hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36 Bybel vir Almal (ABA)

Die boekrol

1. Dit was in die vierde jaar nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het. Jeremia het gehoor die Here praat en sê vir hom:

2. “Jy moet ’n boekrol neem en jy moet alles daarop skryf wat Ek vir jou oor Israel en Juda gesê het, van die tyd toe Josia koning was, tot nou toe.

3. Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerde dinge te doen wanneer hulle hoor van al die slegte dinge wat Ek aan hulle wil doen. Dan kan Ek hulle sondes vergewe.”

4. Jeremia het vir Baruk seun van Nerija geroep, en Baruk het alles op die boekrol geskryf wat die Here gesê het. Hy het geskryf wat Jeremia vir hom gesê het.

5. Jeremia het vir Baruk gesê: “Ek is in die tronk, ek kan nie na die tempel gaan nie.

6. Jy moet gaan en jy moet vir die mense alles gaan lees wat jy op die boekrol geskryf het, alles wat ek vir jou gesê het wat die Here gesê het. Jy moet dit op die vasdag lees in die tempel waar die mense jou kan hoor, ook al die mense wat uit die stede van Juda gekom het.

7. Miskien sal hulle vir die Here soebat dat Hy genadig moet wees en miskien sal hulle ophou om verkeerde dinge te doen, want die Here is baie kwaad vir hierdie mense. Hy het gesê Hy sal hulle straf.”

8. Baruk seun van Nerija het alles gedoen wat die profeet Jeremia vir hom gesê het. Baruk het in die tempel alles gelees wat hy op die boekrol geskryf het, alles wat die Here gesê het.

9. Dit was die vyfde jaar nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het, in die negende maand. Al die mense in Jerusalem en almal wat uit die stede van Juda gekom het, het by die tempel bymekaargekom om ’n vasdag te hou.

10. Baruk het alles gelees wat hy op die boekrol geskryf het, alles wat Jeremia gesê het. Dit was in die kamer van Gemarja seun van Safan, by die boonste oop stuk grond waar die mense deur die nuwe poort na die tempel gaan. Al die mense het dit gehoor.

11. Miga seun van Gemarja seun van Safan het alles gehoor wat Baruk uit die boekrol gelees het, alles wat die Here gesê het.

12. Miga het na die paleis gegaan, na die kamer van die sekretaris van die koning. Al die amptenare het daar gesit. Hulle was die sekretaris Elisama, Delaja seun van Semaja, Elnatan, Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja, en al die ander amptenare.

13. Miga het vir hulle alles vertel wat hy gehoor het toe Baruk vir die mense gelees het wat hy op die boekrol geskryf het.

14. Toe stuur die amptenare vir Jehudi seun van Netanja seun van Selemja seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Neem die boekrol waaruit jy vir die mense gelees het, en kom hiernatoe.”Baruk seun van Nerija het die boekrol geneem en hy het na hulle toe gekom.

15. Hulle het vir hom gesê: “Sit asseblief en lees dit vir ons.”

16. En toe hulle alles hoor, het hulle geskrik en hulle het vir mekaar en vir Baruk gesê: “Ons móét vir die koning sê wat jy hier geskryf het, dit is seker.”

17. Hulle het vir Baruk gevra: “Sê asseblief vir ons hoe het jy geweet wat jy alles moet skryf? Het Jeremia dit vir jou gesê?”

18. Baruk het vir hulle gesê: “Ek het die woorde geskryf wat Jeremia vir my gesê het. Hy het vir my alles gesê en ek het dit geskryf in die boekrol wat hy vir my gegee het.”

19. Die amptenare het vir Baruk gesê: “Jy en Jeremia moet gaan wegkruip. Niemand mag weet waar julle is nie.”

20. Die amptenare het na die koning toe gegaan, hy was in die binneplaas. Hulle het die boekrol in die kamer van die sekretaris Elisama laat bly. Hulle het vir die koning gesê wat Baruk in die boekrol geskryf het.

21. Die koning stuur toe vir Jehudi om die boekrol te gaan haal. Jehudi het die boekrol gebring uit die kamer van die sekretaris Elisama en hy het dit gelees vir die koning en vir al die amptenare by die koning.

22. Die koning het in die winterkamer gesit. Daar was ’n vuur in die kaggel. Dit was in die negende maand.

23. Elke maal nadat Jehudi drie of vier stukke klaar gelees het, het die koning dit afgesny met ’n skrywersmes en dan het hy dit in die vuur gegooi wat in die kaggel gebrand het. Hy het aangehou totdat die hele boekrol verbrand was.

24. Die koning en al sy amptenare het nie bang geword toe hulle alles gehoor het nie, hulle het nie hulle klere geskeur nie.

25. Net Elnatan en Delaja en Gemarja het aangehou om vir die koning te sê hy moenie die boekrol verbrand nie, maar hy het nie na hulle geluister nie.

26. Die koning het vir sy seun Jeragmeël en vir Seraja seun van Asriël en vir Selemja seun van Abdeël gesê hulle moet die skrywer Baruk en die profeet Jeremia gaan vang. Maar die Here het vir Jeremia en Baruk weggesteek.

27. Nadat die koning die boekrol verbrand het waarop Baruk die woorde geskryf het wat Jeremia vir hom gesê het, het Jeremia gehoor die Here sê vir hom:

28. “Jy moet ’n ander boekrol neem en jy moet weer alles daarop skryf wat jy op die eerste boekrol geskryf het, die boekrol wat koning Jojakim van Juda verbrand het.

29. En jy moet vir koning Jojakim van Juda sê: ‘Jojakim, jy het daardie boekrol verbrand en jy het gevra: Hoekom het Jeremia op die boekrol geskryf dat dit seker is dat die koning van Babel sal kom en dat hy hierdie land sal verwoes en al die mense en diere sal wegvat?

30. Daarom sê die Here nou oor koning Jojakim van Juda: Niemand van sy nageslag sal op die troon van Dawid sit nie. En sy lyk sal buite lê in die dag wanneer dit warm is en in die nag wanneer dit koud is.

31. Ek, die Here, sal hom en sy nageslag en die mense wat vir hom werk, straf oor alles wat hulle verkeerd gedoen het. En Ek sal al die slegte dinge wat Ek gesê het, met hulle laat gebeur, met hulle en met die mense van Jerusalem en met die mense van Juda. Hulle was nie gehoorsaam nie.’ ”

32. Jeremia het toe ’n ander boekrol geneem en hy het dit vir die skrywer Baruk seun van Nerija gegee. Baruk het alles daarop geskryf wat Jeremia gesê het, alles wat op die eerste boekrol was wat koning Jojakim van Juda verbrand het. Jeremia het nog baie meer van daardie dinge gesê, en Baruk het dit geskryf.