hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32 Bybel vir Almal (ABA)

Mense sal weer stukke grond koop om te plant en te saai in die land Israel

1. Die Here het met Jeremia gepraat. Dit was in die tiende jaar nadat Sedekia koning van Juda geword het, en die agtiende jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het.

2. In daardie tyd het die koning van Babel Jerusalem aangeval van al die kante, en die profeet Jeremia was in die tronk in die binneplaas van die wagte van die koning van Juda.

3. Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar in die tronk gesit omdat Jeremia ’n boodskap van die Here gebring het en gesê het: “Die Here sê: Ek sal die koning van Babel help om die oorlog teen hierdie stad te wen.

4. En koning Sedekia van Juda sal nie kan wegvlug van die Galdeërs nie. Ek sal hom vir die koning van Babel gee, dit is seker. Die koning sal self met Sedekia praat. Hy sal vir Sedekia sien

5. en hy sal hom wegvat na Babel. Sedekia sal daar bly totdat Ek weer oor hom sal besluit. Julle sal oorlog maak teen die Galdeërs, maar julle sal nie wen nie.”

6. Jeremia het gesê: “Ek het gehoor die Here sê vir my:

7. Jou neef Ganamel seun van Sallum sal na jou toe kom en hy sal vra jy moet sy stuk grond in Anatot koop, want jy is sy naaste familielid en jy moet die grond koop.

8. “Alles wat die Here vir my gesê het, het toe gebeur. My neef Ganamel het na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswagte en hy het vir my gesê: ‘Jy moet asseblief my grond in Anatot koop in die land Benjamin, want jy is my naaste familie en jy mag die grond vir jou koop. Jy moet dit vir jou koop.’“Ek het toe geweet dit was die Here wat met my gepraat het,

9. en ek het die grond van my neef Ganamel in Anatot gekoop. Ek het vir hom 17 sikkels silwer daarvoor betaal.

10. Ek het die koopkontrak geskryf. Ek het toe met my seël ’n merk daarop gesit en ek het die getuies se name daarby geskryf. Daarna het ek die silwer op ’n weegskaal geweeg.

11. Ons het alles wat ons besluit het, op die koopkontrak geskryf en my seël-merk was ook daarop. Ek het vir my en vir Ganamel elkeen dieselfde koopkontrak geskryf en toe het ek die twee koopkontrakte

12. vir Baruk seun van Nerija seun van Magseja gegee. My neef Ganamel en al die Judeërs wat daar in die binneplaas gesit het, kon dit sien.

13. Hulle het gehoor dat ek vir Baruk gesê het:

14. ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Jy moet hierdie twee koopkontrakte neem en jy moet dit altwee in ’n kleipot sit sodat dit lank kan hou,

15. want die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Mense sal weer huise en lande en wingerde koop in hierdie land.’

16. “Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid. Ek het gesê:

17. ‘Ag, Here, my Here, U het die hemel en die aarde gemaak met u eie groot krag. Daar is niks wat U nie kan doen nie.

18. U is goed vir duisende mense maar U straf mense oor die sondes wat hulle voorvaders gedoen het. U is die Groot God, die God wat oorlog kan maak, u Naam is Here wat oor alles regeer.

19. U besluit oor belangrike dinge en U doen groot dinge. U sien alles wat mense doen, U kyk hoe hulle gelewe het en wat hulle gedoen het, en U gee vir elkeen wat hy moet kry.

20. U het tekens en wonderwerke gedoen in die land Egipte. Die Israeliete en die ander mense weet dit vandag nog, en almal eer U.

21. U het tekens en wonderwerke gedoen en U het u volk Israel uit die land Egipte gebring met u eie groot krag, en die Egiptenaars het bang geword vir U.

22. U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U belowe het om vir hulle voorvaders te gee. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is.

23. U volk het gekom en hulle het in hierdie land kom woon, maar hulle was ongehoorsaam aan U en aan u wette, hulle het nie gedoen wat U wil hê nie, en daarom het U hulle gestraf.

