hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 4 Bybel vir Almal (ABA)

Sonde-offers

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer iemand sonde doen teen een van die gebooie van die Here, wanneer hy iets doen wat hy nie mag doen nie, maar hy weet dit nie, dan moet julle só doen:

3. “Wanneer die gesalfde priester sonde gedoen het en hy het die volk skuldig laat word, dan moet hy ’n gesonde bul vir die Here gee. Dit is ’n sonde-offer.

4. Hy moet die bul bring na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy moet sy hand op die kop van die bul sit en hy moet die bul daar voor die Here slag.

5. Dan moet die gesalfde priester van die bloed van die bul neem en hy moet dit bring na die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

6. Dan moet hy sy vinger in die bloed steek en hy moet die bloed sewe maal voor die gordyn van die gewyde plek spat.

7. Daarna moet hy ’n bietjie van die bloed smeer aan die horings van die wierook-altaar, daar voor die Here in die tent, en dan moet hy al die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die brandoffer-altaar voor die tent.

8. Dan moet hy al die vet van die sonde-offerbul uithaal. Dit is die netvet, die vet aan die binnegoed,

9. die twee niere saam met die niervet aan die kruis, en die punt van die lewer wat hy saam met die niere uithaal.

10. Hy moet dit doen soos hy gedoen het met die dier vir die ete-offer, en hy moet dit op die brandoffer-altaar verbrand.

11. Maar hy moet die bul se vel, en ook al sy vleis, sy kop en pote, sy binnegoed en sy pensmis,

12. die hele bul, buite die kamp neem na ’n rein plek, die ashoop. Daar moet hy dit verbrand op ’n houtvuur.

13. “Miskien het die hele volk Israel sonde gedoen, maar hulle weet dit nie, hulle het iets gedoen teen een van die gebooie van die Here, iets wat ’n mens nie mag doen nie, en hulle het skuldig geword.

14. Wanneer hulle dan uitvind dat hulle die sonde gedoen het, dan moet die volksvergadering ’n bul gee om ’n sonde-offer te wees. Hulle moet die bul bring voor die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

15. Die leiers van die vergadering moet hulle hande daar voor die Here op die kop van die bul sit, en hulle moet die bul slag.

16. Die gesalfde priester moet ’n bietjie van die bul se bloed in die tent bring, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

17. Hy moet sy vinger in die bloed steek en hy moet dit sewe maal voor die gordyn spat, daar voor die Here.

18. Dan moet hy van die bloed aan die horings van die altaar smeer, daar voor die Here in die tent. En hy moet al die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar wat voor die tent is.

19. Dan moet hy al die vet uithaal wat in die bul is en hy moet dit op die altaar verbrand.

20. Hy moet met hierdie bul doen soos met die ander bul. So moet hy versoening doen vir die mense in die vergadering, sodat die Here hulle sal vergewe.

21. Hy moet die bul uit die kamp neem en hy moet dit verbrand, soos die ander bul. Dit is die sonde-offer van die volksvergadering.

22. “Miskien is dit ’n leier wat sonde doen, wanneer hy iets doen teen een van die gebooie van sy God die Here, maar hy weet dit nie, en hy word skuldig.

23. Wanneer hy uitvind dat hy die sonde gedoen het, dan moet hy ’n gesonde bok-ram gee om ’n offer te wees.

24. Hy moet sy hand op die bok se kop sit en hy moet die bok slag op dieselfde plek waar hulle die brandoffer-dier voor die Here slag. Dit is ’n sonde-offer.

25. Die priester moet dan van die sonde-offerbok se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die brandoffer-altaar.

26. Dan moet hy al die vet van die bok op die altaar verbrand, soos die vet van die ete-offer. Die priester doen so versoening vir die sonde van die leier, en die Here sal hom vergewe.

27. “Miskien doen ’n gewone mens sonde, maar hy weet dit nie. Hy doen iets teen een van die gebooie van die Here en hy word skuldig.

28. Wanneer hy uitvind dat hy die sonde gedoen het, dan moet hy ’n gesonde bok-ooi gee om ’n offer te wees vir die sonde wat hy gedoen het.

29. Hy moet sy hand op die ooi se kop sit en hy moet die ooi slag op die plek waar hulle die brandoffer-diere slag.

30. Die priester moet dan van die ooi se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet al die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar.

31. Dan moet hy al die vet uithaal wat in die ooi is, soos hy die vet van die dier uithaal wat die ete-offer moet wees, en hy moet dit op die altaar verbrand. Dit ruik lekker vir die Here. Die priester doen so versoening vir die persoon, en die Here sal hom vergewe.

32. Wanneer die persoon ’n skaap gee om ’n sonde-offer te wees, dan moet hy ’n gesonde skaap-ooi gee.

33. Hy moet sy hand op die ooi se kop sit en hy moet haar slag op dieselfde plek waar hulle die brandoffer-dier slag.

34. Die priester moet van die ooi se bloed op sy vinger neem en hy moet dit aan die horings van die brandoffer-altaar smeer. Hy moet die bloed wat oorbly, uitgooi teen die onderkant van die altaar.

35. Hy moet al die vet uithaal, soos hy die vet van die skaap vir die ete-offer uithaal, en hy moet dit op die altaar verbrand, saam met die vuur-offers vir die Here. Die priester doen so versoening vir die sonde wat die persoon gedoen het, en die Here sal hom vergewe.”