hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 14 Bybel vir Almal (ABA)

Hoe om iemand te reinig wat melaats was

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Dit is wat julle moet doen wanneer iemand melaats was en julle moet hom reinig: Julle moet hom na die priester toe bring.

3. Die priester moet buite die kamp na die persoon gaan kyk. As die seerplek gesond is en nie meer melaats is nie,

4. dan moet die priester sê die persoon moet twee rein voëls bring wat lewe, en ook ’n stukkie sederhout, rooi garing en ’n hisop-takkie.

5. Die priester moet vir die persoon sê hy moet een voël se kop afsny oor ’n kleipot waarin vars water is.

6. Dan moet die priester die voël neem wat nog lewe, en ook die stukkie sederhout, die rooi garing en die hisop-takkie, en hy moet dit druk in die bloed van die dooie voël.

7. Hy moet van die bloed en water sewe maal spat op die persoon wat hy moet reinig. Daarna moet die priester sê die persoon is rein, en die priester moet na die veld gaan, en hy moet die voël wat nog lewe, daar los.

8. Die persoon wat rein geword het, moet sy klere was en hy moet al sy hare afsny en homself was. Hy is dan rein en hy mag in die kamp kom, maar hy moet sewe dae lank buite sy tent bly.

9. Op die sewende dag moet hy weer skeer. Hy moet al sy hare afskeer, sy hare, sy baard en sy ooghare, en hy moet sy klere en homself was. Dan is hy rein en dan mag hy in sy tent ingaan.

10. Op die agste dag moet hy twee ram-lammers en ’n jaaroud ooi-lam na die priester toe bring. Die lammers moet almal gesond wees. Hy moet ook ’n koring-offer bring, die offer is drie tiendes van ’n efa van die beste meel, en hy moet een log olyf-olie bring.

11. Die priester wat die persoon moet reinig, moet dan die persoon en sy offers bring voor die Here by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

12. Die priester moet dan een ram-lam neem en hy moet dit offer saam met die log olyf-olie. Dit is ’n skuld-offer, die priester moet dit heen en weer beweeg voor die Here, dit is ’n beweeg-offer.

13. Die priester moet dan die ram-lam slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die sonde-offer en die brand-offer slag. Hy moet dit op die gewyde plek slag, want die priester kry ook die sonde-offer en hy kry ook die skuld-offer. Dit is ’n hoog-gewyde offer.

14. Die priester moet dan van die bloed van die skuld-offer neem en hy moet dit smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet dit ook smeer aan sy regter-duim en sy regter-groottoon.

15. Die priester moet dan van die olyf-olie neem in sy linker-hand

16. en hy moet sy regter-vinger steek in die olie wat in sy linker-hand is. Hy moet die olie sewe maal voor die Here spat.

17. Die priester moet dan van die olie wat in sy linker-hand is, smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet ook van die olie aan sy regter-duim en sy regter-groottoon smeer, bo-oor die bloed van die skuld-offer.

18. Die priester moet dan die olie wat nog in sy hand oorgebly het, smeer aan die kop van die persoon wat hy moet reinig, en die priester moet voor die Here versoening doen vir die persoon.

19. Daarna moet die priester die sonde-offer offer en hy moet versoening doen vir die persoon sodat die persoon nie meer onrein sal wees nie. Daarna moet die priester die lam slag vir die brand-offer

20. en hy moet die brand-offer en die koring-offer op die altaar offer. Die priester moet so versoening doen vir die persoon, en die persoon sal dan rein wees.

21. “As die persoon arm is en hy het nie geld om vir die lammers te betaal nie, dan moet hy een ram-lam bring om ’n skuld-offer te wees. Dit is ’n beweeg-offer, sodat die priester vir hom versoening kan doen. Hy moet ook een tiende van ’n efa van die beste meel bring wat hy met olyf-olie gemeng en geknie het. Dit is ’n koring-offer. Die persoon moet ook ’n log olyf-olie

22. en twee tortelduiwe of twee makduiwe bring as hy dit kan koop. Een duif is vir ’n sonde-offer en een duif is vir ’n brand-offer.

23. Die persoon moet dan die lam en die duiwe op die agste dag na die priester toe bring, die priester wat hom moet reinig, voor die Here, by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

24. Die priester moet die lam en die log olie neem en hy moet dit heen en weer voor die Here beweeg om ’n beweeg-offer te wees.

