hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26 Bybel vir Almal (ABA)

Die Here sal die Israeliete seën as hulle gehoorsaam is

1. “Julle mag nie vir julle afgode maak nie. Julle mag nie beelde maak en klip-pale in die grond plant nie en julle mag nie klippe met prente van afgode in julle land neersit en voor hulle buig nie, want Ek is julle God die Here.

2. Julle moet aanhou om my Sabbatdae te vier en julle moet my tempel respekteer. Ek is die Here.

3. As julle lewe soos Ek sê en aanhou om te doen wat my gebooie sê,

4. dan sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, en daar sal baie koring op die koringland wees en baie vrugte aan die bome.

5. Julle sal besig wees om op die dorsvloer te werk, dan sal julle ook moet begin om by die parskuip te werk, en julle sal besig wees om by die parskuip te werk, dan sal julle weer moet begin om koring en gars te saai. Julle sal genoeg kos hê om te eet en julle sal veilig woon in die land.

6. Ek sal vrede gee in die land, en julle sal rustig slaap. Ek sal die wilde diere wegvat uit die land, en daar sal nie oorlog kom in die land nie.

7. Julle sal julle vyande volg en jaag en julle sal hulle doodmaak.

8. Vyf van julle sal 100 vyande volg en jaag, 100 van julle sal 10 000 vyande volg en jaag, julle sal julle vyande doodmaak.

9. Ek sal vir julle sorg en Ek sal julle vrugbaar maak sodat julle baie sal word. Ek sal my verbond met julle hou en doen wat Ek belowe het.

10. Julle sal brood eet van koring wat julle lank gelede gebêre het en julle sal die ou koring moet uithaal om plek te maak vir die nuwe koring.

11. Ek sal my tempel tussen julle laat bly, dit sal nie vir My moeilik wees om naby julle te wees nie.

12. Ek sal saam met julle lewe, Ek sal julle God wees, en julle sal my volk wees.

13. Ek is julle God die Here, Ek het julle uit die land Egipte gebring. Julle was daar slawe, maar Ek het julle jukke gebreek sodat julle weer regop kon loop.”

Die Here sal die Israeliete straf as hulle ongehoorsaam is

14. “Julle sal miskien nie gehoorsaam wees aan My nie, en julle sal miskien nie alles doen wat my gebooie sê nie.

15. As julle wys dat julle dink my wette is nie belangrik nie en as dit vir julle moeilik is om te doen wat Ek besluit, en julle breek my verbond,

16. dan sal Ek hierdie dinge aan julle doen: Ek sal julle baie bang laat word, julle sal tering en hoë koors kry. Dit sal julle blind maak en dit sal julle stadig laat sterf. Julle sal koring en gars saai, maar julle sal niks koring of gars afsny nie, julle vyande sal dit eet.

17. Ek sal julle vyand word. Julle vyande sal julle oorwin en hulle sal oor julle regeer. Julle sal vlug, ook wanneer niemand julle jaag nie.

18. En as julle dan nog nie gehoorsaam wil wees aan My nie, dan sal Ek aanhou om julle te straf oor julle sondes.

19. Ek sal alles wegvat waarop julle trots is, die hemel bo-oor julle sal soos yster word sodat dit nie sal reën nie, en die aarde sal soos koper word sodat daar niks sal groei nie.

20. Julle sal werk maar julle sal niks kry nie, daar sal nie koring en gars op die lande wees of vrugte aan die bome nie.

21. En as julle opstandig bly teen My en julle wil nie gehoorsaam wees aan My nie, dan sal Ek aanhou om julle te straf oor julle sondes.

22. Ek sal wilde diere laat kom teen julle. Hulle sal julle kinders en julle diere doodmaak, julle sal min word, daar sal nie mense op julle paaie loop nie.

23. En as julle dan nog nie wil luister nie en opstandig bly teen My,

24. dan sal Ek ook julle vyand word, Ek sal aanhou om julle kwaai te straf oor julle sondes.

