hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 26 Bybel vir Almal (ABA)

Die priesters en profete wil hê Jeremia moet sterf, maar die amptenare sê nee

1. Die Here het met Jeremia gepraat. Dit was kort nadat Jojakim seun van Josia koning geword het van Juda.

2. Die Here het vir Jeremia gesê: “Jy moet op die oop stuk grond by die tempel gaan staan en jy moet praat oor al die mense wat uit die stede van Juda kom om in die tempel te bid. Jy moet vir hulle alles sê wat Ek vir jou sê, jy moenie party woorde los nie.

3. Miskien sal die mense gehoorsaam wees en hulle lewe verander en nie meer slegte dinge doen nie. As hulle gehoorsaam is, dan sal Ek hulle nie straf oor die slegte dinge wat hulle gedoen het nie.

4. “Jy moet vir hulle sê: Die Here sê: Julle moet gehoorsaam wees aan My en julle moet doen wat Ek vir julle gesê het.

5. Julle moet luister na wat my dienaars, die profete, vir julle gesê het. Ek het aangehou om hulle na julle toe te stuur, maar julle het nie geluister nie.

6. As julle nie luister nie, dan sal Ek dieselfde met hierdie tempel doen wat Ek met die tempel in Silo gedoen het. En al die volke op die aarde sal hierdie stad se naam noem wanneer hulle ander volke wil vervloek.”

7. Die priesters en die profete en al die mense van Jerusalem het gehoor toe Jeremia hierdie dinge in die tempel gesê het.

8. Toe hy alles klaar gesê het wat die Here vir hom gesê het om vir al die mense te sê, het die priesters en die profete en al die mense hom gegryp en gesê: “Jy moet sterf. Dit is seker.

9. Hoekom sê jy die Here het jou gestuur om te sê hierdie tempel sal afgebreek word soos die tempel in Silo en hierdie stad sal ’n hoop klippe word waar niemand woon nie?”Al die mense het bymekaargekom in die tempel en hulle was téén Jeremia.

10. Die amptenare van Juda het gehoor wat gebeur het, en hulle het uit die paleis na die tempel gekom. Hulle het gaan sit in die Nuwe Poort van die tempel.

11. Die priesters en die profete het toe vir die amptenare en vir al die mense gesê: “Hierdie man moet sterf, want hy sê die Here het hom gestuur om slegte dinge teen hierdie stad te sê. Julle het dit self gehoor.”

12. Jeremia het vir die amptenare en vir al die mense gesê: “Die Here hét my gestuur om alles teen hierdie tempel en hierdie stad te sê wat julle gehoor het.

13. En nou moet julle reg lewe en goeie dinge doen en gehoorsaam wees aan julle God. As julle dit doen, dan sal die Here julle nie straf soos Hy gesê het nie.

14. En ek, hier is ek, en julle mag nou besluit oor my, julle moet met my doen wat julle dink is goed en reg.

15. Maar julle moet dit baie goed besef, as julle my doodmaak, dan maak julle ’n onskuldige man dood. En dan sal die Here hierdie stad en sy mense straf, want Hy het regtig vir my gestuur om vir julle al hierdie dinge te sê.”

16. Die amptenare en al die mense het toe vir die priesters en die profete gesê: “Ons mag nie hierdie man doodmaak nie, want ons God die Here het hom gestuur om met ons te praat.”

17. Daarna het party van die leiers opgestaan en vir al die mense in die volksvergadering gesê:

18. “In die tyd toe Hiskia koning van Juda was, het die profeet Miga van die stad Moreset ’n boodskap van die Here gebring en hy het vir al die mense van Juda gesê: ‘Die Here wat oor alles regeer, sê: Die vyande sal Jerusalem omploeg soos ’n mens ’n stuk grond omploeg. Jerusalem sal net hope klippe wees, en die berg waar die tempel nou staan, sal vol bosse wees.’

19. “Koning Hiskia van Juda en al die mense van Juda het toe nie vir Miga doodgemaak nie. Nee, die koning het die Here gedien en hy het tot die Here gebid om genadig te wees. Toe het die Here sy besluit verander, Hy het hulle nie gestraf nie. En ons? Ons is nou besig om dinge te doen waaroor ons baie swaar sal kry.”

Koning Jojakim maak die profeet Urija dood

20. Maar daar was nog ’n man wat ’n boodskap van die Here gebring het. Dit was Urija seun van Semaja van die stad Kirjat-Jearim. Hy het soos Jeremia dieselfde dinge gesê teen hierdie stad en hierdie land.

21. Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat hy sê, wou die koning hom doodmaak. Urija het dit gehoor en hy het bang geword en na Egipte gevlug.

22. Maar koning Jojakim het vir Elnatan seun van Akbor en ander manne saam met hom na Egipte gestuur.

23. Hulle het Urija uit Egipte gebring en hulle het hom na koning Jojakim geneem. Die koning het toe vir Urija doodgemaak en hy het Urija se liggaam in die graf van die gewone mense gegooi.

24. Maar Agikam seun van Safan het vir Jeremia beskerm, en daarom kon die mense nie vir Jeremia doodmaak nie.