hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52
  53. 53
  54. 54
  55. 55
  56. 56
  57. 57
  58. 58
  59. 59
  60. 60
  61. 61
  62. 62
  63. 63
  64. 64
  65. 65
  66. 66

Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 34 Die Boodskap (DB)

’n Boodskap vir die vyande van die Here

1. Kom nader, nasies. Gee aandag, volke. Kom luister na my! Die aarde en alles wat op die aarde is, moet hoor wat ek te sê het.

2. Die Here is kwaad vir al die nasies en hulle weermagte. Hy het hulle tot vernietiging verdoem.

3. Hulle bloed sal in strome van die berge afstroom en hulle dooies sal nie begrawe word nie. Die lyke sal net daar in die oopte lê en ontbind.

4. Al die hemelliggame sal verkrummel en tot niet gaan. Die hemel sal soos ’n boekrol opgerol word. Die sterre sal uit die hemel uit val soos blare wat van ’n wingerdstok afval.

5. Dan sal die Here se swaard in die donker hemel verskyn en soos ’n verblindende weerligstraal op Edom neerkom, want die Here het besluit om hulle te vernietig.

6. Die swaard van die Here is vol bloed, dit drup van die vet asof dit gebruik is om die lammers en die bokramme vir die offer te slag. Want die Here gaan ’n offerfees in Bosra hou. Daar gaan ’n groot slagting in Edom wees.

7. Die mense sal saam met die wilde beeste en jong bulle doodgemaak word totdat die grond deurweek is van hulle bloed en vet,

8. want die dag van afrekening het aangebreek. Die Here sal Israel se saak verdedig en wraak neem op haar vyande.

9. Edom se riviere sal in teer verander en die grond in swael. Die hele land sal een stuk brandende teer word

10. wat dag en nag sal bly brand sodat die rook gedurig daaruit optrek. Die land sal geslagte lank in puin lê tot in die verre toekoms en niemand sal weer daardeur trek nie.

11. Die enigste inwoners van die land sal uile en kraaie wees. Die Here gaan Edom uitmeet met ’n maatband wat verwoesting saai en ’n waterpas wat vernietiging uitwys.

12. Daar sal nie meer ’n koninkryk wees waaroor ’n koning kan regeer nie en daar sal ook nie een van die leiers oorbly wat sou kon leiding gee nie.

13. Daar sal dorings in die paleise van Edom opkom en welig daar groei. Hulle forte en ander versterkte plekke sal toegegroei wees van allerhande onkruid. Die bouvalle van hierdie plekke sal die lêplek van die jakkalse en die volstruise word.

14. Die wilde diere van die woestyn en die hiënas sal saam daar aas en hulle getjank sal soos die geluid van duiwelse geeste klink. Die vroulike naggees Lilith sal haar blyplek daar maak.

15. Gevaarlike slange sal daar nes maak en eiers lê en die eiers sal daar uitbroei. Ook die aasvoëls sal dit hulle bymekaarkomplek maak.

16. Gaan lees gerus die boek van die Here, dan sal julle sien dat al hierdie diere daarin genoem word, elkeen met sy maat. Die Here het die opdrag gegee en sy Gees maak hulle bymekaar.

17. Die Here verdeel die land onder hulle sodat elkeen ’n deel het om op te bly. Daar sal hulle geslag na geslag bly omdat dit vir altyd aan hulle behoort.