hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 3 Bybel vir Almal (ABA)

Die boodskap vir die gemeente in Sardis

1. “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Sardis skryf: Die Een wat die Sewe Geeste van God en die sewe sterre het, sê:Ek weet wat jy doen. Die mense dink dat jy geestelik lewe, maar jy is geestelik dood.

2. Jy moet wakker word! Daar is party mense wat amper geestelik dood is. Jy moet hulle help om geestelik te lewe, want Ek sien hulle doen nie wat reg is nie, hulle doen nie wat my God wil hê nie.

3. Jy moet die dinge onthou wat jy gehoor het toe jy in My begin glo het. Jy moet weer daardie dinge doen, die dinge wat Ek wil hê jy moet doen. Ja, jy moet wakker word! As jy nie wakker word nie, dan sal Ek na jou toe kom. Ek sal kom soos ’n dief kom, jy sal nie weet wanneer Ek kom nie.

4. Maar daar is party mense in Sardis wat reg lewe, hulle lewe is skoon, dit is soos Ek wil hê hulle moet lewe. Ek is tevrede met hulle en daarom sal hulle saam met My wees, hulle sal wit klere dra.

5. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal jy ook wit klere kry om aan te trek. Ek sal jou naam nooit uitvee uit die boek van die lewe nie. Ja, Ek sal voor my Vader en sy engele sê dat jy aan My behoort.

6. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”

Die boodskap vir die gemeente in Filadelfia

7. “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Filadelfia skryf:Die Heilige doen altyd wat Hy sê. Hy het die sleutel van koning Dawid. As Hy ’n deur oopsluit, dan kan niemand dit toesluit nie, en as Hy iets toesluit, dan kan niemand dit oopsluit nie. Hy sê:

8. Ek weet wat jy doen. Jy is nie sterk nie, maar jy het gedoen wat Ek vir jou sê en jy was nie bang om te sê dat jy aan My behoort nie. Daarom het Ek vir jou ’n deur oopgemaak sodat jy by My kan wees.

9. Daar is mense in julle stad wat sê hulle is Jode, maar hulle lieg, hulle is nie Jode nie. Hulle kom bymekaar in ’n sinagoge, maar dit is die sinagoge van die Satan. Ek sal hulle voor jou laat kniel soos ’n mens voor ’n koning kniel. Hulle sal dan weet dat Ek lief is vir jou.

10. Ek het gesê jy moet geduldig wees wanneer mense slegte dinge doen aan jou omdat jy aan My behoort, en jy was geduldig. Daarom sal Ek jou beskerm. Al die mense op die aarde sal baie swaar kry wanneer Ek hulle sal toets, maar Ek sal jou beskerm.

11. Ek sal gou kom! Jy moet aanhou glo soos jy nou glo! Dan sal niemand jou kan keer nie, jy sal oorwin.

12. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek sê jy mag ’n pilaar wees in die tempel van my God. Ja, jy sal in die hemel wees en jy sal nooit weer daar uitgaan nie. Ek sal my God se Naam op jou skryf en Ek sal die naam van my God se stad, die Nuwe Jerusalem, op jou skryf. Die Nuwe Jerusalem kom van my God, dit kom van die hemel. Ek sal ook my eie nuwe Naam op jou skryf.

13. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”

Die boodskap vir die gemeente in Laodisea

14. “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Laodisea skryf:Die Een wat altyd doen wat Hy belowe, praat met jou, Hy wat altyd die waarheid praat en nooit lieg nie. Hy is die belangrikste, Hy laat alles en almal lewe, almal en alles wat God gemaak het. Hy sê:

15. Ek weet alles wat jy doen. Jy is soos lou water, jy is nie koud nie en jy is ook nie warm nie. Ek wens jy was koud of jy was warm.

16. Ja, jy is soos lou water, nie koud nie en ook nie warm nie. Daarom sal Ek jou uit my mond uitspoeg.

17. Jy dink jy is ryk, baie ryk, jy dink jy het niks nodig nie. Maar jy is verkeerd, jy weet nie dat dit baie sleg gaan met jou nie. Mense moet jammer wees vir jou, jy is soos iemand wat arm en blind is en wat nie klere het nie.

18. Ek wil hê jy moet na My toe kom. Dan sal jy by My ware goud koop en jy sal waarlik ryk wees. Ek sal vir jou wit klere gee, en niemand sal jou kaal liggaam sien nie. Ek sal vir jou salf gee om aan jou oë te smeer sodat jy waarlik kan sien.

19. As Ek lief is vir mense, dan straf Ek hulle en Ek leer vir hulle om die regte dinge te doen. Daarom moet jy begin lewe soos Ek wil hê, en jy moet hard werk vir My!

20. Ja, Ek is soos iemand wat by ’n deur staan en klop. As iemand my stem hoor en hy maak die deur oop, dan sal Ek inkom. Ek sal saam met hom eet, en hy sal saam met My eet.

21. Ek het oorwin en Ek het saam met my Vader op sy troon gaan sit. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou sê jy mag saam met My regeer, jy mag saam met My op my troon sit.

22. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”