hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25 Bybel vir Almal (ABA)

Die Sabbatsjaar

1. Die Here het op Sinai-berg vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee, dan moet elke sewende jaar ’n Sabbatsjaar wees.

3. Julle moet ses jaar lank in julle koringlande en in julle wingerde werk en julle moet elke jaar die koring-oes en die druiwe bymekaarmaak.

4. Maar die sewende jaar moet ’n spesiale rustyd vir die land wees, dit is ’n Sabbatsjaar vir die Here. Dan mag julle nie in julle lande en in julle wingerde werk nie.

5. Julle mag nie die koring en gars afsny wat self begin groei nie en julle mag nie die druiwe pluk wat aan die ranke van julle wingerde groei nie. Dit is ’n jaar wanneer die land moet rus.

6. Julle en julle slawe en julle slavinne en julle dagloners en julle bywoners moet in die Sabbatsjaar eet wat daar in die land is.

7. Julle diere en die wilde diere moet ook eet van alles wat daar in die land is, daar sal genoeg kos vir julle almal wees.”

Die Hersteljaar

8. “Jy moet sewe groepe van sewe jaar tel, jy moet sewe maal sewe jaar tel, dit is 49 jaar.

9. Dan moet jy op die tiende dag van die sewende maand, op Versoendag, oral in die land op die ramshoring blaas.

10. Julle moet die vyftigste jaar wy en julle moet vir almal wat in die land woon, sê dat hulle vry kan word. Dit moet vir julle die Hersteljaar wees. Elkeen moet teruggaan na sy grond en sy familie.

11. Die vyftigste jaar moet vir julle ’n Hersteljaar wees. Julle moenie saai nie en julle moenie die koring en die gars afsny wat self begin groei nie. Julle moet ook nie die druiwe aan die ranke van die wingerde pluk nie,

12. want dit is ’n Hersteljaar, dit is vir julle ’n gewyde jaar. Julle moet eet van die kos wat daar in die veld is.

13. In hierdie Hersteljaar moet elkeen teruggaan na sy grond.

14. Wanneer julle iets aan ander Israeliete verkoop of wanneer julle iets by hulle koop, dan moet julle nie mekaar laat swaarkry nie.

15. Wanneer julle ’n stuk grond koop, dan moet julle tel hoeveel jaar verby is ná die Hersteljaar, en wanneer julle dit verkoop, dan moet julle tel hoeveel maal julle nog koring sal afsny tot die volgende Hersteljaar.

16. As dit baie jare is, dan moet julle meer betaal, en as dit min jare is, dan moet julle minder betaal, want julle koop net die koring-oes tot die volgende Hersteljaar.

17. Julle moenie mekaar laat swaarkry nie, julle moet julle God respekteer en dien. Ek is julle God die Here.

18. Julle moet aanhou om te doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit. As julle dit doen, dan sal julle veilig woon in die land.

19. Daar sal dan baie koring wees wat julle kan afsny. Julle sal meer as genoeg hê om te eet, en julle sal veilig woon in die land.

20. Julle vra miskien: ‘Wat sal ons eet in die sewende jaar as ons nie mag saai of koring mag afsny nie?’

21. “Ek sal vir julle baie kos gee in die sesde jaar, die koring-oes sal genoeg wees vir drie jaar.

22. Wanneer julle weer saai in die agste jaar, dan sal julle nog tot die negende jaar kan eet van die koring-oes in die sesde jaar.

23. Julle mag nie grond verkoop sodat dit altyd aan die nuwe eienaar behoort nie, want die land behoort aan My, julle is vreemdelinge en bywoners by My.

24. Iemand moet grond kan loskoop oral in julle land.

25. As een van julle arm word en hy verkoop van sy grond, dan moet sy naaste losser kom en hy moet die grond loskoop wat sy familielid moes verkoop.

26. Miskien het die persoon nie ’n losser nie, maar hy kry genoeg geld om homself los te koop.

27. Dan moet hulle tel hoeveel jaar verby is nadat die persoon die grond verkoop het, en dan moet hy vir die persoon wat die grond gekoop het, betaal vir die jare wat oorbly tot die volgende Hersteljaar. Daarna kan hy teruggaan na sy grond.

28. As die persoon nie genoeg geld kan kry om die grond terug te koop nie, dan moet die persoon wat die grond gekoop het, dit hou tot die volgende Hersteljaar. Dan moet die grond weer behoort aan die eerste persoon, en dan mag hy teruggaan na sy grond.

