hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 60 Die Boodskap (DB)

Die lig vir die wêreld

1. Staan op, Jerusalem, dat jy lig kan gee vir die wêreld. Die Here is by jou. Hy maak jou soos ’n lig wat skyn in die wêreld.

2. Dit is donker in die wêreld. Daar is duisternis onder die volke. By jou laat die Here dit egter lig wees. Hy is by jou. Hy maak lig vir jou dat jy ook ’n lig kan wees.

3. Die nasies kom na jou lig toe. Die konings van die wêreld kom na die helder lig wat by jou skyn.

Jou mense kom terug

4. Kyk ’n bietjie wat besig is om reg rondom jou te gebeur. Jou mense begin bymekaarkom om terug te kom huis toe. Jou seuns kom van ver af terug. Jou dogters word aangedra terug na jou toe.

5. Wanneer jy sien wat gebeur, gaan jy van blydskap straal. Jou hart sal opgewonde begin klop.Die seehandelaars sal met jou begin besigheid doen. Die rykdom van die wêreld sal na jou toe begin vloei.

Die volke stroom na Jerusalem

6. Lang karavane van kamele sal uit Midian en Efa op jou toesak. Hulle sal uit Skeba aankom met goud en wierook om die Here te aanbid.

7. Jy kan die kleinvee van Kedar en die bokramme van Nebajot gebruik soos jy wil. Jy kan hulle enige tyd op die altaar vir die Here kom offer. Hulle is ’n aanwins vir sy tempel.

8. Wat is dit wat soos wolke hier aangesweef kom, soos duiwe wat terugkom hok toe?

9. Dit is die skepe van die ander lande wat jou kinders weer huis toe bring. Vooraan is die skepe van Tarsis. Hulle is gelaai met goud en silwer om die Here jou God, die groot God, te vereer. Hy wil sy volk in ere herstel.

10. Buitelanders sal jou mure weer opbou. Hulle konings sal vir jou werk. Toe Ek vir jou kwaad was, het Ek jou gestraf. Noudat Ek jou jammer gekry het, sal Ek weer vir jou goed wees.

11. Jou stad se hekke sal dag en nag oopstaan sodat die nasies se rykdom daardeur na jou kan inkom. Hulle sal nooit gesluit word nie sodat die konings julle enige tyd kan kom besoek.

Die stad van die Here

12. Die nasies en die koninkryke wat weier om vir julle te werk sal vernietig word. Daardie nasies sal verdwyn.

13. Die beste hout uit die Libanon sal na Jerusalem gebring word. Sipres-, plataan- en dennehout sal gebruik word om my tempel mooi te maak. Ek sal die plek waar Ek aanbid word, mooi laat maak.

14. Die volke wat jou onderdruk het, sal by jou kom verskoning maak. Almal wat op jou neergesien het, sal onderdanig wees en by jou voete kom kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, en: Sion van die heilige God van Israel.

15. Jy was vroeër ’n eensame en verlate plek waarby niemand wou kom nie. Ek maak jou nou ’n pragtige plek wat een geslag mense na die ander graag wil besoek.

16. Nasies sal vir jou gee wat jy nodig het. Konings sal jou soos ’n ma versorg.Jy sal dan besef dat dit Ek, die Here, is wat jou verlos het. Die magtige God van Jakob het jou vrygemaak.

Wanneer die Here Jerusalem bevry

17. Ek sal sorg dat jy goud kry pleks van koper. In die plek van yster sal Ek jou silwer laat kry. Koper sal in die plek van hout kom en yster in die plek van klip. Ek sal vrede oor jou laat regeer. Geregtigheid sal jou leier wees.

18. Daar sal nie weer van geweld in jou land gehoor word nie. Verwoesting en vernietiging sal nie meer in jou gebied voorkom nie. Die mure om jou stad sal jou beskerm. Jy sal met vreugde by jou poorte kan in- en uitgaan.

Die Here sal jou lig wees

19. Jou lig sal gedurende die dag nie meer van die son af kom nie. Jy sal nie meer afhanklik wees van die maan wat in die nag skyn nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Jou God sal oor jou skyn.

20. Jou dae van hartseer is verby. Jou son sal nooit ondergaan nie. Jou maan sal nooit donker word nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees.

21. Almal van jou volk sal doen wat reg is. Die land sal vir altyd aan hulle behoort. Hulle sal die plante wees wat Ek self daar geplant het. Ek het hulle met my hande gemaak sodat hulle eer aan My kan gee.

22. Die kleinste groepie sal duisende sterk word. Dié wat die minste was, sal ’n groot volk word. Op die regte tyd sal Ek dit alles laat gebeur.