25. Ek sal julle straf omdat julle die verbond gebreek het, Ek sal oorlog bring teen julle. As julle na die stede vlug, dan sal Ek pes tussen julle laat kom, en julle vyande sal wen teen julle.

26. Ek sal julle kos laat opraak, daar sal so min meel wees dat tien vroue in een oond brood sal bak. Hulle sal die brood weeg, en die stukkie brood wat elkeen kry, sal nie genoeg wees nie.

27. En as julle dan nog ongehoorsaam is en julle bly opstandig teen My,

28. dan sal Ek ’n vyand word wat baie kwaad is, Ek sal aanhou om julle te straf oor julle sondes.

29. Julle sal julle eie kinders moet eet.

30. Ek sal julle offer-plekke verwoes en Ek sal julle wierook-altare afbreek. Dit sal nie vir My moeilik wees om julle lyke bo-op julle dooie afgode te gooi nie.

31. Julle stede sal hope klippe word, en daar sal nie mense in julle tempels wees nie. Ek wil nie meer die offers ruik wat julle bring nie.

32. Ek self sal die land so verwoes dat julle vyande wat in die land kom woon, bang sal wees in die land.

33. Ek sal julle oral in ander lande laat woon. Ek sal oorlog bring teen julle, en daar sal niemand in julle land woon nie, julle stede sal hope klippe wees.

34. Wanneer daar nie meer mense in die land is nie, en wanneer julle in die land van julle vyande is, dan sal die land kan rus en die land sal sy Sabbatsjare geniet.

35. Die land sal die hele tyd rus wanneer daar nie mense woon nie. Die land het nie gerus op julle Sabbatdae toe julle daar gewoon het nie.

36. Die paar mense wat nog lewe, sal baie bang wees in die land van hulle vyande. Hulle sal vlug wanneer hulle ’n blaar hoor wat val, hulle sal vlug soos hulle in oorlog sal vlug, hulle sal ook vlug wanneer niemand hulle jaag nie.

37. Hulle sal oor mekaar val soos in ’n oorlog, ook wanneer niemand hulle jaag nie. Julle sal nie sterk genoeg wees om teen julle vyande te veg nie.

38. Julle sal verdwyn tussen die volke, die land van julle vyande sal julle opvreet.

39. Die paar mense wat nog lewe, sal sterf en verdwyn oor hulle sondes in die land van hulle vyande. Hulle sal ook sterf en verdwyn oor die sondes van hulle voorvaders.

40. Miskien sal hulle bely dat hulle en hulle voorvaders sonde gedoen het, en dat hulle ontrou en opstandig was teen My.

41. Miskien sal hulle dan weet dat Ek hulle vyand geword het en dat Ek hulle na die land van hulle vyande gebring het. Miskien sal hulle jammer wees dat hulle soos heidene gelewe het en miskien sal hulle sê dat hulle die straf oor hulle sondes sal dra.

42. Dan sal Ek onthou dat Ek ’n verbond gemaak het met Jakob, Isak en Abraham, en met die land.

43. Maar die land sal eers alleen moet wees, daar sal nie mense woon nie, sodat die land sy Sabbatsjare kan geniet. My volk moet eers sê dat hulle die straf oor hulle sondes sal dra, want hulle het gewys dat dit nie vir hulle belangrik is om te doen wat Ek besluit nie, dit was vir hulle te moeilik om te doen wat Ek sê.

44. “Maar wanneer hulle in die land van hulle vyande is, sal Ek hulle nie los nie. Dit sal vir My te moeilik wees om hulle almal te laat sterf en om my verbond met hulle te breek, want Ek is hulle God die Here.

45. Ek sal onthou dat Ek ’n verbond gemaak het met hulle. Al die volke het gesien hoe Ek my volk uit die land Egipte gebring het sodat Ek hulle God kon wees. Ek is die Here.”

46. Dit is die wette wat die Here op Sinai-berg gegee het toe Hy die verbond gemaak het met hulle. Moses het dit vir hulle gesê.