29. “Wanneer iemand ’n huis verkoop in ’n stad wat mure het, dan kan hy die huis loskoop in die eerste jaar nadat hy dit verkoop het.

30. As hy nie die huis terugkoop in die eerste jaar nie, dan kan die persoon wat dit gekoop het, en sy nageslag, die huis altyd hou. Die eerste eienaar kry nie weer die huis in die Hersteljaar nie.

31. Daar is nie mure om party dorpe nie. Die huise in daardie dorpe staan in die veld. Die eerste eienaar van so ’n huis kry weer sy huis in die Hersteljaar.

32. Leviete kan die huise in hulle stede altyd terugkoop.

33. Wanneer ’n Leviet sy huis in ’n Levietestad verkoop het en hy kan dit nie loskoop voor die Hersteljaar nie, dan moet hy die huis terugkry in die Hersteljaar. Die huise in die Levietestede moet altyd aan die Leviete behoort.

34. Die Leviete mag nie die weiveld rondom hulle stede verkoop nie, dit moet altyd aan hulle behoort.

35. “Wanneer een van julle arm word en hy kan homself nie help nie, dan moet jy hom help om aan te hou lewe, hy moet soos ’n vreemdeling of ’n bywoner by jou woon.

36. Jy moenie vir hom rente laat betaal wanneer jy vir hom geld leen nie, en as jy dit doen, dan moet jy hom nie te veel laat betaal nie. Jy moet jou God respekteer en jy moet die ander Israeliet help om aan te hou lewe.

37. Jy moenie vir hom rente laat betaal wanneer jy vir hom geld leen nie, en wanneer jy vir hom kos gee, dan moet jy hom nie te veel laat betaal nie.

38. Ek is julle God die Here, Ek het julle uit die land Egipte gebring om vir julle die land Kanaän te gee en om julle God te wees.

39. “Wanneer een van julle so arm word dat hy homself aan jou moet verkoop, dan moet jy hom nie vir jou laat werk soos ’n slaaf nie.

40. Hy moet vir jou soos ’n dagloner of ’n bywoner wees, en hy moet vir jou werk net tot die Hersteljaar.

41. Dan mag hy en sy kinders weggaan van jou, hulle mag teruggaan na sy familie en na die grond wat aan sy voorvaders behoort het.

42. Want die Israeliete is my dienaars wat Ek uit die land Egipte gebring het. Jy mag nie ’n Israeliet verkoop soos jy ’n slaaf verkoop nie.

43. Jy moenie kwaai regeer oor ’n ander Israeliet nie, jy moet jou God respekteer.

44. “Jy mag slawe en slavinne koop van die ander volke rondom julle

45. en ook van die bywoners, die vreemdelinge by julle, en van hulle families wat in julle land gebore is. Julle mag slawe hê wat julle so gekry het,

46. en julle kinders mag die slawe erf en hou so lank soos hulle lewe. Julle mag slawe hê wat julle so gekry het, maar julle mag nie kwaai oor ander Israeliete regeer nie.

47. ’n Vreemdeling of ’n bywoner by julle het miskien genoeg geld, of ’n Israeliet word miskien so arm dat hy homself moet verkoop aan die vreemdeling of sy familie.

48. Dan mag iemand die Israeliet loskoop. Een van sy broers moet hom loskoop,

49. of sy oom of sy neef of ’n ander familielid moet hom loskoop, of as hy dit self kan doen, dan mag hy dit doen.

50. Hy en die man wat hom gekoop het, moet tel hoeveel jare dit is vandat hy homself verkoop het en soos ’n dagloner vir die man gewerk het, tot die Hersteljaar, en dan moet hy betaal om vry te word.

51. As dit baie jare is tot die Hersteljaar, dan moet hy baie betaal om vry te word.

52. As daar nie baie jare oorbly tot die Hersteljaar nie, dan moet hy net betaal vir elke jaar.

53. Hy moet wees soos ’n dagloner wat in daardie jare vir die vreemdeling gewerk het. Jy moet kyk dat die vreemdeling nie hard regeer oor die Israeliet nie.

54. As iemand hom nie losgekoop het voor die tyd nie, dan moet hy en sy kinders vry word in die Hersteljaar.

55. Dit is wat julle moet doen, want die Israeliete is my dienaars, Ek het hulle uit die land Egipte gebring. Ek is hulle God die Here.”