hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23 Bybel vir Almal (ABA)

Die feeste

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet praat met die Israeliete en vir hulle sê: Hierdie is die feeste van die Here wat julle moet vier. Dit is die tye wanneer julle moet bymekaarkom en wanneer julle julleself moet wy, dit is my feeste.

3. Julle moet ses dae lank werk en alles doen wat julle moet doen, maar die sewende dag is die fees van die Sabbatdag. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy, en julle moenie werk nie. Dit is die Sabbatdag van die Here, oral waar julle woon.

4. “Hierdie is die feeste van die Here, dit is die tye wanneer julle moet bymekaarkom om julleself te wy. Julle moet die feeste vier op die tye wanneer julle dit moet doen.

5. “Die Paasfees van die Here is op die veertiende dag van die eerste maand, wanneer dit donker begin word.

6. Die Fees van die Ongesuurde Brood begin op die vyftiende dag van dieselfde maand. Dan moet julle sewe dae lank ongesuurde brood eet.

7. Julle moet op die eerste dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie julle werk doen wat julle altyd doen nie.

8. Julle moet vir die Here ’n vuur-offer bring op elkeen van hierdie sewe dae. Op die sewende dag moet julle weer bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag dan nie die werk doen wat julle altyd doen nie.”

9. Die Here het vir Moses gesê:

10. “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle kom in die land wat Ek vir julle gee, en julle sny die koring en die gars af, dan moet julle die eerste gerf wat julle afsny, vir die priester bring.

11. Die priester moet die gerf heen en weer beweeg voor die Here, dan sal die Here dit van julle aanvaar. Die priester moet die gerf beweeg op die dag ná die Sabbatdag.

12. Op dieselfde dag moet julle ’n gesonde jaaroud lam bring om ’n brand-offer vir die Here te wees.

13. Julle moet ook ’n koring-offer saambring. Die koring-offer moet twee tiendes van ’n efa van die beste meel wees. Julle moet dit met olyf-olie meng en knie. Die drank-offer moet ’n kwart hin wyn wees.

14. Tot op hierdie dag mag julle nie brood of gebraaide koring of koringkorrels van die nuwe koring-oes eet nie. Julle moet eers die offer vir julle God bring. Julle en julle nageslag moet dit altyd doen, oral waar julle woon.

15. Daarna moet julle sewe weke tel, julle moet dit tel van die dag ná die Sabbatdag, die dag wanneer julle die gerf bring om ’n beweeg-offer te wees.

16. Daarna moet julle 50 dae tel tot op die dag ná die sewende Sabbatdag, en dan moet julle ’n nuwe koring-offer bring.

17. Julle moet uit julle woonplekke twee brode bring om beweeg-offers te wees. Julle moet elke brood bak van twee tiendes van ’n efa van die beste meel, en daar moet suurdeeg in die brood wees. Dit is ’n offer vir die Here, dit is van die eerste koring-oes.

18. Saam met die brode moet julle sewe gesonde jaaroud ram-lammers bring en ook een jong bul en twee skaap-ramme, dit is ’n brand-offer vir die Here. Julle moet ook die koring-offers en die drank-offers bring wat daarby moet wees. Dit is vuur-offers, dit ruik lekker vir die Here.

19. Julle moet ook ’n bok-ram bring om ’n sonde-offer te wees, en twee jaaroud ram-lammers om ete-offers te wees.

20. Die priester moet hulle heen en weer beweeg saam met die brode van die eerste koring-oes. Saam met die twee lammers is dit ’n beweeg-offer voor die Here. Dit is aan die Here gewy, en die priester moet dit kry.

21. Julle moet op dieselfde dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie. Julle en julle nageslag moet dit altyd so doen, oral waar julle woon.

22. Wanneer julle die koring en die gars op julle lande afsny, dan moet julle nie alles afsny tot op die kant van die land nie. Julle moet ook nie die are optel wat val nie. Julle moet dit los vir die arm mense en vir die vreemdelinge. Ek is julle God die Here.”

23. Die Here het vir Moses gesê:

24. “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle moet op die eerste dag van die sewende maand ’n spesiale Sabbatdag vier. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet ramshorings blaas en julle moet skree.

25. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie en julle moet vir die Here ’n vuur-offer bring.”

26. Die Here het vir Moses gesê:

27. “Op die tiende dag van hierdie sewende maand, is dit Versoendag, dit is net op hierdie een dag. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet vas en julle moet vir die Here ’n vuur-offer bring.

28. Julle mag nie op hierdie dag die werk doen wat julle altyd doen nie, want dit is die Versoendag om vir julle versoening te doen voor julle God die Here.

29. As iemand nie op hierdie dag vas nie, dan moet julle hom afsny van sy volk.

30. En wanneer iemand op hierdie dag werk doen wat hy altyd doen, dan sal Ek self hom wegvat van sy volk en Ek sal hom laat sterf.

31. Julle mag nie werk doen wat julle altyd doen nie. Julle en julle nageslag moet hierdie dag altyd vier, oral waar julle woon.

32. Dit is vir julle ’n baie spesiale Sabbatdag. Julle moet begin vas op die aand van die negende dag en julle moet die Sabbatdag tot die volgende aand vier.”

33. Die Here het vir Moses gesê:

34. “Jy moet vir die Israeliete sê: Die Hutte-fees moet begin op die vyftiende dag van die sewende maand, en dit moet sewe dae lank aanhou.

35. Op die eerste dag moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie.

36. Julle moet sewe dae lank elke dag vir die Here ’n vuur-offer bring. Op die agste dag moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy en vir die Here ’n vuur-offer bring. Dit is ’n gewyde feesdag, en julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie.

37. “Dit is die feeste van die Here wat julle moet vier. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet ’n vuur-offer vir die Here bring, ’n brand-offer en ’n koring-offer en drank-offers, julle moet elke dag die offers bring wat die Here gesê het.

38. Julle moet ook die Sabbatdae van die Here vier en julle moet julle presente en julle gelofte-offers bring en ook al die offers wat julle self graag vir die Here wil gee.

39. “Op die vyftiende dag van die sewende maand moet julle begin om die fees van die Here te vier. Julle moet dit net op hierdie dag vier wanneer julle klaar die koring en die gars afgesny het en die vrugte gepluk het. Julle moet die fees sewe dae lank vier. Die eerste en die agste dag is spesiale Sabbatdae.

40. Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem en palmtakke en takke van bome wat baie blare het en bome wat langs water groei. Julle moet sewe dae lank feesvier voor julle God die Here.

41. Julle moet die fees elke jaar sewe dae lank vier. Julle en julle nageslag moet die fees altyd in die sewende maand vier.

42. Julle moet sewe dae lank in hutte woon. Elke Israeliet moet dit doen,

43. sodat julle nageslag sal weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit die land Egipte gebring het. Ek is julle God die Here.”

44. Moses het vir die Israeliete gesê watter feeste hulle vir die Here moet vier.