geskei het nie. Jou land sal nie langer ’n verlate stuk grond wees nie. Jy sal die Here se liefling genoem word. Jou land sal aan die Here verbind wees. Die Here het jou lief. Hy sorg vir jou land soos ’n man vir sy vrou sorg.

5. Die mense wat in jou woon, sal vir jou sorg. Dit sal wees soos ’n jongman wat met ’n meisie trou. Soos die bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.

Die Here se belofte aan Jerusalem

6. Ek het wagte op Jerusalem se mure uitgesit. Hulle moet dag en nag op die uitkyk wees. Hulle moet die Here sonder ophou aan sy beloftes herinner. Hulle mag nooit ophou nie.

7. Hulle mag nooit kopgee nie. Hulle moet aanhou totdat die Here Jerusalem so herstel het dat die aarde oor hom kan sing.

8. Die Here het ’n belofte aan Jerusalem gemaak. Hy het die krag om by sy belofte te bly. Hy het gesê: Ek sal nooit weer toelaat dat jou vyande jou koring by jou kom afvat om dit te eet nie. Buitelanders sal nie weer die wyn kom uitdrink waarvoor jy so hard gewerk het nie.

9. Hulle wat die koring bymekaargemaak het, sal dit self eet en die Here daarvoor dank. Hulle wat die druiwe gepars het, sal die wyn self drink by die Here se tempel.

Maak die pad reg vir hulle wat terugkom

10. Gaan uit by die hek. Gaan deur die poort van die stad uit buitetoe. Gaan maak die pad reg vir die volk wat terugkom. Maak die pad weer oop. Vat die klippe uit die pad uit. Sit ’n teken op wat die volke kan sien.

11. Die Here stuur ’n boodskap uit oor die hele wêreld: “Sê vir die inwoners van Sion: Die Een wat jou verlos, is op pad na jou toe. Hy bring sy beloning saam met Hom. Hy laat hulle wat Hy loskoop, saam met Hom kom.

12. Hulle sal die Here se volk genoem word. Hulle is die mense wat die Here vrygemaak het. Jerusalem sal genoem word die geliefde stad. Dit is die stad wat nie aan homself oorgelaat is nie.”