hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 21 Bybel vir Almal (ABA)

Die priesters moet gewyd bly

1. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die priesters van die nageslag van Aäron sê hulle mag nie raak aan ’n lyk van iemand in hulle familie wat dood is nie, want dan sal hulle onrein word.

2. ’n Priester mag net raak aan die lyk van iemand wat naby familie is: sy pa, of sy ma, of sy kind of sy broer.

3. Hy mag ook raak aan die lyk van sy suster as sy nog ’n jongmeisie is, maar as sy getroud is, sal hy onrein word as hy aan haar lyk raak.

4. Hy mag nie aan die lyke van sy skoonfamilie raak nie, hy sal onrein word en dit sal hom ontwy.

5. “Priesters mag nie die hare langs die kante van hulle kop en hulle baard afskeer as hulle wil rou nie, en hulle mag nie hulle vel stukkend sny nie.

6. “Die priesters moet aan hulle God gewy wees. Hulle mag nie die Naam van hulle God ontwy nie, want hulle moet die vuur-offers van die Here offer. Dit is die kos vir hulle God, en hulle moet gewyd wees wanneer hulle dit offer.

7. “’n Priester mag nie trou met ’n vrou wat ’n prostituut is nie, of met ’n vrou wat voorheen seks gehad het met ’n man, of met ’n vrou wat geskei is van haar man nie. Want die priester is aan sy God gewy.

8. Israeliete, julle moet altyd onthou dat die priester gewyd is, want hy offer die kos van julle God. Die priester moet altyd vir julle gewyd bly, want Ek, die Here, is heilig, en Ek wy julle aan My.

9. “As ’n priester se dogter haarself ontwy en sy word ’n prostituut, dan het sy ook haar pa ontwy. Julle moet haar verbrand.

10. “Die hoëpriester is belangriker as die ander priesters. ’n Ander priester het hom gewy en het salf-olie op sy kop gegooi. Die hoëpriester moet die gewyde klere dra. Daarom mag die hoëpriester nie sy hare los laat hang nie en hy mag nie sy klere skeur wanneer hy wil rou nie.

11. Hy mag glad nie by ’n lyk kom nie, ook nie by sy pa of sy ma se lyk nie, hy sal onrein word.

12. Hy mag nie uit die tempel gaan wanneer hy wil rou nie, hy sal die tempel-tent van sy God ontwy. Die hoëpriester dra die kroon wat wys dat hy gesalf is en dat hy aan sy God gewy is. Ek is die Here.

13. “Die hoëpriester mag net trou met ’n meisie wat ’n maagd is.

14. Hy mag nie trou met ’n weduwee of met ’n vrou wat geskei is van haar man nie. Hy mag nie trou met ’n vrou wat voorheen seks gehad het met ’n man of met ’n prostituut nie. Hy moet trou met ’n jongmeisie van sy eie volk

15. sodat hy nie sy nageslag sal ontwy nie, want Ek is die Here, Ek het hom gewy.”

Priesters moet heeltemal gesond wees

16. Die Here het vir Moses gesê:

17. “Jy moet vir Aäron sê: Wanneer iemand van jou nageslag nie heeltemal gesond is nie, dan mag hy nie by die altaar kom om sy God se kos te offer nie.

18. As ’n persoon nie heeltemal gesond is nie, dan mag hy nie naby die altaar kom nie. Hy is miskien blind of kreupel of gebreklik

19. of sy been of sy arm is af

20. of hy het ’n krom rug of hy is ’n dwergie of daar is ’n vlek in sy oog of hy het skurwe plekke of waterblasies op sy vel of sy geslagsorgane is stukkend.

21. As iemand van die nageslag van Aäron nie heeltemal gesond is nie, dan mag hy nie by die altaar kom om die vuur-offers van die Here te offer nie. Hy is nie heeltemal gesond nie en hy mag nie by die altaar kom om die kos van sy God te offer nie.

22. Maar hy mag eet van die kos van sy God, hy mag eet van die hoog-gewyde offers en van die gewyde offers.

23. Hy mag nie by die gordyn kom nie en hy mag nie naby die altaar kom nie, want hy is nie heeltemal gesond nie. As hy dit doen, dan sal hy my tempel-tent ontwy. Ek het self al hierdie dinge gewy.”

24. Moses het dit vir Aäron en sy seuns en al die Israeliete gesê.