hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 27 Bybel vir Almal (ABA)

Mense of diere of dinge wat aan die Here gewy is

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê: Iemand maak miskien ’n gelofte aan die Here en hy wy ’n persoon aan die Here. Dan moet julle sê hoeveel hy moet betaal om die persoon weer los te koop.

3. Dit is hoeveel hy moet betaal: Vir ’n man tussen 20 en 60 jaar moet hy 50 tempel-sikkels silwer betaal,

4. vir ’n vrou 30 sikkels,

5. vir ’n man of ’n seun tussen vyf en 20 jaar 20 sikkels, vir ’n vrou of ’n dogter tien sikkels,

6. vir ’n seun van ’n maand tot vyf jaar vyf sikkels, vir ’n dogter drie sikkels,

7. vir ’n man van 60 jaar en ouer 15 sikkels, en vir ’n vrou tien sikkels.

8. “En as iemand te arm is om hierdie geld te betaal, dan moet hy die persoon wat hy gewy het, na die priester toe bring, en die priester moet besluit hoeveel die arm man kan betaal.

9. “As iemand ’n dier bring om vir die Here te offer, en dit is ’n dier wat hy mag offer, dan is die dier aan die Here gewy.

10. Hy mag nie die dier omruil of ’n ander dier gee nie. As hy dit doen, dan is altwee die diere aan die Here gewy.

11. En as dit ’n onrein dier is wat hy nie aan die Here mag offer nie, dan moet hy die dier na die priester toe bring.

12. Die priester sal sê hoeveel hy moet betaal vir daardie dier. Miskien is dit ’n goeie dier of miskien is dit ’n slegte dier, dit maak nie saak nie. Die priester moet sê hoeveel die persoon moet betaal, en die persoon moet dit dan betaal.

13. Maar as die persoon die dier wil loskoop, dan moet hy een vyfde meer betaal.

14. “Wanneer ’n persoon sy huis aan die Here wy, dan moet die priester sê hoeveel die persoon moet betaal. Miskien is dit ’n goeie huis, miskien is dit ’n slegte huis, dit maak nie saak nie. Die priester moet sê hoeveel die persoon moet betaal, en die persoon moet dit dan betaal.

15. Maar as die persoon wat die huis gewy het, dit wil loskoop, dan moet hy een vyfde meer betaal, dan is dit weer sy huis.

16. “As iemand ’n stuk van sy grond aan die Here wy, dan moet julle kyk hoeveel saad iemand op daardie grond kan saai. Hy moet 50 sikkels silwer betaal vir elke gomer gars wat hy op daardie grond saai.

17. As die persoon die grond wy net ná die Hersteljaar, dan moet hy alles betaal as hy dit wil loskoop.

18. As hy die grond wy lánk ná die Hersteljaar, dan moet die priester sê die persoon mag minder betaal, die priester moet die jare tel wat oorbly tot die volgende Hersteljaar.

19. As die persoon die grond wat hy gewy het, self wil loskoop, dan moet hy een vyfde bysit by die geld wat hy vir die priester moet gee, dan mag hy die grond hou.

20. As hy nie self die grond loskoop nie en hy verkoop dit aan iemand anders, dan mag hy dit nie weer loskoop nie.

21. Wanneer die eerste eienaar weer die grond kry in die Hersteljaar, dan is dit aan die Here gewy. Dit is soos grond wat net aan die Here mag behoort. Die priester moet die grond kry.

22. As ’n persoon grond gekoop het wat nie aan hom behoort het nie, en hy wy die grond,

23. dan moet die priester tel hoeveel jaar oorbly tot die Hersteljaar, en hy moet dan sê hoeveel die persoon moet betaal. Die persoon moet die geld dieselfde dag betaal, dit is aan die Here gewy.

24. Die persoon wat die grond verkoop het, moet dit in die Hersteljaar terugkry, dit is sy grond.

25. “Wanneer mense moet betaal om iets los te koop wat gewy is, dan moet hulle tempel-sikkels gebruik, daar is 20 gera in ’n sikkel.

26. Die eerste kalwers en lammers behoort aan die Here, niemand kan hulle wy nie, hulle behoort klaar aan die Here.

27. Iemand kan die eerste kleintjie van ’n onrein dier loskoop. Die priester moet sê hoeveel die persoon moet betaal, en die persoon wat dit loskoop, moet een vyfde meer betaal. As iemand dit nie loskoop nie, dan moet die priester sê hoeveel iemand anders daarvoor moet betaal.

28. Wanneer iemand vir die Here iets gegee het om net aan die Here te behoort, dan kan niemand dit koop of loskoop nie. Dit kan ’n mens of ’n dier of grond wees, as dit net aan die Here mag behoort, dan is dit hoog-gewyd.

29. As iemand ’n ander persoon so aan die Here gegee het, dan mag niemand die persoon loskoop nie. Julle moet hom doodmaak.

30. “Al die tiendes van koring of gars of vrugte behoort aan die Here, dit is aan die Here gewy.

31. Wanneer iemand van die tiendes wil loskoop, dan moet hy een vyfde meer betaal.

32. Al die tiendes van beeste of skape of bokke is aan die Here gewy. Julle moet elke tiende dier vang, dit behoort aan die Here.

33. Julle mag nie kyk of die dier goed of sleg is nie en julle mag dit nie omruil vir ’n ander dier nie. As iemand dit doen, dan is altwee diere aan die Here gewy, niemand mag dit loskoop nie.”

34. Dit is die gebooie wat die Here op Sinai-berg vir Moses gegee het om vir die Israeliete te gee.