25. Daarna moet die priester die lam slag wat ’n skuld-offer is. Hy moet van die bloed neem en dit smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig, en ook aan sy regter-duim en sy regter-groottoon.

26. Daarna moet die priester van die olie in sy linker-hand gooi

27. en hy moet met sy regter-vinger sewe maal van die olyf-olie voor die Here spat.

28. Dan moet die priester van die olyf-olie wat in sy hand is, smeer aan die persoon se regter-oor en sy regter-duim en sy regter-groottoon, hy moet dit smeer bo-oor die bloed van die skuld-offer.

29. Die priester moet dan die olie wat oorbly in sy hand, smeer aan die kop van die persoon wat hy moet reinig, en hy moet voor die Here versoening doen vir die persoon.

30. Daarna moet die priester een tortelduif of een makduif offer.

31. Die een duif moet ’n sonde-offer wees en die ander duif moet ’n brand-offer wees saam met die koring-offer. Die priester moet voor die Here versoening doen vir die persoon wat hy moet reinig.

32. Dit is wat moet gebeur as iemand ’n melaatse seerplek gehad het en as hy nie geld het vir hierdie offers nie.”

Swamme aan mure

33. Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

34. “Ek sal vir julle die land Kanaän gee om aan julle te behoort. Wanneer julle in die land kom en Ek laat ’n swam groei teen die mure van ’n huis in daardie land,

35. dan moet die persoon kom aan wie die huis behoort, en hy moet vir die priester sê: ‘Ek sien daar is iets soos ’n swam teen my huis se mure.’

36. Die priester moet dan sê hulle moet alles uit die huis neem voordat hy na die swam gaan kyk. Dan sal alles wat in die huis is, nie onrein word nie. Daarna moet die priester gaan kyk na die swam.

37. As hy sien die swam teen die huis se muur is groen of rooi en dit lyk of dit dieper is as die muur,

38. dan moet die priester uit die huis gaan en hy moet die huis sewe dae lank toesluit.

39. Wanneer die priester op die agste dag terugkom en hy sien die swam het groter geword teen die huis se muur,

40. dan moet die priester sê hulle moet die klippe waarop die swam is, uithaal en hulle moet dit weggooi op ’n onrein plek buite die stad.

41. Hulle moet die klei aan die binnekant van die huis se mure afkrap en hulle moet dit weggooi op ’n onrein plek buite die stad.

42. Hulle moet dan ander klippe in die muur sit en hulle moet ander klei neem en die mure weer regmaak.

43. Daar sal miskien weer ’n swam groei nadat hulle die klippe uitgebreek het en die klei afgekrap het en die muur weer reggemaak het.

44. As die priester kom kyk en hy sien die swam is daar, dan is dit ’n slegte swam wat groei, dit is onrein.

45. Dan moet hulle die hele huis afbreek en hulle moet die klippe en die klei weggooi op ’n onrein plek buite die stad.

46. As die priester die huis toegesluit het, en iemand gaan in die huis in, dan is hy onrein tot die aand.

47. Iemand wat in die huis slaap of eet, moet sy klere was.

48. Nadat hulle die huis reggemaak het, moet die priester kom kyk. As hy sien die swam het nie weer teen die huis se muur gegroei nie, moet die priester sê die huis is rein, want die swam is weg.

49. As die priester die huis wil reinig, moet hy twee voëls neem en ’n stukkie sederhout en rooi garing en ’n hisop-takkie.

50. Hy moet een van die voëls slag oor vars water in ’n kleipot.

51. Dan moet hy die sederhout en die hisop-takkie en die rooi garing en die voël wat nog lewe, neem en hy moet dit alles in die bloed en water druk. Hy moet van die bloed en die water sewe maal spat teen die huis.

52. Die priester moet die bloed van die voël, en die water, en die voël wat nog lewe, en die sederhout en die hisop-takkie en die rooi garing gebruik om die huis te reinig.

53. Daarna moet hy die voël wat nog lewe, in die veld los. So moet hy versoening doen vir die huis. Die huis sal dan rein wees.

54. “Dit is wat moet gebeur wanneer iemand ’n seerplek kry wat miskien melaats is,

55. of wanneer daar skimmel kom aan klere of swamme teen ’n huis se mure,

56. of wanneer iemand ’n seerplek kry wat swel of ’n skurwe plek of ’n vlek aan sy vel.

57. Die priester moet dan sê of dit rein of onrein is. Dit is die wette oor melaatsheid.”