24. Die Galdeërs maak oorlog teen ons. Kyk, hulle het klaar grond teen die muur gegooi sodat hulle oor die muur kan klim. In die stad is daar hongersnood, en die mense sterf van pes. Alles wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self.

25. Here, my Here, U het vir my gesê ek moet die grond koop en getuies moet dit sien, maar U gee nou die stad vir die Galdeërs.’ ”

26. Die Here het toe vir Jeremia gesê:

27. “Luister, Ek is die Here, die God van al die mense. Ek kan alles doen, niks is onmoontlik vir My nie.

28. Daarom sal Ek vir die Galdeërs en die koning van Babel help om die oorlog teen hierdie stad te wen.

29. Die Galdeërs wat nou oorlog maak teen hierdie stad, sal inkom en hulle sal die stad aan die brand steek. Hulle sal die huise verbrand waar die mense van Jerusalem op die dakke wierook-offers gebring het vir Baäl, en waar hulle drank-offers uitgegooi het vir ander gode om My te terg.

30. Ja, die Israeliete en die Judeërs het vandat hulle jonk was net dinge gedoen waarvan Ek nie hou nie. Hulle het afgodsbeelde gemaak en hulle het My geterg.

31. Hulle het My kwaad gemaak vandat hulle hierdie stad gebou het tot vandag toe, en Ek wil die stad nou laat verdwyn, Ek wil dit nie sien nie.

32. Ek wil dit doen oor al die slegte dinge wat die Israeliete en die Judeërs gedoen het om My te terg, hulle en hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters en hulle profete, die mense van Juda en die mense wat in Jerusalem woon.

33. Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesig nie. Ek het aangehou om vir hulle te leer, maar hulle het nie geluister nie en hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie.

34. Hulle het hulle afgode in die tempel gesit, die tempel wat my Naam het, hulle het die plek ontwy.

35. Hulle het in die Ben-Hinnom-vallei offer-plekke gebou vir Baäl om hulle seuns en dogters daar te verbrand. Ek het nie gesê hulle moet so ’n offer bring nie, Ek het nooit aan so iets gedink nie. Ek haat dit dat die mense van Juda daardie sonde doen.”

36. Maar die Here, die God van Israel, sê nou: “Julle sê Ek sal hierdie stad vir die koning van Babel gee, Ek sal oorlog en honger en pes in die stad laat kom.

37. Luister, Ek was kwaad en baie ontevrede en Ek het die mense van die stad gejaag na al die kante toe. Maar Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande en Ek sal hulle terugbring en hulle veilig laat woon.

38. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39. Ek sal hulle almal saam laat besluit om My altyd te dien en om te lewe soos Ek wil hê, sodat dit goed sal gaan met hulle en hulle kinders.

40. Ek sal ’n verbond met hulle maak vir altyd. Ek sal nie weggaan van hulle nie, Ek sal goed wees vir hulle. En Ek sal hulle harte verander sodat hulle My sal wil dien, en sodat hulle nie sal weggaan van My nie.

41. Ek sal dit geniet om goed te wees vir hulle. Ek sal hulle regtig in hierdie land plant, Ek sal dit doen met my hele hart.”

42. Ja, die Here sê: “Ek het hierdie volk laat swaarkry, net so sal Ek dit met hulle goed laat gaan soos Ek belowe het.

43. Julle sê hierdie land is leeg, daar is nie mense nie, en die Galdeërs het die diere weggevat, maar Ek sê: Mense sal weer hier grond koop.

44. Hulle sal geld betaal en grond koop en koopkontrakte skryf en ’n seël-merk daarop druk en getuies se name daarop skryf. Hulle sal dit doen in die land Benjamin en rondom Jerusalem en in die stede van Juda en in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suid-land, want Ek sal dit weer goed laat gaan met hulle.”Dit sê die Here.