hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 20 Bybel vir Almal (ABA)

Die Israeliete is die Here se spesiale volk

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê: ’n Israeliet of ’n vreemdeling in die land wat ’n kind van sy nageslag vir Molek gee, moet sterf. Die mense van die land moet hom doodgooi met klippe.

3. Ek sal self daardie man se vyand wees, Ek sal hom afsny van sy volk, want hy het ’n kind van sy nageslag vir Molek gegee. Dit het my tempel onrein laat word en my heilige Naam ontwy.

4. Iemand het miskien ’n kind van sy nageslag vir Molek gegee, en die mense van die land maak of hulle nie sien wat daardie man gedoen het nie. As hulle die man nie doodmaak nie,

5. dan sal Ek self daardie man en sy familie se vyand wees. Ek sal hom afsny van sy volk, en ook almal wat saam met hom ontrou was en wat vir Molek gedien het.

6. “Wanneer ’n persoon wil vra wat hy moet doen, dan vra hy dit miskien vir die geeste van mense wat gesterf het, of vir waarsêers. Daardie persoon is ontrou aan My. Ek sal sy vyand wees en Ek sal hom afsny van sy volk.

7. Julle moet julleself aan My wy, julle moet gewyde mense wees, want Ek is julle God die Here.

8. Julle moet aanhou om te doen wat Ek wil hê. Ek is die Here, Ek wy julle aan My.

9. “Ja, die persoon wat sy ouers vervloek, moet sterf. Hy het sy ouers vervloek, daarom moet hy sterf, hy is skuldig.

10. “En die man wat egbreuk pleeg met ’n ander man se vrou, moet sterf, hy en die vrou moet sterf.

11. En ’n man wat seks het met sy pa se vrou, moet sterf, hy het skande gebring oor sy pa se naam. Die man en die vrou moet altwee sterf, hulle is skuldig.

12. “En ’n man wat seks het met sy skoondogter, moet sterf. Hulle moet altwee sterf, hulle het iets gedoen wat die Here haat, hulle is skuldig.

13. “En die man wat seks het met ’n ander man, moet sterf. Hulle het iets gedoen wat die Here haat, hulle moet altwee sterf, hulle is skuldig.

14. “En dit is ’n slegte ding wanneer ’n man met ’n vrou én met haar ma trou. Julle moet hulle aldrie verbrand, daar mag nie so ’n slegte ding by julle gebeur nie.

15. “En ’n man wat seks het met ’n dier, moet sterf. Hy moet sterf, en julle moet die dier ook doodmaak.

16. En as ’n vrou seks het met ’n dier, dan moet julle die vrou én die dier doodmaak. Hulle moet sterf, hulle is skuldig.

17. “En as ’n man trou met sy suster of met sy halwe suster en hy het seks met haar, dan is dit ’n skande. Julle moet hulle afsny van die volk, en die mense moet sien dat julle dit doen. Hy het skande gebring oor sy suster se naam, hy is skuldig.

18. “As ’n man seks het met ’n vrou wat menstrueer, dan moet julle hulle altwee afsny van hulle volk.

19. “Jy mag nie seks hê met jou pa of jou ma se suster nie. As jy dit doen, dan is jy én die vrou skuldig.

20. “En die man wat seks het met sy oom se vrou, bring skande oor sy oom se naam. Hulle doen sonde, hulle is skuldig, nie een van hulle sal kinders hê nie.

21. “En as ’n man seks het met sy broer se vrou, dan maak dit hulle onrein. Hy het skande gebring oor sy broer se naam, en die man of die vrou sal nooit kinders hê nie.

22. “Julle moet aanhou om alles te doen wat Ek sê en besluit, dan sal Ek julle bring na ’n land, en daardie land sal julle nie wegjaag nie.

23. Julle moenie lewe soos die ander volke nie, Ek het hulle weggejaag om plek te maak vir julle. Hulle het al hierdie verkeerde dinge gedoen, en Ek het hulle gehaat.

24. Ek het vir julle gesê dat julle hulle land moet vat, Ek gee dit vir julle om vir julleself te vat. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is. Ek is julle God die Here, Ek het gesê julle moet my spesiale volk wees tussen die ander volke.

25. Daarom moet julle ook dit onthou: Die rein diere en voëls is nie dieselfde soos onrein diere en voëls nie. Ek het vir julle gesê watter diere onrein is. Julle moenie raak aan een van die onrein diere of voëls of klein diertjies nie, want dan sal julle ook onrein word.

26. Julle moet aan My gewy wees, want Ek, die Here, is heilig. Ek het gesê julle moet my spesiale volk wees tussen die ander volke.

27. “Party mans of vroue sê hulle kan praat met die geeste van mense wat gesterf het. Daardie mans of vroue moet sterf, en ook mense wat sê hulle weet wat ander mense nie kan weet nie. Julle moet hulle doodgooi met klippe, hulle is skuldig.”